Burger lei ‘span van die dekade’

’n Terugblik op die afgelope tien jaar se mees uitstaande vyftiental Namibiese krygers.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Met die tienjarige era van 2010 tot 2019 daarmee heen, is dit vandeesmaand ’n gewilde gebruik om sogenaamde droomspanne van die dekade saam te stel.

Vir Namibiese rugby was dit ’n tydperk waarin hy toenemend sy posisie as die oorheersende krag onder die Afrika-kwalifiseerders verder gekonsolideer het.

Soos in enige droomspan, is daar baie ruimte vir argumentvoering om die braaivleisvuur oor die meriete van een speler teenoor die volgende. Dit geld veral vir die drie posisies van losvoorspelers, waarin Namibië met vuurvreters soos min geseën is.

Hoe is dit byvoorbeeld moontlik om nie vir die baljagter Rohan Kitshoff (22 drieë in 45 toetse), die stormram Renaldo Bothma (agt drieë in 17 toetse) of die talentvolle jeugdigheid van Wian Conradie of Janco Venter ’n plek te vind nie? Uiteindelik is individuele vertonings in die mees fisieke arenas in eersgenoemde twee se gevalle opgeweeg, terwyl Conradie en Venter se rolle nog nie naastenby uitgespeel is nie.

Agterlangs is daar gewis ’n sterk saak uit te maak vir aanvallers soos Johann Tromp, die veelsydige staatmaker wat ná 43 toetse (19 drieë) sy uittrede aangekondig het, asook die jonger Lesley Klim (agt drieë in 13 toetse).

Losskakels soos Cliven Loubser (169 punte in 17 toetse) en Helarius Kisting het ook reeds gewys dat die toekoms van die nasionale 10-trui soos in Theuns Kotzé se dae in bekwame hande is.

15 CHRYSANDER BOTHA

Toetsloopbaan 2008-2018: 55 toetse (beginspan 53), 28 drieë

In sy 55ste en laaste toets, teen Kenia in Windhoek, het die gebore Walvisbaaier twee keer gaan druk om die jarelange nasionale drieërekord van Gerhard Mans te ewenaar en verby te steek. Sy droom van ’n derde Wêreldbeker vanjaar is hom ontneem met ’n onverwagse weglating, nadat sy plek so gevestig voorgekom het. Op sy beste was Botha se spoed en skeppende spel altyd ’n faktor om Namibië agterlangs ’n gevaar te maak.

14 DAVID PHILANDER

Toetsloopbaan 2008-2017: 30 toetse (beginspan 23), 11 drieë

Hoewel hy aan die kleinerige kant was, het “Poeding” of “Flash” ’n puik loopbaan gehad. In 2015 in Londen het hy nie vir die All Blacks se monster Julian Savea teruggedeins nie, terwyl meer menslike opposisie altyd hul hande vol gehad het met sy spoed, flair en vlugvoetigheid.

13 JOHAN DEYSEL

Toetsloopbaan 2013-2019: 26 toetse (beginspan 25), 9 drieë

Sy vennootskap met Darryl de la Harpe is oor ’n lang tyd op die hoogste vlak gesmee en hul verstandhouding op aanval en verdediging was uitstaande. Deysel het steeds ’n belangrike taak voor hom as leier in die era ná afrigter Phil Davies, maar sy rekord sover is welbekend.

12 DARRYL de la HARPE

Toetsloopbaan 2010-2019: 50 toetse (beginspan 39), 10 drieë

Die middelste van drie broers wat almal toetsrugby gespeel het, moes gedurende sy loopbaan ewe veel kritiek verduur as wat hy bewondering gekry het. ’n Spanman deur en deur, wie se balverspreiding, ondersteunende spel en impak as baldraer in die binnesenter-kanaal oor die jare meer invloedryk geword het.

11 JC GREYLING

Toetsloopbaan 2014-2019: 35 toetse (beginspan 28), 21 drieë

Namibië se mees produktiewe driedrukker van die laaste vyf jaar se tydsberekening en ondersteunende spel het hom gereeld in posisie geplaas om die wedloop doellyn toe te wen. Ewe bedrewe op buitesenter.

10 THEUNS KOTZÉ

Toetsloopbaan 2011-2017: 40 toetse (beginspan 35), 6 drieë

Die nasionale punterekordhouer met 430 was by uitstek ’n speler vir die groot oomblik. Sy akkuraatheid as stelskopper was merkwaardig en afgesien van een blapsie met die doelskop van Johan Deysel se drie teen die All Blacks sou hy ’n 100% trefrekord vir die 2015 Wêreldbeker gehandhaaf het. Sy onvoorspelbaarheid en taktiese visie om individuele breekslae met dwarsskoppe vir sy vleuels af te wissel, was ’n groot faktor.

