Boubedryf wankel by afgrond
Boubedryf wankel by afgrond

Boubedryf wankel by afgrond

Meer as 1 000 konstruksiewerkers is reeds afgedank en ’n sowat 600 sal voor einde Desember hul werk verloor, grootliks weens wanbetaling deur die regering.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die Namibiese bou- en konstruksiebedryf staar ''n finansiële tsoenami in die gesig weens laat betaling deur die regering.

As die gesloer nie end kry en die meer as N$1 miljard teen die aanvang van die bouersvakansie op 15 Desember betaal word nie, sal ''n groot deel van dié bedryf ten gronde gaan, sê me. Bärbel Kirchner, raadgewende hoofbestuurder van die Federasie vir die Konstruksiebedryf van Namibië (CIF).

Tussen 1 September en 30 November is meer as 1 008 werkers afgedank, met nog 604 wat voor die einde van dié maand hul werk in die sektor sal verloor. Dit blyk vir elke 100 bou-ondernemings wat hierdeur geraak word, ongeveer 1 600 broodwinners tydens die vakansieseisoen sonder ’n inkomste sal wees, met nagenoeg 13 000 afhanklikes wat daardeur geraak sal word.

Die federasie het gister die bevinding bekend gemaak van navorsing wat tussen 25 November en 1 Desember gedoen is. Die 115 bou- en konstruksie-ondernemings wat ondervra is, se gesamentlike uitstaande skuld deur die regering beloop N$1 003 696 177 en driekwart van die ondernemings bevind hulle in ’n erge kontantvloeikrisis.

Altesaam 43 van die deelnemende maatskappye sê hulle het besluit om af te skaal deur arbeidskoste te verminder. Sommige het meer skuld aangegaan om die krisis te bowe te kom, maar die meerderheid (71,3%) is besig om alle uitgawes te sny, blyk uit die ondersoek wat die federasie gedoen het.

Vakatures word nie gevul nie, bonusse word nie betaal nie, werksure word verminder, opleiding en ontwikkeling is gestaak en werkers word afgedank. Van die maatskappye het ook begin om toerusting en boumasjinerie te verkoop.

Byna die helfte van die ondernemings sê hulle is tussen 70% en 100% afhanklik van regeringskontrakte. Baie is op soek na ander geleenthede, maar dit sal net groter druk plaas op die beperkte hoeveelheid werk wat in die private sektor beskikbaar is. “Die situasie is kritiek. N$1 miljard is ’n enorme bedrag skuld en in werklikheid is daar waarskynlik baie meer uitstaande, aangesien nie alle konstruksiemaatskappye aan die opname deelgeneem het nie,” sê Kirchner.

“Baie van die ondernemings in die boubedryf sit met ''n kontantvloei-krisis weens laat betalings. Maatskappye raak kleiner en dank mense af en baie staar bankrotskap in die gesig. Dit geld vir die hele voorsieningsketting in die bedryf. Tensy die regering spoedig reageer en vóór die bouersvakansie begin betaal, sal ons ''n tsoenami-effek sien wat ''n groot stuk Namibiese kapasiteit in ons bedryf sal uitwis.”

Kirchner sê voorts die bedryf kan nie wag tot ná besluitnemers teruggekeer van hul vakansies nie. Volgens haar moet betalings onmiddellik gemaak word. “Die onsekerheid het vernietigende gevolge vir die geraakte ondernemings en vir die mense in ons bedryf. Ons doen dus ’n beroep op die regering om alle skuld ouer as 30 dae vóór 15 Desember te betaal.”

WERKERS VOEL DIT

Terselfdertyd het die Vakbond vir Metaal- en Verwante Werkers (MANWU) ook gister oor die krisis in die plaaslike boubedryf gepraat.

’n Aankondiging oor die nuwe minimum loon wat van 31 Desember van toepassing sal wees, is deur kommer oor die voortbestaan van die bou- en konstruksiebedryf oorheers.

“As ’n organisasie wat die werkers in dié sektor verteenwoording, is ons bekommerd oor grootskaalse afdankings wat plaasvind by verskillende maatskappye; veral maatskappye wat op regeringsprojekte werk,” het Manwu se algemene sekretaris, me. Justina Jonas, aan joernaliste gesê.

Volgens haar is meer as 1 000 werkers afgedank weens wanbetaling deur die regering. “Ons hoor die regering het nie geld nie, maar as ''n vakbond is ons nooit ingelig om dit weer aan die werkers oor te dra nie,” sê sy. “Wat ons kwaad maak, is dat ons altyd mekaar kamerade noem, maar as dit kom by kwessies wat die werkersklas raak, is daar afstand tussen ons,” sê Jonas.

Volgens haar het die vakbond dringende briewe aan die ministerie van finansies, die ministerie van werke en vervoer asook die Paaie-owerheid (RA) geskryf waarin gevra is dat ’n dringende vergadering voor 5 Desember gehou word om die krisis te bespreek.

Geen antwoord, of selfs net erkenning van ontvangs van die briewe, is verskaf nie. “Nie een van hulle het na ons teruggekom nie,” sê sy. “Dit is die werkers wat dit voel. Hoekom kan hulle nie met ons praat nie? As daar ''n probleem is, kom ons praat daaroor,” sê sy. “Ons beroep is op die regering om hul rekeninge te betaal om werksgeleenthede te beskerm.”

Die vakbond is ook bekommerd oor die toekenning van groot kontrakte aan buitelandse maatskappye, ten koste van plaaslike bouers wat in die land belê. “Dit is ''n skande dat plaaslike maatskappye wat al tot 30 jaar lank in die boubedryf is, nou moet toemaak omdat hulle nie kontrakte van die regering kry nie.” Van die buitelandse kontrakteurs eerbiedig nie die Arbeidswet nie en betaal nie die minimum loon nie, het sy voorts gesê.

Vanaf 31 Desember verhoog die minimum loon met 10%, wat beteken werkers wat vanjaar N$14,56 per uur verdien het, sal in 2017 nie minder as N$16,04 per uur betaal mag word nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!