Buffel sluit plase in Omaheke
Buffel sluit plase in Omaheke

Buffel sluit plase in Omaheke

Talle plase is in die sentrale ooste van die land gesluit uit vrees vir ’n moontlike uitbreking van bek-en-klouseer.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - ’n Verbod op die beweging van vee is in ’n groot gebied in die Omahekestreek ingestel nadat ’n rondloperbuffel Maandag by die Ouje-nedersetting in die Eiseb-blok opgemerk is.

Die direktoraat veeartsenydienste (DVS) is ingevolge die Wet op Dieregesondheid verplig om plase te sluit en ’n bewegingsverbod in te stel wanneer buffels buite nasionale parke suid van die veterinêre kordonheining, oftewel die rooilyn, opgemerk word.

Volgens dr. Milton Maseke, hoof- veeartsenybeampte by dié direktoraat, is die buffel van kant gemaak. Toetsmonsters van die buffel is, soos internasionale dieregesondheidsmaatreëls vereis, na ’n geakkrediteerde verwysingslaboratorium vir ontleding gestuur.

Hy sê hoewel die uitslag negatief vir bek-en-klouseer was, sal die verbod vir ten minste nog 30 dae van krag bly.

Dit beteken geen diere met gesplete hoewe of enige produkte van hierdie diere mag die gebied verlaat of daarheen geneem word nie.

Die boere wie se vee geraak word, mag die diere dus nie op veilings verkoop of by abattoirs laat slag nie.

Dit is vanweë die moontlikheid dat daar nóg buffels in die gebied is.

“Die ministerie van die omgewing en toerisme is besig met ’n ondersoek en ons wag vir ’n verslag. Ons moet weet waar die buffel vandaan kom en of dit die enigste rondloperbuffel in die gebied was.”

Maseke wou nie spekuleer of die buffel van die Waterberg-platopark afkomstig is nie.

Buffels het die afgelope paar jaar by verskeie geleenthede uit dié park gebreek, wat tot die sluiting van plase gelei het.

Die boerderygebiede suid van die veterinêre kordonheining is vry van bek-en-klouseer en Namibië moet dié status ten alle koste behou om vleis na voorkeurmarkte in die buiteland te kan uitvoer.

Belanghebbendes in die vleisbedryf is Maandag oor die buffel ingelig en in kennis gestel dat die plase gesluit word. Padblokkades is opgestel om seker te maak die verbod word toegepas.

Die plase wat hierdeur geraak word, is in die distrikte van Eiseb, Otjinene, Rietfontein en Epukiro. Maseke kon by navraag nie sê hoeveel plase dit behels nie.

Die vee op hierdie plase sal gemonitor word vir kliniese simptome van bek-en-klouseer, selfs al het die buffel negatief getoets, sê hy.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!