Bonusmark-roomys en Riviera Foods se 'popcorn'
Henriette Lamprecht - Reeds maande tevore is die Riviera Foods-katalogus nadergetrek om vir die kampvakansie by die see koekies en popcorn te bestel.
Die verskillende soorte koekies was in 'n groot boks en is met die aankoms in Otavi reeds in die Sprite-karavaan gebêre. Onder die opligdeksel van die slaapbank en saam met die beige emmer met die bruin deksel vol verskillende soorte popcorn. Soet en sulke gelerige, sout popcorn.
Ek onthou veral die koekies wat soos skerpblaarblommetjies of sterretjies gelyk het. Met 'n kersie in die middel en wat geproe het soos 'n koekie wat te lank in 'n boks of 'n plastiekhouer vasgekeer was. As jy moeg was van heeldag se branders en son trotseer, het jy die plastiekkoekie met smaak met soet tee afgesluk. Die koeldrank was 'n groot blik lemoenstroop wat jy met water aangemaak het en wat tydens 'n vakansie oorkant die rivier by die Cresta-inkoopsentrum in Johannesburg nog gekoop is. So soet was die lemoenstroop se soet dat jou kiewe maklik vir 'n uur op 'n knop trek, sou jy jou misgis het met te veel vingers stroop en te min vingers water.
Die Steri Nappi-emmers, twee, het ook 'n plek in die Sprite gekry. Dit was volgepak met oupa Lag se toebehore vir visvang – van katrol tot die spesiale lap om aashande mee af te vee.
Saam onder die opligdeksel van die twee slaapbanke in die Sprite was die hopie boeke. Vir Ouma Vlam 'n versameling soentjieboeke wat sy as deel van haar maandelikse versending van die boekklub gebêre het sonder om te lees. Ena Murray, Ettie Bierman en Toek Blignaut was gunstelinge. As daar iewers nog 'n plek was vir 'n sagteband-Barbara Cartland, dan is dié ook ingepak. My leesboeke as ek nie Ouma Vlam se soentjieboeke nadergetrek het nie, was enige maandelikse treffer uit die Daan Retief-boekklub. Benewens speelkaarte moes die Boereplaas en Monopoly ook saam.
Oupa Lag se visstok is reeds maande voor die groot pak uitgehaal, die katrol geolie en die vistrommeltjie reggepak en gekyk of daar nog 'n hoek of 'n sinker in was. Was daar nie in die trommel die nodige hoek, sinker en rekgare nie, is 'n lysie gemaak om met aankoms by die see by die naaste viswinkel te gaan aanklop. Otavi se viswinkel het so ver gestrek soos die Portugees wat vis-en-tjips toegedraai in bruinpapier verkoop het.
Die Sprite se blou-en-rooi tent is in die voortuin op die gras opgeslaan om te kyk of alle tentpenne en pale reguit en reg vir plant is. Byvoorbaat afgespuit en uitgevee om die vorige Kersfees by die see se mis en sout en sand in Otavi te los. Die teken dat die vakansie nou baie naby was, was wanneer oupa Lag die Chevrolet agteruit in die erf in die rigting van die Sprite gestuur het. Met moeite is die Sprite aan die Chevrolet gehaak, dan na die agterkant van die karavaan gehardloop om as oupa Lag skree 'links!”, te kyk of die linkerkantse agterste flikkerlig werk. So ook regs en natuurlik die remligte.
Van slaap was daar min sprake die aand voor die groot vertrek en vroegoggend is in die pad geval Swakopmund toe. Voor by ouma Vlam se bene was die Thermos-fles vol koffie en die padkosbak vol frikkadelletjies, kookeiers en hoenderboudjies. Dié is sommer in die ry geëet sonder om by 'n tafel-en-stoeltjies langs die pad te stop. Wanneer die see die eerste keer sigbaar op die horison was en die koel seelug wat sout op jou tong proe die kar binnewaai, het jy geweet - uiteindelik is die sorgelose son-en-see dae met stranddienste in die dag en saans kabeljou braai op die gasbraaier of Noorde-tjoppies op die vuur uiteindelik hier. Die kersie op die koek - Bonusmark se draairoomys, Cafe Treff se kaasbrötchen en Cafe Anton se swartwoudkoek.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie