Covid-19: Regering oorweeg u2018gepaste stappeu2019
Covid-19: Regering oorweeg u2018gepaste stappeu2019

Covid-19: Regering oorweeg ‘gepaste stappe’

In sewe dae het 83 gesondheidswerkers positief vir Covid-19 getoets.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die regering oorweeg gepaste maatreëls in reaksie op die ontwikkelende Covid-19-pandemie in Namibië nadat getalle Vrydag ’n nuwe rekord van 324, met die oorgrote meerderheid in Windhoek, aangeteken is. Dit was die hoogste sedert 316 gevalle op 23 Augustus aangekondig is, net meer as drie en 'n half maand gelede.

Van Vrydag tot Sondag is 508 nuwe gevalle in die hoofstad aangeteken, terwyl die totaal vir die land oor dieselfde tydperk op 763 gestaan het. Binne ‘n week het 83 gesondheidswerkers positief vir Covid-19 getoets.

Die land se Covid-19-verwante sterftesyfer het ook met nog twee tot 160 gestyg.

“In reaksie hierop oorweeg die regering gepaste maatreëls in reaksie op die ontwikkelende situasie,” het die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, bevestig.

Volgens hom ervaar die ministerie tans nie lang rye by sy toetssentrums nie, maar sal bykomende toetsgeriewe oorweeg om toegang vir toetsing verder te vergemaklik. Sedert die uitbreking van die pandemie in Maart is 175 923 weefselmonsters getoets.

Met verwysing na die gebruik van blitstoetse in Namibië, het die minister gesê wanneer dit in die land in gebruik geneem sal word, sal dit oorwegend by grensposte wees. Tans word polimerase kettingreaksie of PCR-toetse gebruik.

Die blitstoetse is goedkoper as PCR-toetse en verskaf uitslae binne 15 tot 30 minute. Die vinnige antigeentoetse is ’n byvoeging tot PCR-toetse, is meer as 80% akkuraat en meer betroubaar in pasiënte met simptome, ’n hoë virale lading of wat baie van die virus in hul boonste lugweë het.

Intussen het me. Esme Botes, voorsitter van die Namibiese Vereniging vir Private Gesondheidsgeriewe (NAPH), gesê ’n toename in gevalle word in die hoofstad se vier private hospitale, naamlik Lady Pohamba Privaat Hospitaal, Rooms-Katolieke Hospitaal, Rhino Park Privaat Hospitaal en Mediclinic Windhoek ervaar.

Die vier hospitale het reeds vroeër die jaar ’n reaksieplan teen die pandemie in werking gestel. Volgens Botes kommunikeer die betrokke hospitale se bestuur daagliks met mekaar en “help en ondersteun mekaar om die situasie te hanteer”.

“Ons bel mekaar gereeld om beskikbare beddens te bevestig,” sê Botes

Volgens haar beperk die betrokke hospitale steeds besoekers soos nodig en wat insluit een per pasiënt vir ‘n beperkte tyd.

Met verwysing na die uitvoer van elektiewe operasies, het sy gesê die hospitale wag op riglyne van die ministerie rakende operasies. Sy het egter beklemtoon die “gewone pasiënt” is ook geregtig op behandeling.

“Ons poog dus om almal na die beste van ons vermoëns te akkommodeer.”

Botes het ‘n beroep op die publiek gedoen om te hou by die vasgestelde reëls en regulasies.

“Dra maskers, bly weg van samedrommings, hou sosiale afstand en doen alles moontlik om jouself en jou mense te beskerm.”

Elk van die vier betrokke hospitale het ‘n aantal beddens beskikbaar wat aan Covid-19-pasiënte toegeken is. Sodoende word voorsiening gemaak dat Covid-19-pasiënte, sowel as nie-Covid-19-pasiënte in die betrokke hospitale gehelp kan word. Die reaksieplan fokus onder meer op die beskikbaarheid van beddens wat in verwante sale beskikbaar gestel word.

Volgens Botes beteken dit daar is ’n “satelliettak” in elke uithoek van die hoofstad, insluitend sentraal, om Covid-19-pasiënte te ondersteun.

Uit gister se 267 nuwe gevalle wat aangekondig is, is 25 gesondheidswerkers, met Windhoek wat weer eens die hoogste getal infeksies en wel 190 het. In sewe dae het 83 gesondheidswerkers positief getoets. Gister se 25 gesondheidswerkers sluit 15 in Windhoek, vyf in die Karasburg-distrik, twee in die Khorixas-distrik en een elk op onderskeidelik Grootfontein, Swakopmund en Gobabis.

Die aantal mense wat tot op hede herstel het, het teen gister op 14 684 gestaan, terwyl die aktiewe gevalle tans 1 689 is. Hiervan is 15 gevalle baie ernstig of kritiek. Dit sluit 11 baie ernstige en drie kritieke gevalle in Windhoek en een kritieke geval in Erongo in. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!