Borskanker: Wat jy moet weet
Dr. Justus Apffelstaedt, ’n spesialis-chirurg met ’n spesifieke belangstelling in die bestuur van bors-, skildklier- en byskildkliergesondheid, deel die jongste inligting oor borskanker.
Is daar ’n verband tussen voorbehoedmiddels en ’n verhoogde risiko van borskanker?
Enige vorm van hormonale manipulasie wat progesteroon bevat, hetsy mondelikse voorbehoedmiddels, intra-uteriene (IUD) apparate of postmenopousale hormoonvervangingsterapie verhoog die risiko van borskanker. Die biologiese verduideliking is ingewikkeld, maar basies behels dit dat progesteroon sekere seltipes in die borsweefsel vermeerder en stimuleer, wat kanker kan veroorsaak.
Watter rol (indien enige) speel vetsug in borskanker?
Vetsug is een van die belangrikste faktore in die verhoogde voorkoms van borskanker. Vetsug is veral skadelik in postmenopousale vroue waar studies deurlopend gewys het die risiko vir borskanker in dié vroue hou direk met hul liggaamsmassa-indeks (BMI) verband. Vir vroue met ’n BMI hoër as 35 kan dit met tot 70% verhoog teenoor vroue met ’n normale gewig. Omdat meer en meer mense wêreldwyd vetsugtig is, verklaar dit die vinnige styging in die voorkoms van borskanker wêreldwyd.
Wanneer moet jy oor geswelde kliere bekommerd wees? Wat as jy nie ’n knop het nie, maar een klier is heeltyd geswel en seer?
Ek neem aan die verwysing is na kliere in die oksels. Kliere swel in die algemeen weens ‘n verskeidenheid redes en meestal is dit nie kankerverwant nie. Indien ’n klier agter vir meer twee weke geswel is, besoek jou dokter.
Word kunsmatige intelligensie (AI) in die behandeling van borskanker gebruik en hoe?
Die vraag is moeilik omdat soveel verskillende areas by borskanker betrokke is. Dit sluit byvoorbeeld die vervaardiging van nuwe medikasie deur farmaseutiese maatskappye in. Ek is seker AI is betrokke by die voorspelling van watter middels teengewas-aktiwiteit toon. Die vertolking van beelde met nuwer modaliteite soos tomo-mammografie, outomatiese skandering van borsvolume en MRI’s genereer soveel beelde dat dit menslik moeilik raak om dit binne ’n redelike tyd akkuraat te ontleed. Hier kan AI ook aangewend word. Die ontleding van kliniese proewe is nog ’n voorbeeld.
Watter rol speel ’n familiegeskiedenis van borskanker in die diagnose van nuwe kankers? Moet iemand met ’n familiegeskiedenis vir genetiese toetse gaan?
’n Familiegeskiedenis van borskanker is ’n belangrike merker vir ’n verhoogde risiko vir borskanker. Die oorgrote meerderheid borskankers is egter nie oorerflik nie. Die regte manier om dit aan te pak is om met ’n mediese praktisyn met ’n spesiale belangstelling in kankergenetika te praat. Wees voorbereid vir die afspraak – bring ’n volledige familiegeskiedenis saam. Veral die tipe kanker en ouderdom van die familielid met ’n diagnose is belangrik.
Sou die genetiese toetse positief wees vir die BRCA1/2-geen – wat is die beste pad vorentoe?
Dit is belangrik om te verstaan alle “kankergene” (met borskanker is daar 19, waarvan BRCA1- en -2 net twee is) is in alle mense teenwoordig. Dit is net wanneer hierdie gene muteer sodat dit nie normaal funksioneer nie dat die risiko vir borskanker styg. Afhangende van die spesifieke geen wat ’n mutasie dra wat siekte kan veroorsaak, is die risiko vir ander kankers gewoonlik ook verhoog. Vir mutasies wat siekte veroorsaak in die BRCA 1- en 2-gene is die risiko van eierstok-, kolon-, pankreas- en prostaatkankers verhoog. Die veld van borskankergenetika het die afgelope paar jaar geweldig uitgebrei en ietwat ingewikkeld geraak. Die bestuur van kankerrisiko in pasiënte met ’n geenafwyking wat siektes kan veroorsaak, is afhanklik van ’n reeks faktore naamlik die ouderdom van die pasiënt, haar fisiologiese status, haar anatomie, haar persoonlike kankergeskiedenis al dan nie, watter spesifieke geen betrokke is, watter ander kankers deur die geenafwyking veroorsaak kan word, die familiegeskiedenis ens. Dit is maar ’n paar van die faktore wat ons in ag neem alvorens ons ’n risikobestuursplan vir die pasiënt saamstel.
