Covid is nie jou speelmaat: Laat jou inent
Covid is nie jou speelmaat: Laat jou inent

Covid is nie jou speelmaat: Laat jou inent

Entstowwe is een van die doeltreffendste wapens wat die mens het om siektes te beveg, skryf drie kenners.
S. Jay Olshansky, Leonard Hayflick en Ronald Hershow – 'n Federale regter in die VSA het 'n aansoek van werkers by 'n hospitaal in Houston wat nie teen Covid-19 ingeënt wou word nie omdat hulle beweer entstowwe is onveilig, van die hand gewys.

Regter Lynn Hughes het op 12 Junie die aanspraak verwerp dat die ent­stowwe eksperimenteel en gevaarlik is.

As wetenskaplikes op die vakgebiede van openbare gesondheid, aansteeklike siektes en entstof-ontwikkeling weet ons dat sulke bewerings nie net vals is nie – dit is ook dodelik.

Deur die loop van die geskiedenis het entstowwe die mensdom in staat gestel om virale siektes suksesvol te bestry, tot op die punt waar sommige selfs uitgewis is.



VERSTERK DIE IMMUUNSTELSEL

Entstowwe is een van die mees innoverende ingrypings in openbare gesondheid in die mediese geskiedenis.

Dit aktiveer die mees doeltreffende menslike wapen teen virusse wat bestaan – ons eie immuunstelsel.

Entstowwe wys die immuunstelsel hoe die virus lyk sodat ons liggame spesifieke teenliggame vir daardie virus kan vervaardig. Dié teenliggame heg dan aan die virus en maak dit onskadelik of vernietig dit.

Benewens die teenliggame, genereer die immuunstelsel limfosiete wat spesifiek geprogrammeer is om na virusse te soek, aan dit te bind en dit te vernietig.

Saam herken die teenliggame en immuun-aktiewe limfosiete virusse en word dit dikwels vernietig selfs voordat die gasheer weet hulle is daaraan blootgestel.

Die immuunreaksie kan ook die gevolge van die infeksie verskraal tot iets wat uit niks meer as ligte simptome bestaan nie.



bRNA-entstowwe

bRNA-entstowwe bevat slegs die genetiese kode vir die proteïne (spike proteins) wat die Covid-19-virus gebruik om aan selle te heg. Die kode stel die immuunstelsel in staat om dié proteïne te herken en teenliggame te vervaardig.

Wanneer die eintlike Covid-virus sy opwagting maak, is die immuunstelsel gereed om teenliggame te maak wat verhoed dat die virus deur middel van die proteïne selle kan binnegaan.

Dié tegnologie is net nuut in die sin dat dit nog nie ontplooi is toe Covid-19 sy verskyning gemaak het nie. Toetse met bRNA-tegnologie is al sedert die vroeë 1990's aan die gang.

Dit het minder as 'n jaar geduur om 'n bRNA-entstof teen Covid-19 te ontwikkel. Dit het nie gebeur omdat die proses gejaagd was nie, maar omdat koronavirusse reeds met vorige uitbrekings in detail bestudeer is.

Die korttermynreaksies wat baie mense ondervind wanneer hulle inentings kry, soos spierpyne en moegheid, is omdat die liggaam sy immuunstelsel versterk om die opdrag wat dit pas gekry het uit te voer en die pro­teïen aan te val.

Dié reaksie is 'n goeie teken – dit beteken dat jou immuunstelsel werk. Hou in gedagte dat geeneen van die entstowwe wat vandag gebruik word die siekte kan veroorsaak wat dit ontwerp is om te verhoed nie.



NIE RISIKOVRY NIE

Virale entstowwe is egter nie risikovry nie.

Omdat die mensdom so divers is, sal daar altyd 'n piepklein deel wees wat nie goed op een of meer van die entstof se bestanddele reageer nie.

Maar dieselde risiko's geld ook alledaagse medisyne wat gereeld gebruik word, soos aspirien of insulien.

Mense gebruik sulke medisyne steeds omdat die voordele baie meer as die risiko's is.

Daar was berigte wat dit wil hê dat mense dood is kort nadat hulle die entstof ontvang het en dat dit die gevolg daarvan was. Maar geen kousale verband tussen sulke sterftes en die Covid-19-entstof kon bevestig word nie. Dit is waarskynlik dat die meeste van hierdie sterftes toevallig was.

Mense moet ook onthou dat vroeë inentingsveldtogte gemik was op bejaardes. Gegewe hul gevorderde ouderdom en verswakte gesondheidstoestande, is dit nie 'n verrassing dat 'n getal in die tydperk ná inenting aan natuurlike oorsake of ander siektes wat gereeld onder bejaardes voorkom, dood is nie.

Dit beteken nie dat die entstof dié sterftes veroorsaak het nie.



VEILIGSTE INGRYPINGS

Entstowwe tel onder die veiligste ingrypings teen virale siektes – en dit werk nie op grond van sintetiese middels wat aan ons toegedien word nie, maar deur ons eie immuunstelsels te aktiveer en gereed te maak om virale aanvallers te herken en te vernietig.

As die roete van virale oordrag tot so 'n mate geblokkeer kan word dat kudde-immuniteit bereik word, kan die siekte wat deur die virus veroorsaak word – en soms die virus self – minder voorkom of verdwyn.

Vir virale entstowwe om doeltreffend te wees, is dit nie net voldoende dat slegs 'n paar mense ingeënt word nie.

Diegene wat verkies om nie ingeënt te word nie, stel nie net hulself bloot aan risiko's en die dood nie. Hulle kan ook dien as reservoirs waar virusse aktief kan bly en kan muteer en potensieel dodeliker vir almal kan word – selfs vir dié wat reeds ingeënt is.

Daar is reeds Covid-19-variante wat makliker oordraagbaar is, kwaadaardiger is en wisselende vermoë het om die immuniteit wat entstowwe verskaf te omseil.

Die feit dat 'n nuwe wapen ontwikkel en aangewend is om Covid-19 te beveg, beteken dat die mensdom se stryd teen alle virale siektes met hernieude ywer voortgesit kan en moet word.

As mense kies om nie enige van die entstowwe te gebruik nie, sal dit 'n tragiese negering wees van ons kollektiewe verantwoordelikheid en dit sal een van die mensdom se belangrikste ontdekkings in openbare gesondheid ignoreer.

Almal van ons moet ons deel doen as ons die stryd teen Covid-19 en ander virusse – en die siektes, gesondheidsrisiko's en dood wat dit meebring – wil wen.

• Olshansky is professor van epidemiologie en biostatistiek aan die Universiteit van Illinois in Chicago, Hayflick is professor van anatomie aan die Universiteit van Kalifornië in San Francisco, en Hershow is mede-professor in epidemiologie en biostatistiek aan die Universiteit van Illinois in Chicago. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

- Ontleen aan Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!