Capitec-aandeel baklei terug
Capitec-aandeel baklei terug

Capitec-aandeel baklei terug

Capitec het geen vooraf waarskuwing gehad oor 'n verdoemende verslag wat Viceroy Research Dinsdag oor die bank uitgereik het nie.
Die omstrede navorsingsgroep Viceroy Research het Dinsdagoggend ’n verslag oor Capitec uitgereik wat die bank as ’n “woekeraar” (loan shark) beskryf.

“Ons glo die Reserwebank en minister van finansies moet Capitec onmiddellik in kuratele plaas,” luidens ’n verslag wat omstreeks 10:00 op Viceroy se webwerf geplaas is.

Capitec se aandeelprys het skuins ná 12:00 reeds met meer as 25% gedaal nadat die nuus bekend geword het. Teen 14:15 het die aandeel veld teruggewen, maar was dit steeds nagenoeg 8,4% laer vir die dag.

PSG, wat Capitec se meerderheidsaandeelhouer is met ’n belang van meer asw 30%, het ook meer as 10% van sy markwaarde verloor.

Viceroy het kort nadat Steinhoff in Desember aangekondig het hy het “rekenkundige onreëlmatighede” ontdek, ’n verslag oor dié kleinhandelaar uitgereik waarin hy wys op verskeie verdagte transaksies.

Viceroy is so ver bekend ’n groep van drie beleggers, waarvan twee jong Australiërs is, waaroor weinig bekend is. Die navorsing word nie aan individue toegeskryf nie. Vrae is tydens die Steinhoff-debakel gevra oor of hulle die aandeelprys van firmas manipuleer omdat hulle kort posisies ingeneem het daarop (dus basies gewed het dat die aandeelprys sou daal).

Charl Nel, Capitec se kommunikasiehoof, sê hulle het die verslag op dieselfde oomblik as almal ontvang en het geen waarskuwing gehad nie. Die firma se uitvoerende hoof, Gerrie Fourie, en André du Plessis, finansiële hoof, bestudeer die verslag en sal so gou moontlik ’n verklaring uitreik.

Volgens die verslag het Capitec “massief onderaangegewe wanbetalings”.

Ons glo dis net ’n kwessie van tyd voordat Capitec se syfers en sake ontrafel, met makro-ekonomiese teenwinde wat ’n eksponensiële risiko van wanbetaling en bankrotskap skep.

Viceroy-verslag

Viceroy skryf: “Capitec Bank is ’n Suid-Afrikaans gefokusde verskaffer van mikrofinansiering aan grootliks ’n lae-inkomstedemografie, en tog verdien hulle meer as alle groot handelsbanke wêreldwyd, insluitend mededingende hoërisikoleners. Ons glo nie dié storie nie.

“Viceroy glo dis ’n aanduiding van rooffinansiering wat ons staaf met beduidende persoonlike gesprekke met voormalige Capitec-werknemers, voormalige kliënte, en individue bekend met die onderneming.”

Viceroy verwag dat Capitec heelwat van sy lenings sal moet afskryf. Die situasie word vergelyk met dié van African Bank, wat in 2014 in duie gestort het en deur die Reserwebank in kuratele geplaas is.

“Ons glo dis net ’n kwessie van tyd voordat Capitec se syfers en sake ontrafel, met makro-ekonomiese teenwinde wat ’n eksponensiële risiko van wanbetaling en bankrotskap skep.”

Viceroy beweer dat Capitec óf sy boeke – sowel nuwe lenings as invorderings – kook, óf tot R3 miljard se lenings per jaar uitreik aan mense wat reeds wanbetaal het.

“Regsdokumente wat Viceroy verkry het, toon dat Capitec wanbetalende kliënte geadviseer het en lenings goedgekeur het om bestaande lenings terug te betaal.”

Viceroy sê dit bewys Capitec het roekeloos geld uitgeleen op maniere wat die Nasionale Kredietwet oortree. Volgens Viceroy se berekeninge sal Capitec R11 miljard se lenings moet afskryf.

Viceroy raam ook dat Capitec aanspreeklik gehou gaan word vir “roofsugtige” administratiewe koste van R12,7 miljard indien ’n komende groepsgeding teen die bank slaag.

Viceroy se ondersoek dui daarop dat die afdeling vir veelvuldige lenings ’n nuwe naam gegee is, naamlik “kredietgeriewe”.

Viceroy kap ook die opvatting dat Capitec ’n “goedkoop” lener is, gegewe dat sy rentekoerse baie na is aan die maksimum wat toelaatbaar is.

“Suid-Afrika se mikrofinansieringsektor is die begraafplaas van verskeie Capitec-mededingers wat dieselfde meteoriese groei nagestreef het wat Capitec vertoon, grootliks weens die lae aanvaarding en massa-wanbetalings. Ons sien geen bedryfsverskil tussen Capitec en sy gedoemde voorgangers, insluitend African Bank, nie.”

Dis duidelik Viceroy het gepraat met afgedankte werknemers.

Die verslag lig Jean Pierre Verster, voorsitter van Capitec se ouditkomitee en ’n portefeuljebestuurder by Fairtree Capital, uit as ’n goeie ontleder en hulle moedig hom aan om die kommer wat in die verslag uitgespreek word, met die maatskappy se ouditeure op te neem.

Verster is bekend daarom dat hy ’n kortverkope op African Bank gedoen het voordat die aandeelprys gedaal het. Kortverkope beteken iemand koop aandele met die onderneming om dit later te betaal, wat gedoen word as daar die verwagting van ’n daling is.

Viceroy sluit af met die stelling dat Capitec “onbelêbaar” is. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!