Brexit-chaos kan nou tot enigiets lei
Brexit-chaos kan nou tot enigiets lei

Brexit-chaos kan nou tot enigiets lei

Die Britse politiek is in chaos gedompel ná die oorweldigende verwerping van Theresa May, premier, se ooreenkoms met Brussel oor Brittanje se afskeid van die Europese Unie (EU).
Leopold Scholtz - Dis die grootste politieke krisis in eeue en die grootste nederlaag vir ’n Britse regering ooit in die geskiedenis. Met ’n oorweldigende meerderheid van 432 stemme teenoor 202 het die laer huis die ooreenkoms wat May se regering – en dit nogal ná twee jaar se moeisame onderhandelings – met die EU bereik het, van die tafel gevee.

Allereers: Wat het gebeur en waarom?

Die stemming is die kulminasie van ’n onrealistiese oortuiging dat Brittanje steeds ’n groot moondheid kan wees, saam met ’n reeks politieke foute wat op mekaar gestapel is.

Tipies van baie Britte se grootheidswaan is ’n beriggie wat in 1913 in The Times verskyn het onder die opskrif: “Heavy fog in Channel. Continent cut off.” Let wel, Europa was afgesny, nie Brittanje nie.

Brittanje het die destydse Europese Ekonomiese Gemeenskap (EEG), voorganger van die EU, in 1973 skoorvoetend betree. Sy geskiedenis as lidstaat van die EEG word gesimboliseer deur ’n kwasterige premier Margaret Thatcher wat uitroep: “I want my money back!”

Thatcher het ’n klomp uitsonderingsposisies vir Brittanje beding. Die land was nooit met sy hart in Europa nie.

Die probleem is dat die Britse ekonomie in die jare sedert 1973 só nou met dié van Europa verweef is dat dit slegs met yslike skade vir albei kante losgeskeur kan word.

En tog het ’n effense meerderheid van die Britte in 2016 toegelaat dat hul heimwee na die verlede oorhand bo hul gesonde verstand kry, en hulle het dus vír Brexit gestem.

In die twee jaar sedertdien het May se regering met groot moeite ’n ooreenkoms oor ’n taamlik “sagte” en ordelike Brexit met Brussel beding. Maar dit het te make gekry met ’n groep ideologies rigiede “Brexiteers” vir wie die land nog te naby aan die EU gebly het.

NOORD-IERSE PROBLEEM

Die breekpunt vir die Tory-“Brexiteers” was die sogenaamde Noord-Ierse “backstop”. Dit moet verduidelik word.

In 1990 is ’n vredesooreenkoms in Noord-Ierland onderteken wat ’n einde aan die voortslepende konflik tussen Protestante en Katolieke daar gemaak het. Dit het onder meer ingehou dat die grens tussen Noord-Ierland (deel van die Verenigde Koninkryk) en die Ierse Republiek in ’n sagte grens omgeskep word, een wat vryelik en sonder beheer oorgesteek kan word.

Die “backstop” is bedoel om daardie situasie ook ná Brexit te handhaaf, deels uit vrees dat die konflik weer kan oplaai. Maar dit hou in dat die Verenigde Koninkryk vir ’n onbepaalde oorgangstyd deel van die Europese Doeane-unie bly – en dit stuit die harde “Brexiteers” om ideologiese redes teen die bors.

Altesame 118 Tory-LP’s het teen May se ooreenkoms gestem. Onder hulle is egter ook diegene wat téén Brexit is, wat in die EU wil bly.

En aan die ander kant van die politieke verdelingslyn is daar die Arbeidersparty. Dié party is self diep tussen voor- en teenstanders van Brexit verdeel – harde Marxiste wat die EU as ’n kapitalistiese sameswering sien en gematigdes wat die voordeel van lidmaatskap insien.

Maar hulle word verenig deur die bloed wat hulle ruik. Dis waarom Jeremy Corbyn, leier van die Arbeiders, onmiddellik kennis gegee het dat hy met ’n mosie van wantroue in die May-regering gaan kom.

Dié mosie sal waarskynlik verwerp word, want dit jaag al die Tories, saam met hul bondgenote by die Noord-Ierse Unioniste, soos skape in ’n kraal. In hul oë kan níks erger wees as die skrikbeeld van die Marxis Jeremy Corbyn wat sy koffers in Downingstraat 10 uitpak nie.

WAT GAAN NOU GEBEUR?

Deur ’n mosie van verlede week het die laer huis May drie dae gegee om ’n alternatiewe Brexit-plan aan hulle voor te lê. Sy sal dus nou toegewings van Brussel probeer beding, maar die kans dat sy beduidende sukses sal kry is nagenoeg nul.

Verskeie moontlikhede doem nou op.

Een is ’n ongeordende Brexit sonder ooreenkoms, wat chaos vir sowel Brittanje as Europa kan beteken. Nog een is ’n tweede referendum. Maar omdat peilings tans dui op ’n effense meerderheid téén Brexit, sal die harde “Brexiteers” hulle met hand en tand daarteen verset.

Niemand dink in dié stadium ernstig aan ’n derde moontlikheid, ’n nuwe algemene verkiesing, nie. Maar die chaos is nou só groot dat enigiets moontlik is.

Intussen is ’n historiese verandering hom in Brittanje aan die afteken wat sy politieke stelsel betref.

Reeds sedert die 18de eeu het die mag van die uitvoerende gesag – die kabinet – ten koste van die parlement gegroei. In die praktyk beteken dit dat die leier van die regerende party as premier baie groot magte het.

As die premier bepaal dat iets moet gebeur, gebeur dit – binne perke – inderdaad. Baie dieselfde as in Suid-Afrika, behalwe dat ons sedert 1983 ’n uitvoerende president pleks van ’n eerste minister het.

En dan is die moontlikheid dat Skotland mettertyd van die Verenigde Koninkryk kan wegbreek, nou groter as ooit. Die Skotte wil in groot meerderheid by die EU bly.

Wat jy die laaste weke in Brittanje gesien het, is dat die parlement stelselmatig die mag na hom terugtrek. Die Britse staatsregtelike teorie is dat die parlement soewerein is, maar in die praktyk het hy maar as rubberstempel vir die premier en kabinet gedien.

Dat dit op ’n chaotiese manier gebeur, beteken nie dat dit minder betekenisvol is nie. Of dit die regering van die land enigsins doeltreffender gaan maak, is natuurlik vraag twee – as die laaste weke ’n maatstaf kan wees, is die antwoord waarskynlik nee.

‘KATASTROFIESE POLITIEKE MISLUKKING’

Intussen groei die onrus onder die gras waarop die olifante trap terwyl hulle baklei – die mense op voetsoolvlak. Die Amerikaanse historikus Anne Applebaum stel dit goed in The Washington Post: “Brexit was ’n katastrofiese politieke mislukking. Die morsige, ongewilde ooreenkoms, die mees ongewilde regering wat enigiemand kan onthou, is voortgebring deur ’n politieke klas wat oningelig geblyk het – oor Europa, Europeërs, handelsreëlings, instellings – en arrogant, met minagting vir kennis en kundigheid. Dit was die werk van leiers wat die voorkeur gegee het aan identiteitspolitiek bo ekonomie, wat ’n ongedefinieerde nosie van ‘soewereiniteit’ verkies het bo die egte instellings wat Brittanje invloed en mag verleen het, wat in fantasieë geglo het en neergekyk het op die werklikheid.”

Daar is die saak in een paragraaf opgesom.

En die mense is die slagoffer.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!