Coetzee en De Villiers bobaas in sneeuberge

Bergfietsry
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Drikus Coetzee en Yolande de Villiers het Saterdag op indrukwekkende wyse die Trans Baviaansberg-bergfietsren in die Suid-Kaap oor 227 kilometer se elite gemengde spanafdeling gewen.

Die marathon het Saterdagoggend agtuur in ysige weer vanaf Willowmore na Jeffreysbaai weggespring. Die temperature onder vriespunt het vir sneeu, hael en reën op die roete gesorg.

Coetzee en De Villiers (Coopetto/Davin Sporttrust) was teen gemiddeld 26.4 km/h die vinnigste span deur die Baviaanskloof, gevolg deur Erick Heyns en Wayne van der Walt wat uiteindelik die manspanafdeling gewen het. Coetzee en sy spanmaat was derde algeheel in die resies (8 ure 36 minute 42 sekondes).

Hulle het met ’n massiewe gaping van 1:15:06 voor die naaste gemengde span oor die eindstreep voor die Fountains-inkoopsentrum in Jeffreysbaai gery.

Die gesoute De Villiers (48) het vroeër vanjaar die elite Suid-Afrikaanse bergfietsmarathon-vrouetitel gewen nadat sy van ’n slegte beenbreuk herstel het.

Sy het laat in April 2019 tydens die Trek2Teebus-byeenkoms naby Steynsburg in die Vrystaat teen amper 50 km/h haar linkerbeen gebreek. Die slegte breuk het haar tibia en kuitbeen aan flarde gelaat (vier bloeiende oop frakture) en moes met ’n operasie geheel word.

De Villiers het aan Republikein gesê: “Dit was my en Drikus se eerste resies saam. Ons het sommer dadelik goed oor die weg gekom en het regtig uitstekend saam gejaag. Hy is ’n masjien en is supersterk. Hy het mooi na my gekyk en ek dink ons het regtig baie goed saam gery.

“Dit was vir my ’n groot eer en voorreg om die resies saam met hom te doen. Ek dink ons sal definitief in die toekoms nog baie kompetisies saam aanpak. Hy is ’n stunning ou op én van die fiets af.”

Coetzee het vertel: “Ons het in temperature onder vriespunt weggespring en soos ons gery het, het dit warmer geraak. Die laaste stuk het ons weer in die reën en snerpende koue gery.

“Die naweek was glo van die moeilikste kondisies wat ryers in die Trans Baviaans nóg ervaar het. Dit was ons eerste resies saam en dus is ons algehele derde plek baie goed.

“Met Yolande se gereelde spanmaat wat nie meer in Suid-Afrika is nie, beplan ons om nog byeenkomste as ’n gemengde span te pak. Die Trans Baviaans was ’n toetslopie om te sien of ons kan kliek en ’n goeie span kan maak. Die resultaat is beslis positief en ons sal weer saam ry.”

Van die voorste uitslae:

Algeheel: 1 Erick Heyns/Wayne van der Walt (8:21:29), 2 Gawie Combrinck/Gerrit de Vries (8:22:46), 3 Yolande de Villiers/Drikus Coetzee (8:36:42).

Gemengde spanne: 1 Yolande de Villiers/Drikus Coetzee (8:36:42), 2 Bruce Campbell/Tracey Almirall (9:51:48), 3 Fienie Barnard/Kobus Barnard (10:13:51).

• Coetzee, wat tans op die padfiets die nasionale kampioen in tydtoets én padresies is, sal ’n sterk aanspraakmaker wees om ’n plek na die 2022 Statebondspele in Birmingham te verdien

Hy sê in bergfietsry fokus hy toenemend op die marathon-afstande, vanweë sy aanleg as uithou-atleet. “Ek vat dinge maar stap vir stap. Vir nou is my volgende fokus op die Nedbank Desert Dash ingestel.”

[email protected]

Drikus Coetzee en Yolande de Villiers saam met een van die borge tydens die prysuitdeling ná die Trans Baviaans-resies.
Yolande de Villiers nadat sy van haar beserings herstel het. Foto's verskaf

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!