9 EUGENE JANTJIES

Toetsloopbaan 2006-2019: 70 toetse (beginspan 46), 3 drieë

Sy nasionale rekord van 70 toetse is bestem om nog vir ’n klompie jare te bly staan – net soos die feit dat hy sover die enigste Namibiër is wat in vier Wêreldbekers gespeel het. Die opgang van Damian Stevens was gewis ’n inspirasie dat hy in onlangse jare van sy skerpste vertonings gelewer het.

8 PIETER-JAN VAN LILL

Toetsloopbaan 2006-2019: 51 toetse (beginspan 34), 7 drieë

Vir die bebaarde tandarts kon Japan 2019 inderdaad sy vierde Wêreldbeker gewees het, as ’n ontydige besering hom nie buite rekening vir Frankryk 2007 geplaas het nie. Fisiek een van die hardste voorspelers van sy era – ongeag of hy as ’n atletiese baldraer op nommer agt ingespan is, of na slot verskuif is.

7 TINUS DU PLESSIS

Toetsloopbaan 2006-2016: 52 toetse (beginspan 44), 8 drieë

Uitstaande vertonings in elk van sy drie Wêreldbekers getuig daarvan dat Du Plessis ’n speler vir die groot geleentheid was. Sy werkverrigting en betroubaarheid op die verdediging het hom die toekenning as speler van die wedstryd besorg ná die klipharde WB-verloortoets met 16-17 teen Georgië in Exeter in 2015.

6 JACQUES BURGER (kaptein)

Toetsloopbaan 2004-2015: 36 toetse (beginspan 36), 7 drieë

Die onverskrokke losvoorspeler se vurige duikvatte het die verbeelding van ’n generasie aangegryp en het die aandag van vriend en vyand vasgevang tydens elk van sy drie Wêreldbekertoernooie. Sy nalatenskap van leiding aan die voorpunt is die rede hoekom selfs die heel grootste spanne in wêreldrugby vir seker weet dat ’n botsing teen Namibië allermins ’n piekniek is.

5 TJIUEE UANIVI

Toetsloopbaan 2014-2019: 33 toetse (beginspan 31), 3 drieë

Die atletiese slot se waarde word daarin weerspieël dat hy die volle tagtig minute in elkeen van Namibië se sewe Wêreldbeker-wedstryde van 2015 en 2019 gespeel het. Benewens sy lynstaanspel lewer hy ook inklimspel en het hy tot verskeie drieë bygedra deur ondanks duikvatte sy aangee weg te kry.

4 NICO ESTERHUYSE

Toetsloopbaan 2006-2015: 33 toetse (beginspan 31), 0 drieë

Die hemelbesem van 2.06 meter verleen in die vaste fasette stewigheid aan enige agttal en hy kon selfs ’n groter rol gespeel het as dit nie soms vir ontydige beserings was nie. Beserings was ook ’n faktor in die loopbane van twee ander prominente slotte van dié era, Morné Blom en Mahepisa Tjeriko.

3 ARANOS COETZEE

Toetsloopbaan 2015-2019: 24 toetse (beginspan 18), 1 drie

Of Coetzee sy beste rugby in die trui van Namibië of die Cheetahs gespeel het, is ’n tergende vraag. Die 31-jarige rots is beslis die doodsteek van Afrika-opposisie wat hoop om Namibië op die agtervoet te dwing, hoewel die nasionale span se skrumwerk op die topvlak ’n achilleshiel bly. Casper Viviers het in sy 37 toetse ook sy waarde onderstreep.

2 TORSTEN van JAARSVELD

Toetsloopbaan 2014-019: 16 toetse (beginspan 14), 3 drieë

Hoe gelukkig is Namibië om tussen hakers van die bewese gehalte van Van Jaarsveld en die nuwe Blou Bul-aanwins Louis van der Westhuizen te kan kies? Nog ’n geval waar die ouer speler die kopknik kry, in die geloof dat die jonger man die leisels met mening sal oorneem.

1 JOHNNIE REDELINGHUYS

Toetsloopbaan 2006-2015: 49 toetse (beginspan 31), 5 drieë

Voorrymanne loop in moderne rugby straks die grootste risiko om met kaarte afgestuur te word, veral wanneer ’n skrum in trurat is, maar Redelinghuys het dit reggekry om sy loopbaan van drie Wêreldbekers sonder ’n enkele geel- of rooikaart af te sluit. Wie bring meer na die tafel, tussen hom en die uitgetrede Blou Bul, Jaco Engels (15 toetse)? Geniet die debatvoering.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!