Boris wou in EU bly: Rubriek
Boris wou in EU bly: Rubriek

Boris wou in EU bly: Rubriek

Het argumente vir en teen Brexit aangevoer
Estelle de Bruyn
Die Britse minister van buitelandse sake, Boris Johnson, het volgens die Britse koerant Sunday Times twee rubrieke geskryf – een vír en een téén Brexit, om sy denke oor die kwessie uit te klaar.

Sy “bly”-rubriek voer aan Brittanje moet met die EU betrokke bly, dit waarsku teen ''n ekonomiese skok as Brittanje die EU sou verlaat, en meen Brittanje se ledegeld aan die EU is ''n klein prys om te betaal vir toegang tot die Europese mark.

Dié argumente weerspreek al sy argumente wat hy in sy veldtog gemaak het en steeds maak.

Johnson sê die rubriek waarin hy Brittanje se volgehoue lidmaatskap van die EU bevorder, was half en half ''n parodie om sy standpunt te help bevestig dat die land beter daaraan toe sal wees om hom aan die EU te onttrek.

“Dit is waar dat ek in Februarie met die vraag gestoei het soos baie ander mense in die land,” het Johnson aan Sky News gesê.

Besluit ten gunste van Brexit

Hy het bygevoeg hy het die ­pro-EU-rubriek geskryf nadat hy ''n lang stuk geskryf het wat ­oorweldigend ten gunste van Brexit is. “Ek het die twee stukke langs mekaar gesit en dit was duidelik wat die regte ding was om te doen, en ek dink die mense het die regte besluit geneem. Hulle het oorweldigend gestem om die EU te verlaat en dit is wat ons gaan doen.”

Sunday Times het dele van die rubriek wat in Februarie geskryf is, as ''n voorblad-artikel gepubliseer wat laat Saterdagaand uitgereik is.“Hierdie is ''n mark op ons voorstoep, gereed vir verdere benutting deur Britse maatskappye.

“Die ledegeld lyk eintlik min vir al daardie toegang. Hoekom is ons so vasbeslote om ons rug daarop te draai?” het hy volgens Sunday Times in die rubriek geskryf.

Johnson het gesê die geld kan beter bestee word as dit aan Brittanje se nasionale gesondheidsdiens gegee sou word. Tydens die veldtog het Johnson deur die hele Brittanje gereis in ''n bus met ''n slagspreuk daarop wat uitwys dat Brittanje weekliks £350 miljoen aan die EU stuur. Dis ''n syfer wat deur kenners as onakkuraat bestempel word.

Voordat hy minister van buitelandse­ sake geword het, was Johnson vir baie jare meer bekend vir sy kleurvolle taal, deurmekaar hare en talent vir komedie, as vir sy skerp oog vir beleidsbesonderhede. Hy is die seun van ''n senior EU-amptenaar wat in Brussel grootgeword het, en in die vroeë 1990''s as joernalis bekendheid verwerf het.

Omstrede persoonlikheid

Gewild vir sy sjarme en eksentrisiteit, het Johnson verwag om David Cameron as Britse premier op te volg ingeval daar ten gunste van Brexit gestem word.

Cameron was aan die stuur van die veldtog om in die EU aan te bly en het ná die referendum vroeër vanjaar bedank. Johnson het egter teen ''n premiersveldtog besluit nadat Michael Gove, ''n minister en vennoot in die Brexit-veldtog, hom op die nippertjie verraai en self as premierskandidaat gestaan het.

Theresa May het uiteindelik die premierspos gekry, Gove is afgedank en Johnson het minister van buitelandse sake geword, ''n aanstelling deur May wat konsternasie in sommige Europese hoofstede veroorsaak het.

Nadat Johnson gesê het dis snert om te sê daar is ''n verband tussen die EU se beginsel van vrye beweging en toegang tot sy mark, het Franse en Duitse ministers hom die kop gewas en gesê hulle sal aan hom ''n eksemplaar van die betrokke verdrag stuur of die punt in Engels aan hom verduidelik. -Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!