Cycle Challenge word onbepaald uitgestel

Ander byeenkomste mag voortgaan, maar die Cycle Challenge se reusegetalle sou dinge tans moeilik maak.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Die grootste fietsbyeenkoms in die land, die Nedbank Cycle Challenge, is onbepaald uitgestel.

Volgens beplanning sou die byeenkoms op 14 en 21 Februarie 2021 plaasgevind het, onderskeidelik vir die bergfiets- en padfietsryers.

“Die Nedbank Cycle Challenge word as ons land se oudste kompeterende fietsrit beskou en sy ontstaan kan tot 1986 nagespeur word,” sê Nedbank Namibia se woordvoerder, mnr. Gernot de Klerk.

“Gesamentlik lok die drie resiese – Nedbank Kidz Challenge, Nedbank MTB Challenge en Nedbank Cycle Challenge padfietsbyeenkoms – bykans 2 000 ryers. Die besluit was dus 'n pynlike een, maar ons glo dit is die verstandige optrede, omdat ons graag die huidige gesondheidsmaatreëls wil ondersteun.”

De Klerk sê 'n besluit oor herskedulering sal geskied sodra gesondheidsregulasies dit toelaat.

“Ons weet die fietsrykalender is redelik vol. Datums is vasgeknoop vir resiese in sowel die Nedbank Windhoek Pedal Power padfietsreeks as die Nedbank Rock & Rut bergfietsreeks later vanjaar, wat dalk vir 'n herskedulering van die Nedbank Cycle Challenge kan dien.”

De Klerk het waardering uitgespreek vir rolspelers soos medeborge NHP en Coca-Cola, asook die leiding van die Namibiese Sportkommissie (NSC) en die Namibiese Fietsryfederasie (NCF).

Die Sportkommissie se hoofadministrateur, mnr. Freddy Mwiya, sê die NSC ondersteun die organiseerders se besluit om dit uit te stel.

“Ons het omvattende beraadslaging met Nedbank Namibia gehad, veral rakende die uitstekende fietsrybyeenkomste wat hulle aanbied, asook hul mildelike steun aan die sport se ontwikkeling in Namibië.

“By laas naweek se openingsbyeenkoms van die Nedbank WPP-reeks het ons gesien organiseerders is verbind tot handhawing van die maatreëls, maar 'n geleentheid van die omvang van die Cycle Challenge vereis 'n veel meer omvattende benadering om veilige sosiale afstand te verseker.”

Die Namibiese Fietsryfederasie se president, mnr. Axel Theissen, sê die NCF het begrip vir die uitstel van die Nedbank Cycle Challenge.

“Nedbank verdien lof vir hul weldeurdagte benadering. Ons fietsryers het kompeterende resiese van hierdie gehalte nodig om hul talent en vaardigheid te ontwikkel, maar nie ten koste van enige risiko vir hul gesondheid nie.”



NASIONALE KAMPIOENSKAP

Die nasionale padfietskampioen­skap, ook geborg deur Nedbank, word nietemin binnekort gehou.

Die individuele tydtoetskampioenskap is vir Vrydag 5 Februarie bestem, voor die padresieskampioenskap op die Sondagoggend.

Theissen sê: “Hoewel die toekenning van Olimpiese plekke vir Tokio 2021 reeds afgehandel is en hierdie uitslag dus geen invloed daarop sal hê nie, hou die nasionale kampioenskap steeds vir die topryers gesogte en waardevolle punte op die UCI-ranglys in. Dit geld vir die elite, o.23 en junior (o.18) UCI-kategorieë vir mans en vroue.

“Ons sal die tydtoets aanbied op 'n nuwe deel van die Westelike Verbypad, noord van die padblokkade op die Okahandjapad, wat nog nie tevore vir fietsry gebruik was nie. Die padresies sal by Carin Park by Brakwater begin en eindig.”

• Einde Februarie (Saterdag 27ste) begin die Gravel & Dirt-bergfietsreeks met die eerste byeenkoms op Okapuka.

Die volgende oggend sal padfietsryers vir die derde byeenkoms in die WPP-reeks kan aantree.

Die nasionale bergfiets-marathonkampioenskap is vir Saterdag 6 Maart bestem.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!