Cites-sekretariaat verwerp Namibiu00eb se voorstelle
Cites-sekretariaat verwerp Namibiu00eb se voorstelle

Cites-sekretariaat verwerp Namibië se voorstelle

Konferensie het finale sê oor wettiging van ivoorhandel
Estelle de Bruyn
Ellanie Smit - Met die vurige debat oor ’n voorstel vir die wettiging van ivoorhandel wat steeds in die land heers, het die sekretariaat van die Konvensie op Internasio­nale Handel in Bedreigde Spesies (Cites) aanbeveel dat Namibië se voorstel verwerp word.
Die nuus kom voor die 17de vergadering van die Konferensie van Partye (COP17) van Cites wat van 24 September tot 5 Oktober in Suid-Afrika plaasvind. Tydens die byeenkoms sal 62 voorstelle oorweeg word oor ’n toename of afname in beheermaatreëls vir internasionale handel en wildlewe en wildprodukte, wat deur 64 partye van oor die hele wêreld voorgelê is. Nagenoeg 500 spesies kan deur hierdie voorstelle geraak word.

Namibië maak twee voorstelle­
Namibië het aan die hand gedoen dat die aantekening in die lys spesies van die Namibiese Afrika-olifantbevolking in Appendix II verwyder word deur enige verwysing na Namibië uit te haal.
Dit sou Namibië toegelaat het om handel in ivoor te dryf. In ’n afsonderlike voorstel stel Namibië en Zimbabwe voor dat Appendix II gewysig word om ook die Zimbabwiese verwysing uit te haal.
Hierdie voorstelle is gemaak op grond van die uitgangspunt dat “’n beheerde bemarkingstelsel die regering in staat sal stel om geld in te vorder vir bewaringsprogramme en om onwettige stropery te bekamp”.
Die Cites-sekretariaat het aanbeveel dat albei voorstelle verwerp word.
Regerings wat deel van Cites is, sal die evaluerings en aanbevelings in ag neem wanneer hulle besluit om voorstelle te aanvaar of te verwerp.

Ivoor is hernubare bron
’n Plaaslike ekoloog, mnr. Peter Cunningham, het aan Namibia Media Hold­ings gesê ivoor is ’n hernubare bron wat op ’n volhoubare manier benut kan word indien ’n wetenskaplike proses gebruik word.
“In die 1980s het ons olifante uitgedun, maar dit is gestaak as gevolg van die internasionale bohaai hieroor. Ek verstaan nie hoekom Westerse lande aan Afrika wil voorskryf wat om te doen nie,” het hy gesê.
Hy sê indien kwotas afgelas word vir die uitdunning van olifante oor die hele land, ivoor op ’n volhoubare manier benut kan word en dat die vleis as voedingsbron aangewend kan word.
Cunningham sê olifantgetalle in Namibië en elders in Afrika het toegeneem en dit verhoog mens-dier-konflik. Terwyl sommige mense van mening is dat die wettiging van ivoorhandel stropery kan laat toeneem, is dit Cunningham se siening dat ivoor soos diamante is. Hy sê dit is nie iets wat mense nodig het nie, maar ’n kommoditeit wat geskep is.

‘Meer risiko’s as voordele’
Die Cites-sekretariaat het egter tot die slotsom gekom dat indien Namibië se voorstel aanvaar word, ivoor en ander items van die Namibiese olifant­bevolking in internasionale kommersiële handel sou beland.
Die sekretariaat het aangevoer dat enige veronderstelde bykomende plaaslike voordele uit ivoorhandel aansienlik minder as die betekenisvolle risiko is wat wettige handel vir olifante in die algemeen inhou.
Ivoorverkope van Namibië sal ’n groter vraag in verbruikerslande skep en kriminele netwerke stimuleer, wat nie net Namibië se olifante nie, maar olifante oor die hele vasteland in gevaar sal stel.
Volgens Cites het die Namibiese olifantbevolking met meer as 150% of 13 800 diere toegeneem sedert dit in 1997 op die lys in Appendix II bygevoeg is.
Die sekretariaat sê die grondrede van Namibië se voorstel wentel om die skepping van positiewe aansporingsmaatreëls om by olifantbewaring betrokke te raak, verdraagsaamheid vir konflik tussen olifante en mense te laat toeneem asook om die opbrengs uit die verkoop van olifantprodukte te gebruik om bewaringsprogramme te finansier.
Olifantprodukte vir handel sal alleenlik uit natuurlike en bestuurde vrektes kom en geen olifant sal doodgemaak word spesifiek met die doel om ivoor of ander produkte te bekom nie.
Die sekretariaat se aanbeveling wys egter daarop dat Namibië se voorstel geen melding van kwotas maak nie.
“Besonderhede word ook nie verskaf van voorkomende maatreëls oor toekomstige handel in rou of verwerkte ivoor nie, wat daarop dui dat hierdie sake deur aanbevelings in die dokument oor besluitnemingsmeganismes oor die ivoorhandelproses hanteer sal word, wat by COP17 bespreek sal word.1396986481

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!