Covid-19 kan vooruitgang met MIV uitwis
UNAids beraam 62% van nuwe MIV-infekterings is onder kwesbare bevolkings en hul seksmaats.
Henriette Lamprecht
Deur die behoeftes van kwesbare bevolkings te ignoreer in die tyd waarin die Covid-19-pandemie wêreldwyd woed, kan die vooruitgang uitgewis word wat in die stryd teen MIV/vigs gemaak is.
Om in die lig van die pandemie aan hierdie sleutelbevolkings en migrante kwaliteit, nie-diskriminerende MIV-voorkoming, behandeling, sorg- en ondersteuningsdienste en gesondheidsdienste in die algemeen beskikbaar te stel, is daarom noodsaaklik.
Volgens die gesamentlike program van die Verenigde Nasies (VN) vir MIV/vigs (UNAids) se werksgroep vir sleutelbevolkings moet dié dienste gebaseer word op respek, beskerming, die verwesenliking van menseregte, ongeag van bestaande strafmaatreëls, beleidsrigtings en praktyke.
“Sleutelbevolkings” is dié wat spesifieke vorms van uitsluiting, kriminalisering, ongelykheid en diskriminasie ervaar wat hulle veral kwesbaar vir MIV (en nou ook vir Covid-19) maak. UNAids beraam 62% van nuwe MIV-infekterings is onder sleutelbevolkings en hul seksmaats.
Die verslag verwys veral na mense in tronke en plekke waar sosiale afstand moeilik is en wat uiters vatbaar vir Covid-19 is.
“Mense in tronke het ’n hoër voorkoms van MIV en tuberkulose (TB), wat weer ’n hoër risiko vir komplikasie inhou sou hulle met Covid-19 besmet word. Dieselfde geld vir migrante wat deur ’n hoër risiko vir MIV in die gesig gestaar word,” lui die verslag.
Met verwysing na die LGBT-gemeenskap word ook ’n verhoogde risiko van huishoudelike en gesinsgeweld tans ervaar, tesame met verhoogde maatskaplike isolasie en struikelblokke om noodsaaklike MIV-behandeling te kry.
UNAids se nuutste verslag Seizing the Moment maan dienste moet billik wees, gegrond op ingeligte toestemming, vertroulik en veilig – vir gemeenskappe sowel as gesondheidsorgwerkers.
In die lig van die huidige Covid-19-pandemie en die inperkings wat dit teweeg gebring het, stel die verslag veilige toegang tot tuisgebaseerde MIV-toetsing sowel as berading.
Waar moontlik moet drie tot ses maande se voorraad van anti-retrovirale middels (ARV’s), sowel as behandeling vir TB en virale hepatitis voorsien word om voortgesette behandeling te verseker, MIV-oordrag en ook die risiko van Covid-19 te verminder.
Mense wat dwelms gebruik, moet volgens die verslag ook toegang tot verskeie dosisse vir die vervanging van opiate hê om tuisbesoeke en moontlike blootstelling aan Covid-19 te verminder.
Alternatiewe tot tronkstraf, waar toegelaat, vir nie-gewelddadige misdade kan ook lewens red, veral vir misdade wat nie in internasionale wetgewing opgeneem is nie.
Maatreëls van vroeë vrylating moet vir spesifieke kategorieë mense wees wat ’n hoë risiko vir Covid-19 het, insluitend bejaardes en individue wat deur chroniese siektes en ander gesondheidstoestande geraak word. Dié maatreëls moet ook geld vir swanger vroue, vroue met afhanklike kinders, gevangenes wat die einde van hul tronkstraf nader, sowel as diegene wat vir geringe misdade tronk toe gestuur is.
Beskermende maatskaplike noodmaatreëls is nodig vir sleutelbevolkings, volgens die verslag, omdat hulle dikwels uitgesluit word van maatskaplike dienste soos behuising en gesondheidsversekering. Hulle werk ook dikwels in haglike omstandighede.
“Diensverskaffing moet voortgaan om verskille in geslag en ouderdom in oorweging te bring. Dit moet voldoende menslike hulpbronne, finansiering en materiaal hê.”
Die verwoestende uitwerking van strawwe en wette om oordrag en blootstelling aan Covid-19 te kriminaliseer op mense wat reeds gemarginaliseer is, is volgens die verslag duidelik gedokumenteer deur die globale kommissie vir MIV en die wet.
“Ons sal Covid-19 nie kan stop as sommige mense nie toetsing kan bekostig of nie toegang daartoe het nie.
“Ons moet verseker enige reaksie op die siekte of enige pandemie of gesondheidsnoodtoestand los nie sleutelbevolkings, migrante en ander weerlose groepe agter nie.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie