Covid keer nie kankerarts
Covid keer nie kankerarts

Covid keer nie kankerarts

’n Spesialischirurg van Suid-Afrika het uit sy pad gegaan om sy Namibiese kankerpasiënte tydens die inperking by te staan.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – “Kanker verdwyn nie net omdat Covid-19 op die toneel verskyn het nie.”

So sê dr. Justus Apffelstaedt, 'n spesialischirurg in bors-, skildklier- en paratiroïedgesondheid sowel as sagteweefselchirurgiese onkologie wat sowat ‘n week gelede ná omvattende reisreëlings tussen Suid-Afrika en Namibië vir die suksesvolle operasies van drie Namibiese vroue in die buurland verantwoordelik was.

Apffelstaedt maak van gevorderde onmiddellike rekonstruksietegnieke ná ‘n mastektomie gebruik wat nie in Namibië beskikbaar is nie.

Die drie vroue tussen die ouderdomme van 29 en 64 jaar is uiteindelik Sondag 31 Mei en Maandag 1 Junie geopereer nadat dit weke geneem het om die administratiewe struikelblokke te oorkom om na Kaapstad te reis.

Volgens Apffelstaedt was daar ‘n tekort aan duidelike kommunikasie en wou dit voorkom asof daar nie enige gevestigde “genadepad” vir dringende, maar wel nie noodgevalle is nie. Regulasies vereis ook kwarantyn van twee weke aan beide kante van die grens ten spyte van die moontlikheid van huurvlugte en die reël van veilige vervoer.

“Dit was eenvoudig geweldig uitdagend om aan hierdie vroue die bes moontlike kans in hul stryd teen kanker te gee,” het hy gesê.

Volgens Apffelstaedt, wat ‘n praktyk in Kaapstad het en Windhoek een keer per maand besoek, het sy praktyk in die lig van die Covid-19-pandemie ‘n “massiewe afname” in vroue gesien wat inkom vir toetsing. ‘n Beduidende aantal kankerpasiënte het ook hul konsultasies of behandelings uitgestel.

Dit sal volgens hom mettertyd lei tot meer gevorderde kanker wat gediagnoseer word en meer intensiewe en duur behandeling vereis.

Aanvanklik sou nege van Apffelstaedt se Namibiese pasiënte na Suid-Afrika vir hul operasies reis. Een het egter haar rekonstruksie laat vaar en het ‘n mastektomie by ‘n plaaslike chirurg gehad.

Twee pasiënte wag met betrekking tot hul behandeling totdat Covid-19 die wyk neem, terwyl ses na Suid-Afrika probeer kom het vir behandeling.

“Uit laasgenoemde het een pasiënt vir drie maande geen spesifieke behandeling ontvang nie, nie eers induksiebehandeling nie. Die ander pasiënte is by een tot drie maande ná chemoterapie. Daar is ook ander pasiënte in die pyplyn wat byna hul chemoterapie voltooi het,” sê Apffelstaedt.

Volgens hom het die meeste pasiënte plaaslik gevorderde borskanker of veral aggressiewe borskankers gehad wat chemoterapie as aanvanklike behandeling voor chirurgie vereis.

“Vir hierdie gewasse is dit baie belangrik om chirurgie te ondergaan wanneer die gewasse so klein as moontlik is,” sê Apffelstaedt.

Die oomblik wanneer die chemoterapie toegedien is, is daar volgens hom ‘n geleentheid van ongeveer een tot ses maande vir chirurgie voordat die gewasse weer begin groei.

“Die beste aanwyser vir die verdere prognose van die pasiënt ná chemoterapie is die volume van die gewas wat tydens chirurgie gevind is. Dit is waarom tydige chirurgie so geweldig belangrik is,” beklemtoon Apffelstaedt.

Een van die vroue, me. Francie van der Merwe (55), is sedert haar terugkeer uit Suid-Afrika in kwarantyn in ‘n gastehuis in Windhoek. Van der Merwe het 31 Mei ‘n mastektomie en rekonstruksie by Mediclinic Louis Leipoldt ondergaan. Sy het saam met haar seun, wat saam met haar in kwarantyn is, per motor na Suid-Afrika en terug gereis.

Volgens Van der Merwe is sy plaaslik vir Covid-19 getoets voordat sy na Suid-Afrika gereis het. Sy en haar seun het ook “redelik maklik” oor die grens gekom danksy die voldoende permitte en briewe wat hulle gehad het.

Met hul terugkeer is hulle egter vanaf Noordoewer deur die polisie begelei en in elke distrik aan die volgende een “oorgegee”.

“In elke distrik is ons temperatuur getoets, jy mag nie uit jou motor klim nie. Tussen Keetmanshoop en Mariental is ons deur twee polisievoertuie met sirenes, een voor en een agter, begelei.

Saam met Van der Merwe en haar seun is nog nege persone in die gastehuis in kwarantyn. Spesiale reëlings moes getref word om te verseker haar dokter kan haar in kwarantyn besoek.

“Die personeel van die gastehuis is baie vriendelik, maar die Covid-19-personeel is vaag en onduidelik. Ek weet nog glad nie wanneer word ek getoets nie, tot op hede het hulle nog net ons temperatuur gemeet. Ek weet nie of ek twee weke hier sal moet bly en of ek by die huis sal kan selfisoleer nie. Ek het geen probleem met kwarantyn nie, maar ek voel wel sekere situasies het meriete,” sê Van der Merwe.

Apffelstaedt het op sy beurt beklemtoon “ons is dit aan ons kankerpasiënte verskuldig om te verseker hul lewens word nie as gevolg van hierdie pandemie in gevaar gestel nie.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!