Covid knak velskoenprojek op Satco

Tanja Bause
Tanja Bause - Die Doen en Sien Self-leerprojek op die klein nedersetting Satco, sowat 10 kilometer buite Karasburg, is deur die Covid-19-pandemie en die gebrek aan toeriste geraak.

Die vroue van dié projek maak handgemaakte velskoene wat hulle hoofsaaklik aan Suid-Afrikaanse toeriste verkoop – ‘n inkomste wat vanjaar drasties afgeneem het.

Me. Maria Koper, ’n stigterslid van die groep het vertel hoe die gebrek aan toeriste hulle negatief geraak het.

“Ons bestellings en verkope het baie afgeneem soveel so dat ons nie nou geld het om nuwe leer in Windhoek te koop nie. Dus al kom die bestellings nou in, kan ons nie leer bestel nie. Ons sal ’n plan moet maak sodat ons ons voorraad kan opbou vir wanneer die toeriste weer kom,” het sy gesê.

Die Doen en Sien Self-leerprojek is 22 jaar gelede in ’n sinkhuis met 14 mense begin. Aanvanklik het die vroue stukkies oorskotleer van die boere van die omgewing gekry om die skoene te maak. Hulle het hulle geld gespaar en begin om leer van ’n looiery in Swakopmund en toe later van Nakara in Windhoek te bestel.

Die projek het in 2002 geldelike hulp van die destydse ministerie van plaaslike regering en behuising en die ministerie van geslagsgelykheid ontvang.

“Met dié geld het ons toerusting gekoop en ook ’n tweede kamer aangebou,” het Koper gesê.

In 2013 het ||Kharas se plaaslike owerheid vir hulle ’n gebou gegee waaruit hulle vandag nog werk.

Intussen het die vroue ook begin om items uit krale te maak om te verkoop. Volgens me. Hilda Vries het hulle daarmee begin met die hoop om ’n bykomende inkomste te verdien.

“Die gemeenskap op Satco bestaan hoofsaaklik uit pensioenarisse en werksgeleenthede is skaars. Ons moet doen wat ons kan en as die skoene weens ’n gebrek aan toeriste en leer nie verkoop nie, dan moet ons ander maniere kry om ’n inkomste te verdien,” het sy gesê.

Intussen was mense van die ||Kharas-plaaslike owerheid by die vroue en het vir kwotasies gevra van wat hulle behoeftes is.

“Ons benodig net leer en dan kan ons aangaan. Daar is hoop en ons is vol vertroue ons kan in Januarie met die ondersteuning van die plaaslike owerheid weer volstoom met die velskoenproduksie voortgaan,” het Koper gesê. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!