Cyril moet SA se aansien by G7 'herstel'
Cyril moet SA se aansien by G7 'herstel'

Cyril moet SA se aansien by G7 'herstel'

Suid-Afrika moet nie vasval in die dramatiese uitval tussen pres. Donald Trump van Amerika en die res van die G7-lande nie en eerder daarop fokus om die land se internasionale aansien te herwin.

Dít was die advies van prof. Anthoni van Nieuwkerk, ’n kenner oor internasionale politiek by die Universiteit van die Witwatersrand se skool vir regeerkunde, nadat Trump die afgelope naweek die verenigde front wat die G7-lande ná sy spitsberaad voorgehou het, verbreek het.

Pres. Cyril Ramaphosa het ook dié spitsberaad, wat Vrydag en Saterdag in Quebec, Kanada gehou is, as gas bygewoon.

Trump het die spitsberaad egter vroeg verlaat en ná die tyd op Twitter ’n paar boodskappe geplaas wat dit laat blyk het dat hy vies is vir Justin Trudeau, premier van Kanada.

In sy twiets het Trump Trudeau as “oneerlik en swak” bestempel. Dit volg nadat Trudeau op ’n mediakonferensie ná die spitsberaad Amerika se invoertariewe as beledigend beskryf het.

Trudeau het op die mediakonferensie verwys na vergeldingsmaatreëls wat Kanada volgende maand sal instel in reaksie op Trump se besluit om invoertariewe op staal en aluminium uit Kanada, Mexiko en die Europese Unie in te stel.

Suid-Afrika sal ook hierdeur geraak word.

Die vakbond Solidariteit het verlede week aangekondig dat hy ’n petisie op die Withuis se petisiewebwerf geregistreer het as deel van ’n poging om druk op die Amerikaanse regering te plaas om invoer uit Suid-Afrika van die tariewe vry te stel.

Van Nieuwkerk het gesê Suid-Afrika het onder oudpres. Thabo Mbeki laas ’n behoorlike stoel aan die G7-tafel gehad, een wat Mbeki gebruik het om namens die hele Afrika te beding.

'VERLORE AANSIEN'

“Ons aansien in die G7 het onder oudpres. Jacob Zuma se twee termyne egter verlore geraak.

“Pres. Ramaphosa is nou besig om dié verlore aansien te herwin. Dit is daarom goed vir Suid-Afrika dat hy die G7-beraad bygewoon het.

“Ongelukkig het hy hom daar vasgeloop in die dramatiese Trump-gebeure. Trump se beledigings teenoor ander G7-lidlande is ongekend en ongehoord.”

Van Nieuwkerk meen egter dat Suid-Afrika nie moet vasval in die twis tussen Trump en ander G7-lidlande nie.

“Ons is internasionaal ’n baie klein speler. Ons het onlangs ons plek teruggewen in die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad en moet eerder daardie soort geleenthede gebruik om polities, strategies en ekonomies namens ons en die res van Afrika te beding.

“Ons moet die situasie daarom goed lees en versigtig en nie oorhaastig teen Trump optree nie. Ons het ook nie die diplomatieke mag om Trump te beïnvloed nie.”

Sy advies is dat as Suid-Afrika se regering wel moet kant kies, dit beter sal wees om die land aan die kant van die Europeërs en die Chinese te skaar.

Van Nieuwkerk is egter optimisties dat Ramaphosa en Lindiwe Sisulu, minister van internasionale verhoudinge en samewerking, besig is om Suid-Afrika se internasionale aansien te herstel.
- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!