Craven se mantel oorgeneem

’n Titaniese stryd word vandag, maar veral Sondag in die elite mansresies verwag.
Tielman van Lill
Sportredaksie – Groot prestige is op die spel vir die topkandidate wanneer die Namibiese Fietsryfederasie (NCF), met Nedbank Namibië as hoofborg, vandag en Sondag die nasionale padfietskampioenskap noord van die hoofstad aanbied.
Die individuele tydtoets (ITT) sal vandag eerste wegspring met die elite- en o.23-mans wat vanaf 15:00 oor 40.84 kilometer vir die gesogte nasionale titel meeding.
Die elite vroue, junior mans en vroue, subveteraanmans en -vroue, veteraanmans en -vroue, meestersmans en -vroue, grootmeestersmans asook o.16- en o.14-meisies en seuns (20.4 km) sal ook een-een wegspring vir hul eie stryd teen die stophorlosie.
Drikus Coetzee, die huidige tydtoetstitelhouer wat nog nie 100 persent van sy onlangse operasie ná ’n gebreekte sleutelbeen herstel het nie, sê: “Ek verwag die tydtoets gaan uiters straf wees. Ek sal my beste lewer om vir die vierde opeenvolgende jaar as nasionale kampioen bekroon te word.
“Met die platterige roete behoort ons rekordsnelhede te sien. Daar is ’n moontlikheid dat ons vir die eerste keer gaan sien hoe ’n Namibiër meer as 50 km/h handhaaf. Die weervoorspelling lyk ook belowend, dus kan ’n vinnige wentyd verwag word.”
In die elite mans tydtoets was Coetzee (55:00 minute) verlede jaar meer as tien minute vinniger as die tweede geplaaste Marckernzy Eiseb en die res.

PADRESIES
Die 2020-kampioen Dan Craven se afwesigheid, vir die eerste keer in onlangse jare, sal die ander aanspraakmakers geweldig aanspoor om hierdie kans aan te gryp.
Craven, wat Maandag sy 38ste verjaarsdag gevier het, is reeds ná sy sege verlede jaar as die land se verteenwoordiger by die Olimpiese Spele in Tokio bevestig.
Craven het gisteraand ná druktyd laat weet: “Ek is baie hartseer om die nasionale kampioenskap mis te loop.
“Om huis toe te kom vir dié doel beteken altyd vir my baie.
“Om die plaaslike fietsrytoneel te ondersteun en te sien hoeveel dit elke jaar groei, is altyd ’n hoogtepunt.
“Hierdie Februarie is my fokus egter ietwat anders. Ek en my vrou verwag ons tweede kind vroeg in Maart en onder geen omstandighede kan ek die risiko loop om in hierdie Covid-tye te reis nie.
“Met die globale impak in ag geneem, is dit vir my ’n geringe prys om te betaal. Ek is baie gelukkig dat ek in Spanje kan wees, my kop kan af hou en aanhou oefen vir Tokio.”
Die elite en o.23-mans (150 km) spring Sondagoggend seweuur eerste weg, gevolg deur die elite vroue, junior mans en subveteraan mans wat 116 km ry. Die veteraan mans en subveteraan vroue ry 102 km, gevolg deur die ander kategorieë.
Hoewel Coetzee nie op sy beste peil is nie, sal hy soos altyd sy beste lewer. Nietemin wag stywe teenstand van ’n handvol potensiële uitdagers.
Alex Miller (19), wat die 2020 FLM individuele tydtoetsreeks gewen het, sal vandag by die wegspringstreep wees om Coetzee opnuut uit te daag.
Miller, wat onlangs by ’n nuwe professionele bergfietsspan aangesluit het (Team Trek Vaude, gebaseer in Switserland), is benewens sy bergfietsprestasies uiters veelsydig en het Craven in 2019 naelskraap verslaan om as die nasionale padfietskampioen bekroon te word.
Tristan de Lange, vir wie Craven verlede jaar met ’n haarbreedte geklop het, het gewis ook die stamboek om die topprestasie van sy lewe op die padfiets te kan byvoeg. Martin Freyer (nasionale padresieswenner in 2018), Kai Pritzen asook veterane soos Ingram Cuff en Gerhard Mans Junior het ook die vermoë om ’n faktor aan die voorpunt te wees.
Die belowende Hugo Hahn, tot laas jaar nasionale junior kampioen, sal sy debuut in die o.23-kategorie maak omdat hy vanjaar 19 jaar oud word. By die o.23-mans het Dieter Koen (nou 19) laasjaar sy talent bevestig en het welverdiend beide die Vrydag en die Sondag gewen.
Spoedvrate soos Marc Pritzen (gewese RSA o.23-padfietskampioen en gebore Windhoeker) is ook hier om sy stempel af te druk.
Daarby is ’n gros Nederlanders hier vir ’n voorseisoense oefenkamp en gereed om die pap dik aan te maak, met Daniel Abraham straks die voorste aanspraakmaker.
VROUE
Die elite-vroueresies word die afgelope jare deur Vera Adrian-Looser oorheers. Die 27- jarige Looser is terug in die land om haar titel te verdedig en met Michelle Vorster nie in die bondel nie, ná haar gesin se onlangse verhuising na Nieu-Seeland, kan die 2016 Olimpiër opnuut ’n nasionale wennerstrui by haar versameling voeg.
Sy sal nietemin rekening moet hou met haar rateltaaie MBM-spanmaat Risa Dreyer, Gabriela Raith, Anneke Steenkamp, Michelle Döman, Robyn-Lee Swartz en Zoe Mitchell wat tans op goeie peil is.
Die heersende junior vrouekampioen, Monique du Plessis, het sedertdien geweldig in statuur gegroei. Sy sal weer Sondag as junior ryer haar opgang wil onderstreep.
• Die prysuitdeling vir beide items sal Sondag om 14:00 voor die Nedbank-gebou by Ausspanplatz aangebied word. Slegs die topdrie ryers in elke afdeling word genooi om die okkasie by te woon. Streng Covid- 19-protokol sal gedurende die drie byeenkomste gehandhaaf word en ryers word aangemoedig om ná hul deelname die toneel te ontruim.

