Borskanker: Wat jy moet weet
Borskanker: Wat jy moet weet

Borskanker: Wat jy moet weet

Die hele wêreld fokus in Oktober op borskanker en die bewusmaking daarvan. Prof. Justus Apffelstaedt, professor in chirurgie aan die Universiteit van Stellenbosch en hoof van die Tygerberg-borskliniek, beantwoord 'n paar gereelde vrae oor dié siekte.

Kan mammogramme borskanker veroorsaak?

Nee. Vir meer as 40 jaar gaan miljoene vroue vir mammogramme. Soos met alle bestraling is daar blootstelling aan X-strale, maar die dosis wat gebruik word, is baie laag.

Moderne mammogramtegnieke het oor die afgelope jare aansienlik verbeter. Ons “Full Field” digitale mammogrammasjien gebruik slegs 0,1 tot 0,2 bestraling per X-straal, wat 'n besondere lae bestralingsdosis is.

'n Vraag wat gereeld gevra word, is of kompressie borskanker kan veroorsaak. Kompressie affekteer glad nie die borsweefsel nie. Inteendeel, dit is belangrik dat die bors saamgepers word as mens 'n effektiewe mammogram wil neem. Borsweefsel word gesprei om te sorg dat borsstrukture gesien kan word. Danksy kompressie kan die X-strale- dosis ook verlaag word.

Pasiënte moet verseker hulle kry mammogramme by plekke waar moderne mammogram-toeristing gebruik word.

Ek het gehoor mammogramme is baie pynlik?

Hoewel die borste saamgepers word, ondervind baie vroue wie mammografie ondergaan geen pyn nie. Vroue met baie sensitiewe borste mag wel 'n mate van ongemak ervaar as die mammogram behoorlik gedoen word.

As ek wil gaan vir plastiese borschirurgie, moet ek eers 'n borsondersoek laat doen?

Voordat jy plastiese chirurgie kry, is dit altyd raadsaam om vir 'n borskanker skandering te gaan. Enige chirurgie aan die borste sal toekomstige evaluasie van die borste meer gekompliseerd maak en daarom verhoog dit die kanse dat 'n bestaande kanker gemis kan word.

Ek het bors-prostese. Kan ek steeds gaan vir 'n mammogram?

Ja. Borsinplantings veroorsaak nie 'n toename in klierdigtheid van die bors nie en daarom is jou risiko nie hoër nie. Dit is nodig dat jy na 'n mammografis met ondervinding gaan, omdat spesiale tegnieke nodig is om soveel as moontlik borsweefstel ten toon te stel.

As my borsondersoek reg is, hoekom raadpleeg spesialiste dat ek elke jaar vir 'n mammogram gaan?

Die meeste internasionale kanker-agentskappe beveel jaalikse mammogramme aan, omdat dit die beste manier is om borskanker vroeg op te spoor. Die vroeë opsporing van borskanker verhoog die kanse op oorlewing aansienlik en dit verlaag die kanse dat 'n mastektomie nodig gaan wees as behandeling.

Vir watter tekens moet ek uitkyk?

Knoppe van enige grootte of verdikking van die borsweefsel.Veranderinge ten opsigte van die vorm van die borste of aanhoudende ongemak.Afskeidings deur die tepels wat nie met swangerskap of borsvoeding verband hou nie.

Wanneer is die beste tyd van die maand om vir 'n mammogram te gaan? My borste is gevoelig gedurende menstruasie.

Ons beveel aan dat jy 'n week ná menstruasie, wanneer jou borste minder gevoelig is, vir 'n mammogram gaan.

'n Mammogram behoort slegs matig ongemaklik te wees. As jy egter bekommerd is oor die gevoeligheid van jou borste is dit raadsaam om 'n opgeleide borsdokter te raadpleeg. In hierdie geval kan 'n kliniese evaluasie en 'n ultraklank gedoen word. Indien enigiets verdag waargeneem word, mag dit nodig wees om onmiddellik 'n mammogram te doen. Indien niks gevind word nie, maar die teerheid duur voort, mag jy aangeraai word om met behandeling te begin en die mammogram vir 'n paar weke uit te stel tot jou borste na normaal terugkeer.

Let daarop dat 'n ultraklank nie 'n mammogram kan vervang nie. 'n Mammogram bly die beste manier om borskanker te diagnoseer.

2 – 3 gram Nagblomolie (Evening Primrose Oil) per dag vir 2 – 4 weke help om teerheid van die borste te verminder.

Kan borsbeserings borskanker veroorsaak?

Die borste is baie bestand teen beserings. 'n Besering aan die borste kan nie borskanker veroorsaak nie. Ernstige trauma kan vetnekrose veroorsaak soos borsweefsel doodgaan. Dit voel soos 'n klier wat soms tydens 'n mammogram verwarring kan veroorsaak. Vetnekrose is nie 'n vorm van kanker nie en kan ook nie met verloop van tyd tot kanker ontwikkel nie.

Is borskanker 'n siekte wat net gediagnoseer word by mense ouer as 40 jaar?

Hoewel 6% van alle borskanker-gevalle in Westerse samelewings onder vroue jonger as 40 jaar voorkom, is een uit elke ses vroue by ons praktyk jonger as 40 jaar. Dit mag wees weens die jonger ouderdomstruktuur van die bevolking in 'n ontwikkelende land, maar daar is ook bewyse dat borskanker op 'n jonger ouderdom onder ander bevolkingsgroepe voorkom.

Hoewel vetsug, 'n onaktiewe leefstyl, drank en omgewingsfaktore asook menstruasie wat vroeg (voor negejarige ouderdom) begin en om na 30 vir die eerste keer swanger te raak alles met borkanker geassosieer word, word daar gedink dat 'n genetiese komponent vir jong vroue meer belangrik is en daar is bevind dat baie van die jong pasiënte 'n mutasie in die borskankergene het.

-netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!