Boere bestry brand saam

Die vuur is deur die sterk wind deur drie plase suidwes van die Omatako-koppe aangeblaas.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg – Danksy die omliggende gemeenskappe se vinnige reaksie op ’n brand wat Dinsdag op plase aangrensend aan Erindi Private Wildreservaat uitgebreek het, is die vuur omstreeks 20:00 geblus.
Volgens ’n boer het die brand Dinsdagmiddag vermoedelik weens kolebrandery op die grens van Okosongutu- Suid ontstaan en daarna na die plase Vastrap en Gesondheid versprei, waarna dit op Heldewag geblus is. Die plase is wes van die B1-hoofweg 16 km suidwes van die Omatako-koppe geleë.
“Die gemeenskap het so mooi saamgestaan om die brand te blus. Hier was tussen 20 en 30 voertuie en wildbesigtigingsvoertuie van N/a’an ku sê met ten minste 120 mense wat kom help het,” het me. Alet Wittmann van Vastrap gesê.
“Die omgee en die menswees van die gemeenskap was ongelooflik.” Mnr. Christo Vermeulen van Heldewag sing lofsange oor Erindi se “kookwaterspan” wat kom help het.
“Ek is so dankbaar en trots daarop om deel van die gemeenskap te wees.” Mnr. Paul Joubert van Erindi sê hul brandweerspan is uitgestuur om die vlamme in die sterk wind te blus en het selfs deur die nag nog grensdrade gemonitor om te kyk of die vuur nie weer opvlam nie.
Wittmann sê die rookwolke is net na 14:00 by Vastrap deur hul plaaswerkers opgemerk. “Ons het Erindi gebel wat so 50 km vanaf Vastrap geleë is en toe ek weer sien, kom hier net bakkies en wildbesigtigingsvoertuie vol mense aan.
“Party mense spuit die vlamme dood, ander slaan vuur. Ek kon net van my huis af sien hoe die rook minder word.”
Wittmann sê hekke is oopgemaak en drade is geknip sodat die diere voor die vlamme kon vlug. “Ons het gelukkig geen diereverliese nie. Ons beeste loop nou net deurmekaar, maar dit kan ons tussen ons uitsorteer.”
Sy sê Vastrap het die minste brandskade gehad, maar sy weet nog nie presies hoeveel weiding afgebrand het nie.
Me. Adri Erasmus van Gesondheid sê sowat 1 500 hektaar weiding het op haar plaas afgebrand en geen dooie diere is opgemerk nie.
“Ek het my weiding gespaar wat so mooi in die vier groot kampe was, maar ek behoort darem genoeg weiding te hê om deur te trek.
Vermeulen sê die brand het Heldewag omstreeks 15:00 bereik.
“Die wind het verskriklik gewaai en die vlamme het gespring.”
Hy sê die helfte van sy plaas het kol-kol afgebrand en hy is bekommerd of hy genoeg weiding vir sy bees tot die reënseisoen sal hê.
“Ek het sowat 600 mm reën in die afgelope reënseisoen gehad teenoor die vorige seisoen se skrale 62 mm.” Vermeulen het al gisteroggend begin drade regmaak en bees begin uitsorteer.

- [email protected]


FOTO’S:

Die brand het Dinsdag deur drie plase 16 km suidwes van die Omatako-koppe gewoed. Foto’s verskaf



Prof. Morgan Hauptfleisch, hoof van die Biodiversiteit-navorsingsentrum van die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (NUST), sê die Modis- en VIIRS-satelliete het Dinsdag die vlamme van die brand naby Erindi opgetel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!