Is ’n mastektomie altyd ’n gegewe of is borsbehoudende chirurgie ’n opsie? In sowat die helfte van pasiënte met borskanker is die behoud van die bors veilig en moontlik. In die ander helfte waar ’n mastektomie aangedui is, behoort die pasiënt ’n rekonstruksie tydens dieselfde operasie te kry. In ons praktyk sal sowat 85% van vroue vir wie ’n mastektomie nodig is, onmiddellike rekonstruksie in dieselfde sessie as die mastektomie kry. In die res van die gevalle is dit óf anatomies nie moontlik nie, óf die pasiënt is te swak, óf sy verkies om nie ’n rekonstruksie te hê nie.
Van watter ouderdom af behoort vroue vir ’n mammogram te gaan?
Van 35 en ouer styg die risiko vir borskanker skerp. Van 40 en ouer is die toetsing vir borskanker in die sweet spot tussen hoë voorkoms, tegniese opspoorbaarheid, finansiële bekostigbaarheid en maksimumvoordeel sou dit vroeg opgespoor word.
Maak borsinplantings dit moeilik om borskanker op te spoor?
Ja, spesiale tegnieke moet in mammografie gevolg word om kanker in borste met inplantings op te spoor. In dié borste sal kanker meestal opgespoor word voor die vrou ’n knop voel. Opsporing is effens swakker as in borste wat nie vergroot is nie.
Is ’n sonar nie ’n beter opsie vir ’n vrou met klein, fibrositiese borste nie?
Nee, vroeë borskanker manifesteer hoofsaaklik op twee maniere: Eerstens deur mikroverkalkings wat relatief maklik is om op ’n mammogram te sien, maar moeilik met ’n sonar sigbaar is. Tweedens, ’n digtheid in sagte weefsel word makliker met ’n sonar as met ’n mammogram opgespoor. Laasgenoemde is veral van toepassing in fibrositiese, digte borste. Sonars gekombineer met mammografie spoor sowat 20% tot 30% meer vroeë kankers op as mammografie alleen. Dit is dus beter om beide te gebruik.
* Die Amerikaanse Kankervereniging se riglyne ten opsigte van die aanvangsouderdom vir borskankertoetsing is van 40 na 45 verhoog en ook verleng na elke twee jaar van 55 af. Is dit riglyne wat ook in Afrika gevolg gaan word?
Daar is geen algemeen aanvaarde riglyne wat gevolg moet word in Afrika vir die toetsing van borskanker nie omdat die organisatoriese en finansiële hulpbronne nie beskikbaar is nie. Lande soos Egipte en Tunisië het toetsingsprogramme van ’n onbekende gehalte wat aktief is, maar dit is ver verwyder van die goedgeorganiseerde programme wat algemeen in Europese lande en Australië gevolg word. Daar is geen openbare toetsingsprogram in Amerika
(VSA) nie en uit die beskikbare, skaars data is dit my mening dat mammografiese sifting vir borskanker in die VSA van swak gehalte is en die beperkende riglyne verklaar. Die Suid-Afrikaanse departement van gesondheid ondersteun nie openbare mammografiese borskankertoetsing nie, maar ondersteun borskankerbewusmaking en fisieke borsondersoeke.
Vir vroue wat mammografiese toetsing in Afrika kan bekostig, is die jaarlikse voorstel vir sifting van 40 af redelik en behoort dit deur die beste toegewyde borssentrums uitgevoer te word. Volgens ’n opname deur gesondheidsversekeraars in Suid-Afrika het net een uit drie vroue wat die ouderdom vir toetsing bereik het, in die laaste 12 maande ’n mammogram gehad.
Hoekom kan vroue van 55 jaar af elke twee jaar vir ’n mammogram gaan?
In ouer, postmenopousale vroue word die borsweefsel toenemend minder dig en kankers word makliker opgespoor. Hul oorlewing is ook skraler as dié van jonger vroue weens die algemene hoofoorsake van sterftes sodat die impak van toetsing vir hul oorlewing van borskanker minder en minder raak. Hoe ouer die vrou raak, hoe algemener raak borskankertipes wat stadig groei en maklik behandel kan word. Daar is ’n teorie dat hoe langer die tydperk tussen mammogramsiftings is, hoe meer word “interval kankers” opgespoor. Die opgespoorde kanker is groter, meer limfkliere is betrokke en die prognose is slegter. Natuurlik is dit goedkoper om elke twee jaar in plaas van jaarliks vir sifting te gaan.
Wat is mammografie se beperkings?
