Chiradza hoor lot in Julie
Chiradza hoor lot in Julie

Chiradza hoor lot in Julie

Die dokter van Otjiwarongo het in die hof getuig hy het probeer om te rem en om die voertuig terug in sy baan te stuur.
Denver Kisting
Denver Kisting op Karibib – Dokter Yevai Chiradza het gister onder kruisverhoor toegegee hy kan nie bewys dat sy gehuurde voertuig se band wél gebars het nie.

Volgens hom het hy ’n harde slag aan die regterkant van die voertuig gehoor waarna die Volkswagen Polo na die regterbaan beweeg het.

Hy voer aan wat daarna ontvou het, het binne ’n breukdeel van ’n sekonde gebeur.

Dít het glo daartoe gelei dat hy nie die voertuig kon beheer nie, het Chiradza gister aangevoer.

Op vrae van die staatsaanklaer, mnr. Dalon Quickfall, het Chiradza gesê hy het glo probeer om te rem en om die voertuig terug in sy baan te stuur.

“Ek het probeer, maar misluk. Alles het so skielik gebeur.”

Quickfall het Chiradza ingelig die staat glo nie die dokter se weergawe dat die band gebars het nie.

Hiernaas, het die staatsaanklaer gesê, is die staat van mening Chiradza wil geen verantwoordelikheid aanvaar vir die lewensverliese wat hy veroorsaak het nie.

“Ek hét verduidelik ek is jammer vir die lewensverliese. Dit is ongelukkig,” was die beskuldigde se antwoord.

Chiradza se regsverteenwoordiger, mnr. Willem Visser van Grootfontein, het kapsie gemaak deur te sê die bewyslas is dié van die staat en nie sy kliënt s’n nie.

Quickfall het gisteroggend die staat se saak gesluit nadat hy vyf getuies geroep het.

Dié vyf was onder meer twee insittendes van ’n Mazda waarteen Chiradza eers gebots het voor hy reg van voor teen ’n Kia vasgery het.

Hiernaas het Quickfall ook vir mnr. Johan Junius geroep. Junius is een van slegs twee mense van die Kia se vyf insittendes wat die ongeluk oorleef het.

Twee polisiebeamptes het ook namens die staat getuig.

Nadat die staat sy saak gesluit het, het Visser vir Chiradza geroep om in sy eie verdediging te getuig.

Volgens dié mediese dokter was hy op die dag van die ongeluk op reis van Otjiwarongo na Swakopmund, waar hy ’n slypskool namens sy werkgewer, die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, sou gaan aanbied.

Hy en Visser het gister ’n ongesertifiseerde afskrif van ’n kwitansie aan die hof voorgehou.

Volgens Chiradza is die kwitansie twee dae voor die ongeluk uitgereik toe hy die gehuurde voertuig se band op Otjiwarongo laat herstel het nadat hy ontdek het dit was pap.

Die landdroshof op Karibib het die afgelope twee dae gehoor dat die band, wat na bewering gebars het, nooit ná die ongeluk opgespoor is nie.

Visser is van mening dat die polisie nie noukeurig genoeg na die band op die ongelukstoneel gesoek het nie – ’n weergawe wat Quickfall betwis het.

Quickfall het gister gesê die staat is van mening dat, sou die band inderdaad gebars het, dít gebeur het nadat Chiradza teen die Mazda van die Windhoekse sakeman, mnr. Marius Dessels, gebots het en nie vóór Chiradza aan die verkeerde kant van die pad beland het nie.

Dié gru-ongeluk tussen Karibib en Usakos het op 12 Julie 2015 gebeur en die lewens van die susters, mee. Welmine Louw en Alet Junius, en Louw se seun, mnr. Konrad Louw, geëis.

Me. Alet Junius se enigste kind, me. Sonja Junius, was die ander oorlewende.

Die landdros, me. Unchen Konjore, het die saak tot Vrydag 13 Julie vanjaar vir haar uitspraak uitgestel.

Quickfall wou onsuksesvol by die hof weet of dit ’n goeie idee is dat die partye op dié dag, wat in bygeloof gehul is, op reis gaan.

Die staatsaanklaer het vroeër tydens slotbetoë die hof gevra om Chiradza aan strafbare manslag, roekelose en nalatige bestuur én aan onbedagsame bestuur skuldig te bevind.

Visser het op sy beurt aangevoer die staat het nié bo redelike twyfel die saak teen sy kliënt bewys nie en derhalwe moet Chiradza vrygespreek word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!