Brukkaros su00ea oor ongeluk, afleggings
Brukkaros su00ea oor ongeluk, afleggings

Brukkaros sê oor ongeluk, afleggings

Brukkaros Meat Producers sê afleggings was deel van die plan om onder meer die fabriek uit ’n ernstige finansiële verknorsing te red.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Brukkaros Meat Producers buite Keetmanshoop sê dit is besig met ’n interne ondersoek oor die ongeluk in sy fabriek verlede Woensdag wat tot die afsterwe van ’n fabriekswerker gelei het.

Die werker het die afgelope naweek in ’n Windhoekse hospitaal gesterf.

“Ons gebede en simpatie gaan aan die familie van die oorledene. Dit is ’n groot tragedie en ons gee aan die familie al ons steun. Intussen is ’n ondersoekspan aangestel om ’n interne ondersoek te doen en ’n verslag daaroor saam te stel,” het die besturende direkteur, mnr. Jean Simonis, aan Republikein gesê.

“Ons wag ook nog vir die mediese verslae en eers wanneer ons al hierdie inligting bymekaar het, kan ons meer oor die ongeluk sê. Na verwagting sal die verslag binne ’n week afgehandel word.”

Simonis sê dit was die eerste noodlottige ongeluk in vyf jaar in die fabriek. Boonop, omdat dit ’n uitvoerfabriek is, moet hulle hoë veiligheidstandaarde handhaaf en kan werkinge halt geroep word indien prosedures nie gevolg word nie.

Simonis ontken ten sterkste dat die ongeluk weens nalatigheid plaasgevind het.

“Daar werk 220 mense en dit is onmoontlik vir die bestuur om elke oomblik mense dop te hou. Ons werk in ’n omgewing waar groot masjiene gebruik word. In hierdie geval het die tipe ongeluk gebeur wat ook by ’n huis kon gebeur het. Ons wil onsself egter nie hieroor uitlaat voor ons al die feite het nie,” het hy gesê.

AFLEGGINGS

’n Anonieme bron het Republikein ook onlangs gekontak oor beweringe dat Namibiërs by Brukkaros afgelê is en buitelanders in hul plekke aangestel is.

Simonis het hierop gereageer deur te sê ná die oorname van die fabriek van die Indongo-groep was sekere strategiese veranderinge nodig om dit van ondergang te red en dit ongelukkig ’n paar afleggings ingesluit het. Boonop is aanstellings gemaak op grond van broodnodige, maar skaars vaardighede en kwalifikasies wat nie elders te vinde was nie.

“Tans werk sowat 330 mense vir my, waarvan net drie nie Namibiërs is nie. As ek nie die mense met die regte vaardighede en kwalifikasies kan aanstel om ’n sukses van hierdie besighede te maak nie, stel ek nie langer belang om hierdie besighede oop te hou nie.”

Simonis, wat ook op die direksie van die Simondeum-vleisfabriek en die Frontier- suiwelfabriek op Grootfontein dien, sê hy is verlede jaar genader om Brukkaros oor te neem.

“Ons moes besluit: Wil ons dit oorneem of gaan dit gesluit word? Indongo het nie kans gesien om voort te gaan nie omdat die fabriek groot verliese getoon het en nooit wins gemaak het nie.

“Dit het behels dat ek ‘n deeglike studie van Brukkaros gedoen en ernstige probleme geïdentifiseer het. Ek moes ’n plan beraam oor hoe ons van die fabriek ’n sukses kan maak. Daar was klein, maar noodsaaklike, strategiese skuiwe wat gemaak moes word.

“Die eerste was gegrond op die feit dat Brukkaros ’n uitvoer-abattoir is. Die plan het behels dat ons meer op uitvoere fokus en dienooreenkomstig sekere standaarde ingestel moes kry,” het Simonis gesê.

Hy sê hy het ook vasgestel dat verskeie onderbenutte bedrywe aan die fabriek gekoppel was, wat byvoorbeeld ’n looiery insluit.

“Die enigste manier om die somme te laat klop, sou wees om die benutting van hierdie bedrywe te verbeter.

“Die derde dilemma was om die regte mense met die regte vaardighede aan te stel. Tydens ons oorname van die fabriek het daar 212 mense gewerk. Toe ek na die salarisstruktuur gaan kyk, het ek vasgestel dat agt mense amper die helfte van die totale salarisrekening verdien.

“Net vyf van die 212 mense is in Februarie vanjaar afgelê. Dit was nie persoonlik nie – die doel was net om die regte vaardighede te kry wat by die toekomsstrategie inpas.”

Simonis sê hy het wel ’n ‘buitelander’ aangestel met die nodige kwalifikasies, vaardighede en ervaring om byvoorbeeld die looiery te bestuur, maar dat die man se immigrasiedokumente agtermekaar is om in Namibië te woon en werk.

"Ek het hom ook geraadpleeg oor watter mense met watter vaardighede hy nodig gaan hê en dienooreenkomstig aanstellings gemaak.

"Geen plaaslike aansoeke is ontvang om die pos met sy spesifieke vereistes te vul nie. Boonop is die persoon met ’n Namibiër getroud en woon hy al baie jare hier. Al twee die ander ‘buitelanders’ se dokumentasie is reg en boonop is hulle ook met Namibiërs getroud.”

Simonis sê een van die afleggings het behels dat hy ’n bestuurder in die abattoir verskuif het en ’n spesialisgeleentheid elders in die fabriek aangebied het. Die persoon het egter ná ’n aantal maande besluit om eerder die afleggingsaanbod te aanvaar.

KRISIS IN VAARDIGHEDE

Simonis is ook vir sowat ses jaar lank besturende direkteur van die vleisfabriek Simondeum
op Grootfontein.

Twee jaar gelede is daar ook ’n suiwelfabriek op die dorp geopen. In die twee fabrieke werk daar tans sowat 110 mense.

Hy sê sedert die begin van hierdie fabrieke ervaar hy ernstige probleme om werknemers te vind met die nodige vaardighede of kwalifikasies.

“Ek stel die standaarde hoog as dit by aanstellings kom, want ek het nodig dat die mense ’n sukses van die besighede sal maak. Dit is my toewyding aan hierdie land en daar is miljoene dollar ter sprake,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!