Chinese vissersbote in Namibiese waters gevind
Chinese vissersbote in Namibiese waters gevind

Chinese vissersbote in Namibiese waters gevind

Die vaartuie het glo weens rowwe toestande op see naby Hentiesbaai geanker.
Leandrea Louw
Leandrea Louw - Ses Chinese vissersbote wat verlede week in Namibiese waters ontdek is, word deur plaaslike owerhede ondersoek.

Die bote is tans by die Namibiese vloot op Walvisbaai vasgemeer en die bemanning het die vaartuie nog nie verlaat nie.

Volgens lt.kol Petrus Shilumbu, woordvoer van die Namibiese vloot, is die ses vaartuie verlede Woensdag naby Hentiesbaai ontdek waar hulle van Angola af op pad was.

“Met die vloot se ondersoek is bevind die kapteins van die vaartuie het nie die nodige permitte of toestemming van die Namibiese owerhede om in Namibiese waters te vaar nie. Hoewel vasgestel is die vaartuie het nie vis gevang nie, is dit onduidelik wat hulle daar gedoen het,” sê hy.

'KAPTEINS WEERSPREEK MEKAAR'

Shilumbu het bygevoeg by verdere ondersoek is bevind die vaartuie het ’n vervalsde visvanglisensie van Angola, vanwaar hulle in Maart verlede jaar na Ekwatoriaal-Guineë vertrek het en daar ’n lisensie geweier is.

“Die kapteins se stories weerspreek mekaar.”

Dr. Moses Maurihungirire, uitvoerende direkteur van visserye en mariene hulpbronne, sê die ses vaartuie het hulself in rowwe waters bevind en besluit om naby Hentiesbaai te anker.

“Hulle was van Noord-Afrika via Kaapstad na China op pad. Op hul reis het hulle rowwe see ervaar en besluit om anker te gooi. Omstreeks 02:00 op 27 Maart het die Namibiese vloot tydens hul patrollie op die vissersbote afgekom en besluit om hulle na Walvisbaai te vergesel.

“Amptenare van visserye, werke en vervoer, asook die direktoraat van maritieme sake, het ’n ondersoek van stapel gestuur. Voorlopige ondersoeke dui aan hulle het net verby gevaar. Die vloot het hulle ontdek weens die noodsein wat hulle uitgestuur het,” sê hy.

Maurihungirire sê die vaartuie mag volgens internasionale reg verby vaar.

Mnr. Julius Ngweda, woordvoerder van die ministerie van werke en vervoer, sê ook daar is niks verdag aan die bote nie en het alle vrae na die Namibiese vloot verwys.

CHINESE AMBASSADE

Die Chinese ambassade in Namibië het ’n aanlyn mediaverklaring oor die bote uitgereik.

“Die vaartuie het onskuldige navigasie in Namibiese waters uitgevoer sonder enige verkeerde gedrag soos visstropery. Die rekenaarrekords van die vissersbote se vaarroete en die inspeksie-uitslae wat die Namibiese owerheid het, kan dit bewys,” lui die verklaring.

Die Chinese ambassade se woordvoerder het verduidelik ses Chinese vissersbote het Ekwatoriaal-Guineë op 15 Maart op pad China toe verlaat.

“Weens die rowwe branders het die bote verkies om langs die roete sowat 17 seemyl van die Namibiese kuslyn af te vaar. Om 02:00 op 27 Maart is die ses Chinese vissersbote weens veiligheidsredes deur die vloot na Walvisbaai vergesel,” sê die verklaring.

“Op 28 Maart het die owerhede van die Namibiese visserye, gesondheid, vloot en polisie vir inspeksies aan boord van die Chinese bote gegaan en die nodige hulp aan die Chinese bemanning verskaf.

“Volgens die Verenigde Nasies se konvensie oor mariene reg, geniet buitelandse vissersbote die reg op onskuldige deurgang en vryheid van navigasie.”

Die Chinese ambassade het die Namibiese vloot vir hul humanitêre bystand bedank.

“Ons is in verbinding met die toepaslike Namibiese owerhede om te verseker die Chinese vissersbote kan so gou moontlik na China terugkeer.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!