Bwabwata spog met Buffalo-parkstasie
Meer as N$450 miljoen is die afgelope 13 jaar in NamParks belê om parkbestuur te verbeter.
Francoise Steynberg
Die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, en die Duitse minister van ekonomiese samewerking en ontwikkeling, dr. Gerd Müller, gaan die Buffalo-parkstasie in die Bwabwata Nasionale Park in die Kavango-Oosstreek môre inwy.
Dit is nóg 'n mylpaal in die langtermyn- gesamentlike Namibiese Parke-ontwikkelingsprogram, oftewel NamParks, waarmee meer as N$450 miljoen tot dusver oor 'n tydperk van 13 jaar in ses nasionale parke landswyd belê is.
NamParks is 'n program van die ministerie van die omgewing en toerisme met medefinansiering van die Duitse regering deur die KFW Development Bank, en is tans in sy vierde en vyfde fase.
“Die pogings van Namibiese en Duitse samewerking om Namibiese nasionale parke te ontwikkel, dra tot doeltreffende parkbestuur by,” lui 'n gesamentlike verklaring wat deur die ministerie en die Duitse ambassade uitgereik is.
“Die bou van belangrike infrastruktuur in die park laat die ministerie toe om Bwabwata doeltreffend in samewerking met gemeenskappe te bestuur om die park se unieke fauna en flaura te beskerm.”
Die Buffalo-parkstasie sal nasionale en oorgrens-migrasieroetes vir wildlewe verseker en toerisme-ontwikkeling in Bwabwata bevorder.
Die Buffalo-parkstasie, ter waarde van N$32 miljoen, is met behulp van die German Development Cooperation gebou en met medefinansiering van die ministerie.
Die nuwe parkstasie sluit onder meer die volgende in: 10 tweeslaapkamerhuise vir senior parkpersoneel, 10 eenslaapkamerhuise vir junior parkpersoneel, 'n ingangshek na die park van die B8-pad af, administratiewe en diensgeboue, 'n ontspanning- of personeelkamer, ablusieblokke met ses toilette, ses kampeerplekke, 'n olifantbestande boorgat en 'n geëlektrifiseerde heining.
Moderne tegnologie sluit in sonkragwarmwaterstelsels en 'n afvalwateraanleg.
NamParks het in 2006 afgeskop en tot dusver is nuwe parkstasies gebou in Mahango en Susuwe (beide in Bwabwata), in die Mudumu Nasionale Park, asook in Khaudum en Sikereti (beide in die Khaudum Nasionale Park).
NamParks se fase 4 fokus op infrastruktuurontwikkeling by die Buffalo-parkstasie in Bwabwata, asook in die Tsau//Khaeb (Sperrgebiet) Nasionale Park.
Benewens infrastruktuur het NamParks aansienlik bygedra tot onder meer geïntegreerde parkbestuur, toerismeontwikkeling, grondgebruikbeplanning vir Bwabwata se veelvuldige gebiede, institusionele steun aan die Bwabwata-advieskomitee, asook die ontwikkeling van die bestuursplan van die Zambezi se staatswoud en kapitale steun vir gesamentlike toerismeondernemings tussen bewaringsgebiede en private toerismeoperateurs.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie