'Breek heinings af, beskerm wild'

Navorsers sê wild kon oor 'n groter gebied beweeg het as dit nie vir kunsmatige grense was nie.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Volgens navorsers van die Groter Sossusvlei-Namib Landskapprojek (GSNL) sou gemsbokke, springbokke en bergsebras oor 'n groter gebied beweeg het as dit nie vir heinings en kunsmatige grense was nie.

“Tydens 'n studie wat in die onherbergsame woestynomgewing van Namibië uitgevoer is, is op 'n eensame gemsbok afgekom wat oor 'n tydperk van vier jaar in 'n gebied van meer as 400 000 hektaar - dubbel die grootte van die NamibRand-natuurreservaat - na water en kos gesoek het,” lui 'n mediaverklaring van Nedbank Namibia.

“Navorsers sê die gemsbok kon 'n groter gebied in sy soektog besoek het as heinings en ander kunsmatige grense nie in sy pad gestaan het nie.”

Hierdie en ander inligting vorm deel van die GSNL waartydens wetenskaplikes en ander vennote noukeurig data versamel het oor die volopheid, verspreiding, bewegingspatrone en grondgebruik van gemsbokke, ­springbokke en bergsebras in die sentrale Namib- en Naukluftgebiede.

Dit in die hoop dat die data kan lei tot 'n ­heiningvrye Namib om die langtermyn­oorlewing van belangrike sleutelspesies daar te verseker.

Mnr. Murray Tindall, die hoofbewaarder van die NamibRand-natuurreservaat, staan aan stuur van die projek en sê soos beskryf deur ander wetenskaplikes is mobiliteit 'n ­belangrike faktor vir wild om te oorleef in hul habitat in die dorre landskappe van Namibië.

“In so 'n gebied is die vermoë van wild om te beweeg om toegang tot die weiding kry as gevolg van geïsoleerde reënval, een van die sleutelaanpassings wat hulle in staat stel om te oorleef,” verduidelik Tindall.

“Derhalwe kan enige struikelblokke wat wild van vrye en onbelemmerde beweging ontneem, 'n drastiese impak op hulle hê en hul kanse op oorlewing verminder.”

Tindall het bygevoeg benewens die data van die alleenlopende gemsbok se ­uitgebreide bewegings, is daar verdere sterk bewyse van ander individuele diere “oor die negatiewe impak van heinings op die bewegings van wild, en soos verwag word, word 'n sterk verband tussen reënval en bewegings­patrone waargeneem.”

MAAK SPASIE

Mnr. Nils Odendaal, die voorsitter van die GSNL, sê die projek se doelwit is om die bestaande bewyse te versterk dat wild groter landskappe nodig het om in dorre omgewings te floreer.

“Die projek poog om nie net die feit weten­skaplik te dokumenteer nie, maar ook om besluitnemers van natuurlike hulpbronbestuur van hulp te wees in reaksie op wildbevolkings en hul verspreiding,” het Odendaal gesê.

Hy sê voor hierdie projek was die migrasie van wild op soek na weiding slegs volgens ooggetuies en in verslae gedokumenteer, maar daar was geen “harde” data om dit te staaf nie.

“Benewens die toevoeging van die ontwikkeling van 'n bron van data vir besluite, sal die projek hopelik help om ons doelwit vir 'n heiningvrye Namib in die toekoms versterk,” het Odendaal gesê.

Tindall het gesê soos meer bewyse oor die bewegingspatrone van sleutelwild versamel word, sal meer eienaars van eiendomme in die gebied hopelik aangemoedig word om 'n geïntegreerde landskapbenadering as deel van grootskaalse bewaringspogings in die gebied te aanvaar.

Een interessante bevinding het aangedui dat wild in sommige gevalle maniere gevind het om mensgemaakte grense te ontwyk.

Veral bergsebras, maar ook tot 'n mate gemsbokke, is bedrewe om van gate in heinings gebruik te maak.

Tindall sê in die geval van bergsebras is dit veral weens die aard van die gebied moeilik om heinings in rotsagtige berggebiede te ­onderhou.

“Tog het hierdie bevinding groot gevolge vir ander wild, omdat dit beteken dat gapings of gate in die heining met strategiese intervalle voldoende sal wees waar die volledige verwydering van heinings nie moontlik is as gevolg van ander faktore nie,” verduidelik Tindall.



TREE NOU OP

“Volgens bewyse verminder wildbevolkings in baie wildbewaringsgebiede in Afrika ­drasties, wat grootliks toegeskryf kan word aan 'n gebrek aan ­ekostelselfunksionaliteit van die grond wat deur hierdie gebiede omring word.”

Voorts dring mense en ontwikkelings ­toenemend die geskiedkundige wildmigrasie­roetes binne, wat die bewegings van wild tussen gebiede met water en weiding beperk.

“Nóg 'n bekommernis is die impak van ­klimaatsverandering wat wild se habitat verder kan krimp of toegang daartoe kan ­verminder,” sê Tindall.

Nedbank Namibia se Go Green-fonds was een van die vennote wat die projek finan­sieel ondersteun het.

Tindall het gesê dit is 'n uitdaging om hulpbronne te kry om sulke studies te onder­neem en skenkersorganisasies is nogal ­spesifiek oor die tipes projekte wat hulle sal ondersteun: “Gelukkig was die kriteria van ons projek vir Nedbank se Go Green-fonds voldoende en dit was relatief maklik om geskikte finansiering vir die doelwit van die projek te kry.”

Me. Selma Kaulinge, Nedbank Namibia se kommunikasiespesialis, het gesê met ­internasionale kwessies soos klimaats­verandering en die impak wat dit op weerlose plaaslike gemeenskappe het, is dit ­belangrik om te help met natuurbewaring.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!