CNN het regering mislei - Tweya
CNN het regering mislei - Tweya

CNN het regering mislei - Tweya

Vir die eerste keer sedert Namibië se skending van VN-resolusies meer as twee jaar gelede aan die lig gekom het, is 'n ministeriële verklaring gister daaroor in die Nasionale Vergadering gemaak.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Die versekering is gister opnuut in die Nasionale Vergadering gegee dat Namibië volkome aan resolusies van die Verenigde Nasies (VN) se veiligheidsraad asook sanksies teen Noord-Korea voldoen.

Dit is by wyse van 'n ministeriële verklaring deur die minister van inligting en kommunikasietegnologie, mnr. Tjekero Tweya, gedoen. Hy is die eerste kabinetslid om 'n woord te rep oor die omstrede ekonomiese betrekkinge wat Namibië sedert onafhanklikwording met Noord-Korea geniet. Die skending van VN-sanksies het in 2015 aan die lig gekom en Republikein het deurlopend daaroor berig, met min of geen antwoorde van die regering nie.

Tweya het ook die nuusnetwerk CNN gekritiseer. Hy sê die CNN-joernalis David McKenzie het onder valse voorwendsels 'n onderhoud met die adjunkpremier en minister van internasionale betrekkinge en samewerking, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, bekom. McKenzie het aangedui dat hy 'n onderhoud met Nandi-Ndaitwah wou voer oor Namibië se rol in streekstabiliteit en die land se impak op die globale verhoog. Die onderhoud is op 10 Oktober toegestaan en tydens die onderhoud is eers ontdek dat McKenzie vrae oor Noord-Korea wou vra.

Desnieteenstaande het die Nandi-Ndaitwah omvattende antwoorde verskaf, wat egter grootliks deur McKenzie in die geredigeerde nuusberig uitgelaat is.

"Die CNN-verslaggewer het verkies om die wêreld te mislei en nie die volle verduideliking wat die adjunkpremier en minister gegee het uitgesaai nie," het Tweya gesê.

Verslae

Hy het ook die beskuldiging van die voorsitter van die VN-paneel van deskundiges, mnr. Hugh Griffiths, ontken dat Namibië nie bewyse aan die paneel verskaf het dat ekonomiese bande wel met Noord-Koreaanse maatskappye verbreek is wat spesifiek deur sanksies geteiken word nie.

Hy sê Namibië het by twee geleenthede verslae aan die paneel voorgelê. Die eerste was op 31 Maart 2015 en die tweede op 3 Junie 2016. Hierbenewens is bykomende inligting op 2 Junie 2015 en 16 November 2015 verskaf. 'n Vrywillige verslag is ook op 8 April vanjaar by die sanksiekomitee ingedien.

Hy het ook opnuut Namibië se volle verbintenis tot die implementering van VN-sanksies op Noord-Korea bevestig.

Desondanks sê hy: "Die regering van Namibië sal egter die hartlike diplomatieke betrekkinge handhaaf wat met Noord-Korea bestaan."

'Boelie'

Ná afloop van Tweya se toespraak het die speaker, mnr. Peter Katjavivi, gesê Namibië moet nie toelaat dat die land “geboelie" word nie.

Katjavivi wou weet of Namibië, wat "onregverdig behandel", is by die sekretaris-generaal van die VN kapsie daarteen wou maak, waarop Tweya gesê het dit sal inderdaad gedoen word.

Mnr. Mike Kavekotora van die Rally for Democracy and Progress (RDP) het op sy beurt gesê hy kan nie sien hoe CNN die regering om die bos gelei het deur te sê die onderhoud sou oor globale aangeleenthede gaan nie, aangesien Noord-Korea wel 'n globale kwessie is. Hy sê ook die tydsverwysings wat Tweya oor die nakoming van sanksies gee, strook nie met die tyd wat die laaste Noord-Koreaan uiteindelik uit die land is nie.

Tweya was weer op sy voete en het gesê die VN-sanksies skryf voor dat Namibië nie met sy vriende kan sake doen nie. "Nou doen ons nie met hulle sake nie, maar ons bly vriende."

Hy sê Namibië het sover gegaan om die vliegtuigkaartjienommers en selfs die vlugtye waarop die Noord-Koreane die land verlaat het, aan die VN te gee.

Die adjunkminister van internasionale betrekkinge en samewerking, me. Maureen Hinda, het op haar beurt gesê dit is nie in die CNN-onderhoud duidelik wanneer die onderhoud met Griffith gedoen is nie en dat dit "'n jaar of twee gelede" kon wees.

Chaos het in die NV uitgebreek toe verskeie lede van die opposisie op ordepunte begin aandring het. Die speaker het hierop die Huis vir die teepouse verdaag.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!