Beweging onder die radar wys vorentoe
Rose is rooi, viooltjies is blou en Namibië het steeds geen kans om ’n wedstryd by 2019 se Wêreldbeker-rugbytoernooi te wen nie.
Of so iets, is die konvensionele wysheid.
Ná die vorige wêreldtoernooi in 2015 was die nasionale afrigter Phil Davies die eerste wat openlik Namibië se ambisieuse strewe verklaar het om in elke rugbyjaar tot 2019 een plek hoër op die internasionale ranglys te skuif – met omtrent 15de die mikpunt.
In die werklikheid het dit nog nie begin gebeur nie en bly die land maar in sy gebruiklike 20ste of 21ste plek vassteek. Maar onder die radar is daar tog positiewe aanduiders oor die rigting waarin die plaaslike spel beweeg.
’n Klompie deurslaggewende maande lê egter voor wat maak of breek vir die nasionale span sal wees.
Afrika se hoopvolle kwalifiseerders takel mekaar volgende jaar vir ’n enkele plek by 2019 se Wêreldbekertoernooi in Japan. Dit is reeds bekend dat die Afrika-kwalifiseerder saam met Nieu-Seeland se All Blacks, Suid-Afrika se Springbokke, Italië se Azzuri en kwalifiseerder nommer 20 uit die repechage-rondte gegroepeer sal wees.
Laasgenoemde is die span wat as wenner uit die stryd tree in uitspeelwedstryde tussen die beste ongelukkige span van verskillende vastelande.
In Engeland 2015 was dit juis Uruguay wat op dié manier gekwalifiseer was om een van die 20 uitsoekspanne te wees. Die einste Uruguay kom toer volgende maand vir die eerste maal in die geskiedenis om ’n reeks van twee toetse in Windhoek te kom speel.
Baie sal in die November-blitsreeks op die spel wees en daarom behoort die aankondiging van afrigter Davies se komende spelersgroep besonder insiggewend te wees. In die eerste plek is Uruguay die afgelope jare konstant hoër as Namibië op die ranglys en sulke oorwinnings is die enigste manier om boontoe te beweeg.
Die landskap van beroepsrugby wêreldwyd toon voortdurend verandering en ’n verskuiwing soos die Cheetahs en die Southern Kings se insluiting in die Europese Pro14-liga maak steeds opslae. Dié liga het potensiaal vir verdere groei en die blootstelling wat dit reeds aan ’n paar Namibiese staatmakers gee, kan nie onderskat word nie. Die Cheetahs se voorryman, Aranos Coetzee, en haker, Torsten van Jaarsveld, slyp hul vaardighede hier en hul vordering is belowend om sterre in 2019 te wees.
Uiteraard is Superrugby, die Pro14 en die Engelse en Franse ligas die vernaamstes wat in die sport se professionele struktuur bestaan, en hoe meer van ons spelers op sulke vlakke deurbreek, hoe beter.
Dit is inderdaad ongelukkig dat Suid-Afrika se ewe tradisieryke Curriebeker nie meer heeltemal dieselfde glans as tevore handhaaf nie – grootliks omdat die buurland se jonger topspelers toenemend met behulp van gunstiger wisselkoerse weggerokkel word. Nogtans bly dit ’n teelaarde vir briljante spelers wat op enige plek kan kompeteer.
Die groeiende selfvertroue wat die Namibiese amateurspan, die Windhoek Draught Welwitschias, vanjaar met hul beduidend stewiger vertonings in die Curriebeker eerste liga begin uitstal het, is die beste moontlike nuus waarvoor ondersteuners kon vra.
Namibië se laaste Wêreldbekergroep was omtrent eweredig uit drie bronne afkomstig – professionele spelers wat by Suid-Afrikaanse unies óf Europese klubs (Engeland, Frankryk en Roemenië) gekontrakteer is, of die beste plaaslike manne wat in 2015 maar weinig meer ondervinding as daai eerste, traumatiese terugkeerseisoen van Vodacombeker-rugby kon wys.
Die ouer garde sal nooit vergeet hoe die formidabele Namibiese span van 1988 tot 1991, gelei deur Gerhard Mans as kaptein en oom Henning Snyman as afrigter, se grondslag gelê was deur harde, eerlike werk om vanuit die laer vlakke van die SA provinsiale struktuur hul pad boontoe oop te speel nie.
Hopelik is ons besig om dieselfde verskynsel te sien gebeur, met die ontwikkeling van tuisgebroude wedstrydwenners wat vir geen duiwel terugdeins nie.
Die internasionale blootstelling van die o.20-talent is op sigself ’n bewese trapklip en ’n sterk teken dat Namibië in 2019 én 2023 saam met die groot honde kan blaf.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie