Daai groepiemammas
Hulle's orals.
Op skoolgroepies, klasgroepies, hokkiegroepies, rugbygroepies, eksamengroepies, bidgroepies, Juffrou Verjaar-groepies, Meneer Tree Af-groepies, EBW-taakgroepies, Mia/Keanu/Patella-Marié/Jan-Binneboud Verjaar-groepies of Ons beter geld insamel-groepies.
Hulle's almal op WhatsApp.
As jy nog nie deel van so 'n groepie was nie, het jy nie 'n kind nie, of jou kind is nog nie in Graad 1 nie, of jou kind is nie meer 'n kind nie, want die Vader weet, die oomblik wat Chanicolouise 'n tassie in die hand het, begin die gegroepiery.
En die groepietjies werk soos evolusie: Dis net die fiksstes wat hier oorleef.
Op 'n groepie moet jy twee goed weet: Wie's wie en wat is die reëls. En op die meeste groepies werk hierdie twee goed dieselfde.
Kom ons kyk eers na die mammas (en daai een pa wat so nou en dan dié heilige estrogeengedrewe ruimte om een of ander duistere rede betree).
Eerstens kry jy die gatkruip-ma wat voor in die koor oor alles is. Sy stem oor alles saam en gebruik graag verkleinwoordjies. Sy's net 'n kortkoppie agter die hoofmeisie-ma.
Niemand hoef te wonder wie die hoofmeisie-ma is nie. Sy sal vir jou sê wie sy is. Daai ma wat in 2004 reeds vir 2021 se matriekafskeid begin geld insamel het. Sy bak koek nog voor die koekverkoping op die Communicator afgekondig is, en sy't reeds ál Andriehella se rapporte vir haar hele skoolloopbaan sommer vooruit geteken.
Dan is daar die sluiper-ma wat alles lees, maar óf te bang is om 'n woord te sê, óf net nie 'n moer omgee nie. Of dalk in die verlede 'n ontoepaslike grappie gemaak het en nou persona non grata op die groepie is. Ek was al daai ma.
Dan is daar die Wat gaan aan, julle?-ma. Dis ook ek. Sy het gewoonlik nie die memo gekry nie, want sy's of te dof of sy werk te hard. Sy wil gewoonlik ook weet watter dag van die week dit is. En sy kan nie koek bak nie.
Die Lekker Daggie-ma gebruik graag die platform om selfhelp-dagstukkies vir uitmekaarvallendes te deel. Sy weet ons het almal eintlik net baie drank nodig, maar ons praat nie daaroor nie.
Die Hou op grappies maak-ma is daai een wie se lippies jy oor cyber space kan hoor dun trek wanneer dit te lekker op die groepie begin gaan. Hou vir julle in man, magtag.
Die Kom ons bid-ma maak seker ons weet waarmee sy besig is, en dis beslis nie met drank nie.
Dan is daar die Het julle hierdie gehoor?-ma wat allerhande fake news oor nuwe dwelms, aardbewings en wegrapings aanstuur.
En dan is daar daai een pa wat wil weet of Manie nog op die sypaadjie vir hom wag.
Groepiereëls werk as volg: Geen onder-die-belt-grappies nie. O nee, hier is ons almal virgins en ons rook, drink en vloek glad nie. Asseblieftog.
Juffrou moet ook asseblief as “Juffrou” aangespreek word. Dit maak nie saak of Juffrou 'n naam het nie, en of jy Juffrou se ouma kon gewees het nie. Juffrou is Juffrou.
Groepielede is nie Marié, Louise of Tanya nie. Jy is nét iemand se mamma. Let wel, nie “ma” nie, maar “mamma”. Jy's “Anya se mamma” of “Duan se mamma” of “Jakkie se mamma”. Moet jou nou nie ongeskik hou en jouself 'n regte egte naam gee nie.
Maar alle grappies op 'n stokkie – wat my die meeste pla van groepies, is dat dit net uit ma's bestaan. Wat is fout met mans dat hulle nie daarop is nie? En moenie sê julle't nie tyd want julle werk nie – ma's werk ook, dis lankal nie meer die Middeleeue waar vrouens by die huis moet bly nie.
Volgens my is daar geen verskoning vir pa's om nie ook by reëlings rondom hul kinders betrokke te wees nie . . . of sal ons dan te veel Margarets kry?
Of is dit Juffrou wat net die “mammas“ na die groepiepartytjie uitnooi?

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie