Covid-reëls
Die nuwe regulasies behoort goeie nuus te wees vir diegene wat die feesseisoen graag familie en geliefdes in ander lande wil besoek.
Elvira Hattingh
Kinders jonger as vyf jaar wat deur Namibië se grense beweeg, hoef nie langer van 'n Covid-19 toets vergesel te word nie.
Terselfdertyd sal Namibiërs, diegene met permanente verblyf of werkspermitte in Namibië die land binne mag kom sonder enige toets of met 'n positiewe toets – onderhewig aan kwarantyn.
Dit is van die nuwe maatreëls teen Covid-19 wat pres. Hage Geingob gistermiddag by Staatshuis tydens die 20ste openbare inligtingsessie oor nasionale reaksieplanne teen die virus aangekondig het.
Die nuwe maatreëls geld tot 25 Januarie 2021.
“Persone wat nie Namibiese burgers is nie, sal steeds 'n negatiewe Covid-19 PCR-toetsuitslag moet toon om die land binne te kom. Die toets mag nie ouer as 72 uur wees nie,” het die president gesê en bygevoeg dit geld nie vir diegene jonger as vyf jaar nie.
Indien die toets wel ouer as 72 uur is, sal nie-Namibiërs onder kwarantyn geplaas word, maar nog op dieselfde dag op eie onkoste getoets word. Indien die uitslag negatief is, sal hulle die kwarantyngeriewe kan verlaat, maar as dit positief is, sal hulle op eie onkoste geïsoleer word.
BURGERS
Wanneer terugkerende Namibiers, diegene met permanente verblyf of werkspermitte in Namibië sonder 'n Covid-19 toets by die grens opdaag, sal hulle dadelik met hul aankoms getoets en onder kwarantyn geplaas word.
Indien die uitslag negatief is, sal hulle uit kwarantyn gelaat word.
Indien dié persone egter met 'n positiewe toetsuitslag by die grens aankom, sal hulle óf in geskikte geriewe of tuis kan isoleer – maar dan moet die huis eers deur 'n gemagdigde mediese beampte goedgekeur word.
REGISTERS
Winkels en sakeondernemings hoef nie meer 'n register van al hul besoekers by te hou nie.
Registers moet egter steeds gehou word tydens openbare byeenkomste, soos by begrafnisse, troues, kerkbyeenkomste, sportgeleenthede en byeenkomste vir vermaaklikheid.
Steeds net 200 mense mag tydens openbare geleentheid bymekaarkom en organiseerders word aangemoedig om sulke geleenthede in die buitelug aan te bied.
Die verkoop van alkohol by sjebeens, kroeë en nagklubs, mag nou tot middernag volgehou word. Die onderneming moet egter seker maak mense handhaaf sosiale afstand en handontsmetmiddels moet altyd beskikbaar wees.
EKONOMIE
Geingob het gesê die regering is besig met die finale voorbereidings van 'n holistiese herstelprogram vir die ekonomie.
“Die Harambee-welvaartsplan (HPP) vir die komende vier jaar (2021–'25), wat die ekonomiese herstelprogram insluit, sal in Februarie 2021 bekend gestel word,” het die president gesê.
Dit volg ná groot werksverliese, verminderde produktiwiteit, die sluiting van sakeondernemings, asook verminderde persoonlike inkomste. Geingob sê die volle omvang van die impak op die ekonomie moet nog bepaal word.
TOERISME
Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het gister gesê toeriste beskou Namibië tans as 'n veilige hawe teen die pandemie en dat, sedert die toerisme-herlewingsinisiatief van stapel gestuur is, het 4 164 toeriste reeds in die land aangekom. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie