Brukarros-abattoir hou op slag
Brukarros-abattoir hou op slag

Brukarros-abattoir hou op slag

Die drie weke lange slagboikot het die abattoir by Keet­­mans­hoop op sy knieë, sê die eienaar daarvan.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Die skaapuitvoer-abattoir by Keetmanshoop, Brukarros Meat Processors (BMP), het weens geldelike verliese opgehou slag.

Die eienaar, mnr. Jean Simonis, het gister aan Republikein gesê hy kan nie langer die verliese wat die abattoir ly, uit sy ander bedrywe subsidieer nie. Hy besit onder meer ook die Simondeum-vleisaanleg op Grootfontein.

Skaapboere in die Suide het op 25 Junie 'n slagboikot teen die twee oorblywende uitvoer-abattoirs in die Suide afgekondig toe die prysverskil tussen Namibië en Suid-Afrika tot soveel as N$18 per kilogram gestyg het.

“Ek kan nie aanhou om geld te verloor omdat ons nie deurset het nie. Ek het daarom besluit om vir 'n wyle op te hou slag tot ons groter duidelikheid oor die toekoms (van die skaapvleisbedryf) het.”

Simonis het erken dat NamPower die aanleg se krag Vrydag afgesny het. Die uitstaande skuld het sowat N$2 miljoen beloop.

Hy sê hy het dit intussen betaal, maar hou die krag by die abattoir-gedeelte van die aanleg afgeskakel om koste te spaar.

“'n Abattoir is 'n massiewe bedryf en ons kragverbruik is na aan N$1 miljoen per maand.”

Werknemers werk nou ook sogenaamde “kort tyd”, wat beteken hul werksure is ingeperk.

Die Noord-Kaapse vleismaatskappy, GWK, doen sedert verlede jaar kon­trakverslagting by BMP. Mnr. Alex Cilliers, GWK se hoof van vleis, het gister gesê hy is nog glad nie deur Simonis of enigiemand anders by BMP oor dié toedrag van sake ingelig nie.

Hy sê GWK moes skarrel om die nagenoeg 1 000 skape wat deur skaapboere by die abattoir afgelewer is om vandeesweek geslag te word, na Suid-Afrika te neem. Dit sal volgende week daar geslag word.

Simonis het in reaksie hierop gesê kontrakverslagting beteken hy het die geriewe aan GWK beskikbaar gestel in ruil vir die sogenaamde “vyfde kwart” van die karkas, wat die vel en die afval is.

“Die drie weke wat die skaapboere se slagboikot van krag was, het ons steeds ons vaste kostes gehad wat betaal moes word,” verduidelik hy en sê BMP het in dié tyd sowat N$150 000 per dag verloor.

“Ek kan nie bekostig om, terwyl ons sit en wag dat 'n volhoubare oplossing vir die probleme in die bedryf gevind word, hierdie verliese te ly nie. Daar is geen kwade gevoelens van my kant af teenoor die boere nie.

“Dit gaan oor volhoubaarheid. En ons moet so vinnig as moontlik by 'n model uitkom wat vir almal werk,” sê Simonis.

Hy het op 26 Junie 'n brief aan die Vleisraad, asook mnre. Alpheus !Naruseb, minister van landbou, water en bosbou, en Calle Schlettwein, minister van finansies, gestuur waarin hy die dilemma van abattoirs te midde van die onsuksesvolle kleinveebemarkingskema uitstippel.

Volgens hom was die terugvoering van die ministers hierop “baie positief”.

Op 'n vraag of mense in diens van BMP se poste in die gedrang is, het hy gesê: “As ons nie by 'n bevredigende oplossing uitkom wat die toekoms van ons bedryf verseker nie, sal ek ongelukkig mense moet aflê.”

Intussen het mnr. JC de Klerk, ondervoorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) en woordvoerder van die skaapboere, gesê BMP kon nie met die vrye mark kompeteer nie.

“So 'n abattoir het nie bestaansreg nie. Jy kan nie een segment van die bedryf bó 'n ander segment bevoordeel nie. Sonder die produsent ís daar nie 'n bedryf nie.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!