Boekhouer skuldig aan bedrog

Uitspraak is Donderdag gelewer in die saak van twee rekenmeesters wat daarvan beskuldig is dat hulle geld uit hul werkgewer se bankrekening aan hulself oorbetaal het.
Jacqueline Louw
Jacqueling Louw - ’n Bedrogsaak wat meer as vyf jaar in die Mariental-landdroshof gesloer het, het verlede Donderdag tot ’n einde gekom toe Madelein Kirsten skuldig bevind is aan drie klagte van bedrog.

Landdros Anna Matroos het Kirsten tot twee jaar gevangenisstraf, wat in die geheel opgeskort is vir ’n tydperk van vyf jaar, gevonnis met die voorwaarde dat sy haar nie weer aan dieselfde misdryf skuldig maak nie. Die landdros het verder beveel Kirsten moet ’n totale bedrag van N$8 600 ten opsigte van al drie klagte by die landdroshof tot voordeel van die klaer, mnr. Max Meyer, inbetaal.

Die saak teen mnr. Gideon Kirsten is deur die landdros teruggetrek aangesien (Madelein) Kirsten verantwoordelikheid aanvaar het vir al die klagte van bedrog wat teen die egpaar in dié saak aanhangig gemaak is.

“Madelein was dapper om op haar eie skuld te erken en gevolglik ’n rekord te hê,” het Meyer ná die vonnisoplegging gesê.

Dié saak, wat in 2012 deur Meyer teen Kirsten en haar man, mnr. Gideon Kirsten, aanhangig gemaak is, spruit uit bedrae geld wat Kirsten en haar man uit die rekenkundige firma, Namib Finansiële Adviesdienste, se rekening aan hulself oorbetaal het. Dié firma het eers aan Meyer behoort en is op 1 Maart 2009 deur die Kirstens oorgeneem. Dit staan sedertdien as Namib Accounting Services BK bekend.

Die Kirstens het Augustus 2009 ’n skulderkenning aan Meyer ten bedrae van N$863 000 geteken.

Meyer, eertydse eienaar van Namib Finansiële Adviesdienste, het Republikein meegedeel dat die onttrekkings uit sy rekening deur die paartjie aan die lig gekom het met ’n ondersoek na ’n ander bedrogsaak, waar die Kirstens kliënte se terugbetalings van die Ontvanger van Inkomste af glo vir hulself toegeëien het.

Hierdie saak met ’n eis van nagenoeg N$4 miljoen is nog nie afgehandel nie, maar volgens Meyer is N$2 miljoen daarvan reeds verhaal.

Volgens Meyer was hul werkswyse om tjeks van kliënte wat deur die minister van finansies terugbetaal is, óf by die bank te wissel óf in hul persoonlike bankrekeninge in te betaal.

Nóg ’n kliënt wat ook ’n skikkingsooreenkoms met die Kirstens aangegaan het vir terugbetaling van N$354 000, het gesê hulle het glo die helfte daarvan terugbetaal, waarna die betalings gestaak is.

“Die helfte van die geld wat ek teruggekry het, moes ek aan prokureurs betaal," het mnr. Johan Voges aan Republikein gesê.

Oor die Kirstens se vonnis het hy gesê: “Hulle het basies skotvry daarvan afgekom en gaan met hul praktyk voort.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!