Brian Molefe terug by Eskom
Brian Molefe terug by Eskom

Brian Molefe terug by Eskom

Die kat kom weer . . . Molefe het einde 2016 as hoof bedank ná 'n betraande optrede by 'n Eskom-mediakonferensie oor die verslag oor staats­kaping en nou is hy weer aan stuur van sake.
Francois Williams - Rolspelers in die Suid-Afrikaanse energiebedryf was Vrydagoggend nog stomgeslaan oor die nuus dat Brian Molefe, vorige hoof van Transnet en toe Eskom, vandag weer sy kantoor by Megawattpark in Johannesburg gaan betrek as hoof van die staat se kragmonopolie.

Prof. Anton Eberhard, 'n voormalige lid van die Nasionale Beplanningskommmissie en kundige oor kragsektorbestuur by die Universiteit van Kaapstad se nagraadse sake­skool, het via Twitter gesê daar was nog nooit soveel ondersoeke na swak korporatiewe bestuur en korrupsie by Eskom as in die afgelope jaar of twee nie – terwyl Molefe aan die stuur van sake by Eskom was.

Chris Yelland, uitgewer van EE Publishers en 'n gereelde kommentator oor energiesake, wou nog nie Vrydagoggend enigiets sê nie.

Khulani Qoma, woordvoerder van die Eskom-direksie, het in 'n radio-­onderhoud met 702 Vrydagoggend bevestig dat Molefe vandag weer by Eskom se hoofkantoor sal instap.

Dit spruit uit die pensioenbetaling van R30 miljoen aan Molefe. Lynne Brown, minister van openbare onder­nemings, het die direksie gevra om dié betaling te hersien. Onderhandelings tussen Molefe en Eskom se regspan het uitgeloop op 'n dooiepunt, en die direksie het besluit om nie meer die bedrag goed te keur nie. Molefe se versoek vir vroeë aftrede by Eskom is toe ­teruggetrek.

Dit beteken in effek dat Molefe moet terugkeer na Eskom, en hy moet die R30 miljoen terugbetaal aan die Eskom-pensioenfonds.

Qoma het aan 702 gesê daar was niks verkeerd met die direksie se besluit om wel die pensioenuitbetaling aan Molefe te doen nie, maar die besluit is omgekeer omdat Brown gevra het vir 'n ondersoek daarna en omdat sy nie tevrede is met die uitbetaling daarvan nie.

Qoma sê Molefe het bedank as ANC-parlementslid. Die bedanking geld van 14 Mei.



TRANE VLOEI

Molefe het einde 2016 as hoof van Eskom bedank ná 'n betraande optrede by 'n Eskom-mediakonferensie oor die verslag oor staatskaping van die vorige openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela. In dié verslag is Eskom se steenkoolkontrakte met 'n maatskappy wat bande met die omstrede Gupta-broers het, bekyk, asook Molefe se telefoongesprekke met en besoeke aan die Guptas by hul huis in Saxonwold, Johannesburg.

Molefe se rede vir sy bedanking by Eskom was “ter wille van goeie korporatiewe bestuur”. Qoma kon nie in die radio-onderhoud met Xolani Gwala van 702 antwoord op Gwala se vraag oor wat dan van goeie korporatiewe bestuur geword het noudat Molefe weer terugkeer na Eskom nie.

Dit blyk Matshela Koko, waarnemende uitvoerende hoof, sal terugkeer na sy vorige pos by Eskom. Koko is self die onderwerp van 'n voortgaande ondersoek na beweerde belangebotsings weens 'n kontrak wat 'n maatskappy van sy stiefdogter met Eskom gehad het.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!