Burgemeester soek samewerking
Burgemeester soek samewerking

Burgemeester soek samewerking

Bedrae verskuldig aan die hoofstad styg, terwyl die munisipaliteit die impak van Covid-19 probeer versag.
Augetto Graig
Augetto Graig – Belastingbetalers in Windhoek se skuld aan die munisipaliteit het in die twee maande tussen einde Maart en einde Mei met N$144 miljoen toegeneem.

Volgens die burgemeester, me. Fransina Kahungu, was die uitstaande skuld teen 31 Mei op N$984 miljoen, ’n styging vanaf N$840 miljoen teen einde Maart.

“Belastingbetalers moet hul gelde betaal,” sê sy.

Hoewel die stadsraad die impak van Covid-19 op die plaaslike en nasionale ekonomie verstaan, moet inwoners hul verpligtinge nakom omdat versuim daartoe sal lei dat die munisipaliteit ook nie sy diensverskaffers kan betaal nie, waarsku sy.

Die maandelikse stadsraadvergadering het op 25 Junie ’n nuwe ruimte betree toe verrigtinge vir die eerste keer regstreeks deur die hoofstad se sosiale media uitgesaai is.

Byna sewe duisend belanghebbers het teen gister die drie uur lange regstreekse uitsending gekyk, met heelwat kommentaar en reaksie op die geleentheid.

Die burgemeester se amptelike toespraak was effens vertraag deur die laat aankoms van die waarnemende hoof uitvoerende beampte, mnr. Reckliff Kandjiriomuini, wat vir mnr. Robert Kahimise ingestaan het.

Kahungu se poging om verdere openbare deelname van Windhoek se inwoners ten toon te stel, was ook gepootjie toe Kandjiriomuini nie ’n inwonerspetisie oor die verwydering van die Curt von Francois-standbeeld in die hoofstraat gereed vir voorlegging gehad het nie.

Volgens hom moet dié item steeds aan prosedures onderwerp word voordat dit op die agenda vir raadsoorweging geplaas kan word. Dit ondanks ’n dekbrief wat Kahungu by ontvangs daaraan geheg het.

Die burgemeester se boodskap van samewerking het nogtans danksy moderne tegnologie meer ore as normaalweg bereik.

“Ek is aangemoedig deur die samewerking wat my kantoor in die afgelope weke ondervind sedert ons die heropening van Windhoek se ekonomie (ná die hoktyd) hervat het, veral vanaf die klein en medium ondernemings en handelaars by die openbare markte,” het sy gesê.

Die munisipaliteit het die parkeerterrein in Werner Liststraat skoongemaak en ontsmet, waar sowat 40 plekke vir straatsmouse voor Shoprite uitgemerk is, sê sy. Aan smouse in Otjomuise is ook onlangs plekke naby aan Deli Park toegeken. Bouwerk van die nuwe informele mark op erf 1006 Ongangastraat in Okuryangava is byna voltooi, sê sy.

Windhoek se onlangse prestasies in terme van grondontwikkeling en opgradering van informele nedersettings is ook in die burgemeester se toespraak uitgelig. Die hoofstad beoog om vanjaar 20 000 woningsertifikate uit te reik, wat aan vele inwoners hul eerste verblyfreg sal toeken.

Kahungu noem ook dat die stadsraad die Namibiese regering gevra het om uitgawes van verskaffing van watertoegang gedurende Covid-19-inperking terug te betaal.

“Die verskil tussen wat die regering die raad sal vergoed en die werklike koste moet deur die Windhoekse belastingbetalers gedra word,” sê sy.

Die hoofstad het ook die opstel van 30 kommunale toilette gedurende die afgelope maande gesien. Hiervan is 25 deur die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling gefinansier en vyf is deur die Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC) geskenk.

In komende maande moet nog 225 kommunale toilette (geskenk deur die SSC) opgerig word, sê sy.

Die stadsraad wil ook voor einde Oktober 1 200 huise in Windhoek se nedersettings aan die kragnetwerk koppel, sê sy. Vordering word ook gemaak met die uitbreiding van stedelike landbou en drie gemeenskapstuine (by Olof Palme, Greenwell Matongo Community Gardens en plaas Okukna) bevoordeel reeds soveel as 550 gemeenskapslede.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!