BLY VEILIG
Mnr. Axel Theissen, die NCF-president, wens alle deelnemers sterkte toe.
“Dit verskaf vir ons almal groot genot om gedurende die Covid-19-tydperk byeenkomste te kan aanbied. Daar is ’n rekordgetal (ongeveer 100) inskrywings vir die individuele tydtoets ontvang en nagenoeg 150 vir die padresies. Dit is ’n klinkende sukses en bewys hoe goed fietsry gegroei het. Hierdie is verreweg die grootste nasionale kampioenskap wat die NCF tot dusver moes reël!
“Ek wil graag Nedbank vir hul volgehoue steun bedank. Ek wil padgebruikers vra om Vrydagmiddag en Sondagoggend asseblief versigtig in die omgewing van Brakwater op die B1-hoofpad te bestuur en op die uitkyk vir fietsryers te wees,” het die president gesê.
• Gernot de Klerk, woordvoerder van Nedbank, sê dié borg is nie om dowe neute by fietsry betrokke nie.
“Met die wonderlike werk wat die NSF saam met die onderskeie organiseerders doen, het ons oor die afgelope jare die beste moontlike grondslag vir fietsry geskep om ontwikkeling vir die sportkode aan te vuur.
“Om die nasionale tydtoets- en padfietskampioenskap die naweek aan te bied, is opnuut ’n goeie getuigskrif vir die bank se beleggings wat deurentyd vrugte afwerp. Ons is gretig om te sien hoe fietsryers van kaliber opgelewer word, terwyl byeenkomste van internasionale gehalte plaasvind,” het De Klerk gesê.
[email protected]


FOTO
Enkele van die fietsryers om dop te hou die naweek. Voor in die middel is die Nederland Tim de Vries, ’n driemalige Paralimpiese wêreldkampioen in handfietsry, wat vandag ook in die tydtoets sy verstommende vermoëns gaan uitstal. Weerskante is die Cymot-spanlede Pierre Knoetze, Jurgen Sander, Fanie Steenkamp en Marc Pritzen. Agter is Drikus Coetzee en die Nederlander Daniel Abraham. Foto verskaf

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!