Die BRUT(ale) offensief
Die BRUT(ale) offensief

Die BRUT(ale) offensief

Tielman van Lill
Al wat mens is, ervaar of ondervind mos in een of ander stadium as blote sterfling en homo sapiens hier op Moeder Aarde ’n onnodige (en dikwels duur) geit.

Diesulkes sal hul nuutgevonde passie met oorgawe najaag, wat heel moontlik hul medemens (of gade) kan grief, óf ’n tydige en welkome plesiertjie aan ’n individu (soos ’n hoërskooljuffrou se neus) kan verskaf.

Onlangs verkas ons as span met ’n bussie vannie kampinie vir ’n oornagwegbrekie na ’n bekende bestemming (vir ons, ja) suid van die hoofstad, waar ons eie Brawe Daniëltjie, Republikein se redaksiehoof, vir ’n wyle aan stuur van sake gaan staan om sekere SOP-sake te bevestig en opnuut aan ’n spul balhorige joernaliste uit te lê soos wat Josef van ouds met ’n koning se lawwe drome gedoen het.

Ek het ’n vae vermoede daai koning se drome is moontlik meer geïnspireer deur sy geliefde papirus-schnapps en selfgedraaide papegaaislaaizol wat hy sawens daar op die dak van sy paleis genuttig het.

Maar voor ons koppe bymekaarsit, word elkeen deur Dani opgedeel en terstond na ons kamers verwys om sy ietwat leë oornagsakkie en ander dergelike nodighede te gaan verskans. Ek beland saam met Augetto en my vorige roomie en medesportjoenalis (jis, bos), Andrew, in ’n ruim kamer wat oor die uitgestrekte vlaktes van Hebron uitkyk.

Ek raak vir ’n wyle verlore in die panoramas, maar merk onverwags ’n beweging aan my linkerkant wat ek geensins verwag het nie. Ek skrik my 180 grade na links, want ek het my sekerlik 730 dae laas in ’n vollengte spiëel in helder daglig gesien. In my volle glorie staan ek daar, een mens kompleet met pens wat vir my vreemd lyk. Ja, ek weet ek is 15 kg dikker as twee jaar gelede, maar het nie dié tipe spesiale effek verwag nie.

Gendadiglik moet ek vinnig die vertrek verlaat, want my medetrawante het reeds stelling ingeneem om die SOP-perigheid te bespreek. Terwyl ek oor my toekoms en figuur sit en broei, word onduidelikhede duidelik gemaak.

Kyk, ek was van laerskool af geweldig netjies op myself gewees en het al van toe af ’n spuitdingetjie van Ma Truida gekry om Maltahöhe se onwelkome somersreuke op ‘n erge warm dag hok te slaan.

Dit laat my weer onwillekeurig terugdink aan die jaar van BRUT. Ja, dis so ’n groen botteltjie wat iewers in die vroeë tagtigerjare hier ter plaatse op die jeug en mans losgelaat is. Eers was dit net ’n deodrintjie en onderarmrol wat aangeskaf is. Maar ek veronderstel toe die verskaffer sien daar is ’n BRUT-loop aan’t ontwikkel, het hy sy hele reeks op die rakke bekend gestel.

Behalwe die deodrintjie en aanrolgeitjie het sjampoo (dalk ’n konditjionêr ook), haarsprei (ja, vir mans!), skeerrroom, aftersjyf en ’n pikante eau de cologne (wie onthou vir ouliekolounie?) hul teenwoordigheid aan jong latte soos ek en ander oorgretige en maklike teikens geopenbaar.

Ek het die hele kaboedel aangeskaf. En oral waar van toepassing met kwistige oorgawe aangewend. As die BRUT-mense my destyds net kon sien en ruik, sou hulle my onmiddellik ’n lywige kontrak van etlike miljoene as die BRUT-man aangebied het.

Maar sonder Facebook, Instagram, Twitter en WhatsApp was die kanse maar skraal. Anyway, so beland ek die dag in die Ingilse klas. Of die petieterige juffrou Engelssprekend was, kan ek nie onthou nie.

Maar ek beland voor in die klas langs haar tafel. Ek staan daar in my maagdelike tiener-onskuld en smaail vir my pelle wat sit en strooi aanjaag, terwyl sy my werk bestudeer.

“Tielman,” sê sy.

“Yes ma’m,” gooi ek.

“What are you wearing?” vra sy tot my stomme verbasing.

“Wear?” dink ek hardop.

My hamstertjie wat hoeka nie op sy wieletjie was nie, val in sy hokkie rond terwyl ek probeer klein kry waar ek wat moet en nie moet dra nie. Ek meen daar is sokkies en die ander benodigdhede, maar ek kry nie die knellende vraagstuk in sekondes opgelos nie.

“Where ma’m?” vra ek ná twee benoude slukke.

“Don’t be funny with me, you know exactly what I’m talking about!”

Wel, meer as stomgeslaan kon ek as onskuldige bloedjie nie wees nie. Ná juffrou haarself duideliker gemaak het, kon ek sonder omhaal aan haar verduidlik wat ek “where wear”.

“Oh, okay, it smells nice,” sê sy, “I must get my husband some.”

Wel, ek en BRUT het nog ’n lang pad gestap met Ouerige Speserye as kompetisie wat later jare sterk na vore getree het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!