Die belangrikste beperking is mammografie kan die teenwoordigheid van borskanker aandui, maar kan dit nie uitsluit nie. Dit is bloot ’n swart-en-wit beeld waaruit ons ’n kans vir die teenwoordigheid van kanker kan aflei en indien nodig, tot verdere ondersoeke oorgaan. ’n Kankerdiagnose vereis dat weefselmonsters geneem en deur ’n patoloog ondersoek word. Dit beteken ’n knop moet ondersoek moet word en ’n biopsie moet daarvan gedoen word ondanks wat die mammogram oplewer. ’n Verdere beperking is borsdigtheid. Ander beperkings sluit in vroue se weerstand teen mammografie. Selfs in goed georganiseerde toetsingsprogramme gaan net 80% van vroue wat uitgenooi word wel vir ’n mammogram, maar in die algemeen is die syfer baie laer. Die wat nie vir ’n mammogram gaan nie, kry dus nie die voordeel van toetsing nie.
Kan rekonstruksie en ’n mastektomie tydens dieselfde operasie gedoen word?
Dit is die beste as die rekonstruksie saam met die mastektomie gedoen word. As ’n rekonstruksie in ’n tweede sessie gedoen word, moet beide die volume en oppervlak (ingesluit die tepel-areola-kompleks) herbou word en dikwels in weefsel wat bestraal is, wat tegniese probleme skep. Rekonstruksies is dan ook minder suksesvol en mooi. Tydens ’n onmiddellike rekonstruksie kan ek dikwels die vel en die tepel-areola-kompleks red, met ander woorde die buitenste kontoer van die bors bly ongeskonde. Net die volume van die borste moet heropgebou word, wat tegnies baie makliker is. Vroue wat deur die diep trauma van ’n mastektomie is en wat reeds sonder borste leef, kan dikwels nie die sielkundige krag vind om vir ’n rekonstruktiewe prosedure na die hospitaal terug te keer nie. Net 40% tot 60% van vroue wat ’n rekonstruksie ná ’n mastektomie aangebied is, het uiteindelik met die prosedure voortgegaan.
Wat is die jongste tegniek vir rekonstruksie?
Die beste tegnieke is prostetiese en eie weefsel-rekonstruksies met die oordrag van vetweefsel – gewoonlik van die laer buik. Dit impliseer ’n maagverkleining (tummy tuck) met die oortollige vetweefsel wat gebruik word om die bors op te bou. Dit is ’n taamlik ingewikkelde prosedure wat mikrovaskulêre chirurgiese vaardighede vereis: Weefsel word saam met bloedvate geneem en die bloedvate word weer onder ’n mikroskoop aan die bloedvate in die bors gekoppel. Beide tegnieke lewer borste wat baie natuurlik lyk.
Is dit moeilik om borskanker ná rekonstruksie op te spoor?
Nie as jy weet waarvoor jy soek nie. Onthou egter die herhaling ná primêre borskanker kom in die algemeen buite die bors voor, byvoorbeeld in die skelet, lewer en longe. Dit is sowat vyf keer algemener as wat dit in die bors voorkom.
Watter moderne hulpmiddels is beskikbaar om ’n vrou se risiko vir borskanker te bepaal?
’n Magdom hulpmiddels is aanlyn beskikbaar. Al dié hulpmiddels het sekere tekortkominge, byvoorbeeld dat dit nie kankers in manlike familielede in ag neem, of leefstylfaktore soos vetsug nie, of dit neem slegs familiegeskiedenis in ag. Geen van die modelle wat ek al gesien het, sluit fisieke aktiwiteit of alkoholgebruik, twee belangrike faktore, in nie. In die algemeen verskaf dié modelle slegs ’n oppervlakkige gids vir jou risiko vir borskanker. Soos altyd is dit belangrik om hulpmiddels te gebruik wat van betroubare bronne soos die NHS in Brittanje of die NIH in Amerika of welbekende borskankerorganisasies soos Susan G Komen afkomstig is.
Wat is jou boodskap vir iemand wat pas met borskanker gediagnoseer is?
Borskanker is ’n chroniese siekte en daar is geen haas om besluite te neem nie. Laat die diagnose eers insink en begin eers planne ná drie tot vier dae maak wanneer jy gereed is om inligting in te neem en dit te verwerk. Die regte keuse van medici wat jou gaan behandel, het ’n baie groter invloed op die uitkoms as enige individuele behandelingsmetode buiten chirurgie. Dit is deurlopend bewys supergespesialiseerde praktisyns wat in ’n kliniek werk waar die borschirurg en die bestralings- en mediese onkoloë die pasiënt saam sien en evalueer en dan ’n volledige behandelingsplan saamstel, die beste resultate lewer. Wend ’n poging aan om so ’n kliniek te vind. Dit mag dalk net jou lewe red.
- [email protected] ([email protected]; www.apffelstaedt.com )

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie