Bome in Namibië deur Luise Hoffmann: Die worsboom (deel 1 van 2)
Die mees opvallende kenmerk van die worsboom (Kigelia africana, Familie: Bignoniaceae) is die dik, lang, silindriese vrugte wat aan lang stele uit die kroon hang of onder die boom lê en uitdroog.
Ewe opvallend is die groot, dieprooi of rooibruin, breë trompetvormige blomme wat neerhangende pluime vanaf September tot Oktober vorm.
Name
E. Sausage tree; D. Leberwurstbaum; Gc. Uvunguvungu; Lo. kayungula, mupungopungo - (vandaar die plekname Vunguvungu en Mpungu in Kavango). Die genusnaam Kigelia is afgelei van “kigeli-keia” – nog ’n inheemse naam, terwyl africana daarop dui dat hierdie boom slegs in Afrika voorkom.
Die worsboom kom langs die Okavango, vanaf Nkurenkuru en verder ooswaarts in die Zambezistreek, voor. Dit word met sukses in tuine aangeplant.
Een mooi worsboom groei oorkant die gebou van die Nasionale Raad (foto) langs die Tintenpalast en nog een langs die ministerie van verdediging in Sam Nujoma-rylaan in Windhoek. Dit word ook in die botaniese tuin in Windhoek aangetref.
Hierdie enkelstammige boom met ’n breë, digte, veelvertakte kroon bereik hoogtes van 15 m. Die gryserige stam is meestal glad of fyn gegroef en die bas van ou bome skilfer in ronde plaatjies af. Die growwe blare voel baie hard. Hulle is onewe geveerd met 3 tot 5 paar blaartjies en een aan die voorpunt. Die onderste blaartjies is duidelik kleiner as die res. Die blare groei meestal in groepe van drie aan die punte van die takke. Aan die bokant is hulle geelgroen en onderkant liggroen. Nuwe blare is rooibruin.
Die trompetvormigge blomme kan tot 15 cm in deursnee bereik. Hulle is dieprooi of rooibruin met geel are aan die buitekant en versprei ’n effens onaangename geur.
Die opvallende grysbruin vrugte word tot 1 m lank, tot 18 cm in deursnee en weeg tot 10 kg. Dis dus nie raadsaam om onder ’n worsboom te kampeer nie, want die vrugte kan enige tyd van die jaar uit die boom val. Hul langwerpige sade word deur ’n veselagtige massa omhul. Ryp vrugte kan vir maande onder die boom lê, voor dit vergaan.
Dit is opvallend dat die vrugte van die worsbome in Windhoek nooit langer as 20 tot 30 cm word nie. Aanvanklik is daar vermoed dat die blomme nie bestuif word nie, aangesien die groot vlermuise van die Noorde nie hier voorkom nie. Navorsing het egter bewys dat die sade wel ontkiem en groei. Die blomme word waarskynlik ook deur ander agente bestuif.
In sy dagboek beskryf David Livingstone ’n reusagtige worsboom waaronder hy gekampeer het net voor hy die Victoriavalle ontdek het. Die huidige dorp Kazungula, waar Botswana, Zambië, Zimbabwe en die Caprivi bymekaar kom, is na hierdie boom vernoem, want ’n Lozi-naam vir die worsboom is “kayungula”. Veronica Roodt se boek Trees of the Okavango Delta, waaruit die inligting oor Kazungula kom, stel dit nie duidelik of hierdie einste worsboom nog steeds daar staan nie.
Aanplant
Met sy groot, digte kroon, kleurvolle blomme en ongewone vrugte is die worsboom baie aantreklik vir groot tuine, parke en strate in rypvrye gebiede met baie water. Indien die boompies gedurende die eerste twee tot drie jaar teen koue wind beskerm word, aard hulle ook in koeler streke.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie