Chaos oor TransNamib-poste
Chaos oor TransNamib-poste

Chaos oor TransNamib-poste

Daar was pandemonium by TransNamib se Ondangwa-kantore toe honderde mense opgedaag het om vir slegs 40 poste aansoek te doen.
Ileni Nandjato
Ileni Nandjato op Ondangwa - Massas werkloses het Dinsdag na TransNamib in Ondangwa opgeruk om vir 40 poste aansoek te doen wat oor die radio aangekondig is.

Daar was pandemonium by die ingangshek - 'n duidelike teken van desperaatheid onder die land se 43,4% werklose jeug.

Weens die hoë werkloosheidsyfer in die land het baie die werwingsmetode veroordeel wat TransNamib gebruik het.

TransNamib het oor die radio aangekondig 40 mense word gesoek vir langtermynkontrakwerk om die 315 km-spoorlyn tussen Oshikango en Tsumeb te herstel.

Honderde werklose jeug van die noordelike streke het by die hekke van TransNamib op Ondangwa opgedaag.

Sommige van die werksoekers het gesê hulle het voor die hek geslaap met die hoop dat die maatskappy die eerstes sal aanstel, maar weens die hoë opkoms was daar geen orde nie.

Werkaansoekers moes hul CV's deur die geslote hek aan amptenare en sekuriteitswagte van TransNamib oorhandig nadat die Ondangwa landelike kiesafdeling-raadslid, mnr. Elia Irimari, die amptenare versoek het om nie die hekke oop te maak nie om 'n katastrofe te vermy.

Werksoekers het uit desperaatheid hul CV's oor die heining gegooi.

“Om so 'n werwingsproses in een dag uit te voer, is 'n groot fout. Ons het TransNamib vroeër geadviseer om werwing deur die streekskantoor te doen, maar hulle het geweier, want hulle het gesê hulle wil 'n regverdige proses hê.

“Ons staar tans 'n hoë werkloosheidsyfer in die gesig en die jeug is gretig om enige geleentheid aan te gryp,” het Irimari gesê.

“By ons kantoor het ons 'n databisis van sowat 800 geregistreerde werklose jeug. As hulle ons genader het, kon ons hulle vriendelik gehelp het.”

TransNamib se uitvoerende hoof, mnr. Johnny Smith, kon nie vir kommentaar bereid word nie.

WERKSOEKERS

Mnr. Kennedy Shikongo van die Uukwandongo-nedersetting naby Okahao in die Omusatistreek het gesê hy is verlede jaar by 'n myn afgedank en toe hy die nuus hoor van TransNamib se poste, het hy na Ondangwa gereis.

“Ek het 03:00 hier aangekom en reeds sowat 100 mense hier gekry. Daar was geen orde nie, want almal wil werk,” het Shikongo gesê.

Nóg 'n werksoeker, mnr. Kliopas Kalenga van Ondobe in die Ohangwenastreek, het gesê hy het op Ondangwa geslaap met die hoop om werk te kry, maar het opgegee.

“Ek het geweier om my CV in te handig weens die groot hoeveelheid mense wat opgedaag het. Hoe kan ek net my papiere sommer net so rondgooi en steeds hoop dat ek 'n werk sal kry? Dit was 'n nuttelose manier om mense te werk. Dis 'n grap!”

'TRANSNAMIB ONPROFESSIONEEL'

Die Popular Democratic Movement (PDM) se raadslid op Ondangwa se dorpsraad, mnr. Johnny Whiteman Martin, het gesê die manier hoe TransNamib se bestuur en personeel die werwingsproses hanteer het, is onaanvaarbaar en 'n belediging vir die Namibiese jeug.

Hy het gesê dit wys nie net hoe onprofessioneel die TransNamib-bestuur was nie, maar 'n mors van aansoekers se geld.

“Geen Namibiër moet aan sulke onprofessionele gedrag onderhewig wees net omdat die maatskappy werk aanbied nie.

“Werkverskaffers moet die werwingsproses op 'n standaard manier hanteer wat sal help om die situasie te vergemaklik en aansoekers gelukkig hou,” het Martin gesê.

“PDM in Ondangwa is gekant teen wat die TransNamib-bestuur gedoen het, en ons vra vir 'n verskoning en die uitstel van die werwingsproses. Dit moet op 'n professionele manier gedoen word sodat alle belanghebendes gelukkig is.”

Martin het gesê die regering moet ook blameer word omdat dit skoolverlaters op straat laat, omdat dit 'n ondoeltreffende onderwysstelsel het, en nie geskikte fondse het vir diegene wat verder wil studeer nie.

Die druip van Engels in graad 10 en 12 lewer 'n baie groot bydrae tot die hoë werkloosheid van die jeug, het Martin gesê.

Hy het gesê dit is tyd dat Engels nie meer as 'n deurkomvak geag moet word nie.

In 2017 het die Namibië Statistieke-agentskap (NSA) aangekondig dat die werkloosheidsyfer 43,4% onder die jeug tussen 15 en 34 was. Om dinge te vererger, is baie mense oor die afgelope twee jaar weens die resessie afgedank.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!