Covid-fopnuus kos vragreus N$9 miljoen
Covid-fopnuus kos vragreus N$9 miljoen

Covid-fopnuus kos vragreus N$9 miljoen

Fopnuus oor die Covid-19-status van 'n vervoermaatskappy se lorriedrywers, het tot verliese van miljoene gely.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Vir die eerste keer sedert die noodtoestand afgekondig is en regulasies uitgevaardig is om die nasie teen die coronavirus te beskerm, is 'n Namibiër gister vir die verspreiding van fopnuus oor Covid-19 in hegtenis geneem en beboet.

Dit volg nadat 'n stemboodskap met vals nuus oor lorriedrywers wat Covid-19 het, soos 'n veldbrand versprei het. Die Windhoekse musikant George van Straten van G-String het 'n familielid op Walvisbaai via WhatsApp ingelig “al die lorriedrywers van FP du Toit Transport toets blykbaar ­positief vir Covid-19” en hernude inperkings is op pad.

Die verspreiding van dié fopnuus het tot verliese van sowat N$9 miljoen vir die vragreus gely. Die aanstuur van fopnuus oor die Covid-19-pandemie is in die noodtoestandregulasies gekriminaliseer en is gevolglik 'n misdaad.

Daarvolgens is dit onder meer 'n strafregtelike oortreding om 'n ­stelling te maak wat ten doel het om iemand te mislei oor die Covid-19-­status van iemand anders.

Mnr. Stephan Terblanche, uitvoerende hoof van FP du Toit Transport, het gister aan Republikein gesê die stemboodskap het verreikende gevolge gehad.

Die vervoermaatskappy het 'n kontrak verloor en die doeltreffende op- en aflaai van vragte is ook nadelig beïnvloed omdat kliënte gevrees het dit is nie veilig om met hul drywers en vragmotors in kontak te kom nie, sê hy.

“Ons is al 52 jaar in die bedryf en almal ken die groen lorries van FP du Toit Transport. Die fopnuus het ons besigheid groot skade berokken. As die wiele nie rol nie, kos dit ons geld. En as gevolg van hierdie storie was daar baie oponthoude,” sê hy.

Van Straten het gister by navraag gesê hy het die inligting van iemand op Walvisbaai ontvang wat noue bande met die buurtwaggroepe het.

“My hele familie bly op Walvisbaai en die meeste van hulle werk by FP du Toit Transport. Ons het 'n lang familiegeskiedenis met die maatskappy.

“Ek het dit in 'n private stembood­skap aan my dogter gestuur omdat ek bekommerd oor hulle was,” sê hy.

Volgens hom het sy dogter hom dadelik teruggebel en die regte inligting, naamlik dat net een lorriedrywer positief getoets het, met hom gedeel.

Van Straten sê hy “het dit nie uitgesaai nie” en weet nie hoe dit gebeur het dat die stemboodskap soos 'n veldbrand versprei het nie.

Hy sê beide hy en sy dogter het die stemboodskap dadelik van hul selfone gewis.

Hy het skuld beken, maar sê aangesien hy as kunstenaar in Maart laas 'n inkomste verdien het, kan hy nie die boete van N$2 000 bekostig nie. Sy bron op Walvisbaai wat die vals inligting aan hom gekommunikeer het, sal die geld vir hom oorbetaal, sê Van Straten.

“Ek vra nietemin verskoning vir die ongerief wat ek vir FP du Toit (Transport) en hul personeel en kliënte veroorsaak het. Daar was nooit enige kwaadwillige ­voorneme nie,” het hy in 'n verklaring aan die media gesê.

Walvisbaai is Donderdag opnuut vir sewe dae teruggeplaas in fase 1 van die staat van inperking. Die hawe­dorp het tans drie aktiewe gevalle – twee mans wat aan boord van 'n vissersboot was wat vrag na die Demokratiese Republiek die Kongo geneem het, asook een van FP du Toit Transport se vragmotor­bestuurders. Dié sewe dae verstryk vandag. 'n Aankondiging is nog nie van regeringskant gemaak oor of dit verleng of verlig gaan word nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!