'Die gemis skielik groter'
Henriette Lamprecht – Die gemis is skielik groter en dit voel asof iets van hom weggeneem is. Hy verlang, sê 'n inwoner van die Oude Rust-versorgingsoord vir bejaardes in Windhoek wat ná 'n week of wat se vryheid om te kom en gaan soos hul wil, nou weer tot die oord beperk is.
Hy erken die hokmaatreëls is noodsaaklik, maar mis die vryheid om “in my kar te kan klim en by my familie te kan gaan kuier” as hy sou wou.
Die ergste is hulle het 'n “bietjie vryheid” gehad wat skielik weer van hulle weggeneem is, sê nog 'n inwoner.
“Ons kon uitgaan en besoekers ontvang; nou is alles skielik weer weggevat.”
Dis diskriminasie, sê 'n ander. Windhoek is vol van inwoners ouer as 60 wat “doen wat hulle wil sonder enige beperking”.
“Ons in 'n geregistreerde ouetehuis sit agter slot en grendel.”
Sy voel sy sit “in 'n hok” en vertel besoekers sit buite op die sypaadjie en geselsies geskied “oor die draad” en op 'n afstand.
Hulle is egter steeds dankbaar die ministerie “dink aan die oues en doen wat vir hulle die beste is”, beklemtoon 'n inwoner.
“Ons is steeds baie geseën en pak die nuwe situasie met 'n lied in ons hart aan.”
Hy kon sien daar was van die inwoners wat na hul families verlang het in die grendeltyd waarin hulle geen besoekers kon ontvang het nie, sê Berrie Holtzhausen van AlzheimersDementiaNamibia (ADN).
Toe die inwoners van ADN se versorgingsoord buite Swakopmund weer besoekers kon ontvang, was dit die maskers en die sosiale afstand wat hulle geweldig ontstel het, verduidelik hy.
“Niemand kan werklik sê hoe die inwoners dit emosioneel ervaar het nie. ”
“Ek kon egter sien van hulle het verlang, veral dié wat gereeld besoek ontvang het.”
Die oord het vroeg in Maart vir enige besoeke gesluit omdat persone met demensie se weerstand geweldig laag is en hulle 'n hoë risiko vir Covid-19 het.
Die 21 versorgers en hul families het almal op die hoewe gebly en net Berrie het dit verlaat om alle aankope te doen. Sy voertuig en voorrade is deurentyd met sy aankoms op die kleinhoewe ontsmet.
Aan inwoners is sover moontlik verduidelik waarom hulle nie enige besoeke van familie en vriende tydens die grendeltydperk sou ontvang nie.
Met die terugkeer na “normaal” is vir die eerste keer tye vir besoeke bepaal, terwyl besoekers ook aan sekere prosedures onderwerp word. Dit sluit die dra van maskers in, iets wat aanvanklik vir die inwoners moeilik was om te hanteer.
“Hulle het nie hul familielede herken nie en kon ook nie verstaan hoekom sit hulle so ver van hulle af nie. Sommige het verskriklik kwaad geword en hul besoekers weggejaag,” vertel Berrie.
In die eerste grendeltyd is twee van die hoewe se inwoners ook binne 'n kwessie van vyf dae oorlede. In die eerste geval is die man oorlede sonder dat sy vrou, wat op 'n plaas saam met haar kinders was, Swakopmund toe kon reis om hom te kon sien.
Vir twee dogters wie se ma's hier versorg word, was die gebrek aan fisieke kontak die ergste.
“Ek weet nie vir hoe lank sy nog daar vir ons gaan wees nie en om nou nie eens vir haar 'n ou drukkie te kan gee nie ...” sê die een.
Volgens 'n ander dogter kan haar ma nie meer oor die telefoon gesels nie en is 'n “drukkie of ten minste haar hand te vat en mekaar in die oë te kan kyk” die enigste manier om met haar te kan kommunikeer.
Hul ma kan nie meer hoor nie, vertel nog 'n familielid en hulle kon nie oor die telefoon verduidelik waarom hulle nie meer by haar sou kon kom kuier nie.
“Ons was baie hartseer, maar die gereelde whatsapp-boodskappe en foto's wat vir ons gestuur is en die boodskappe wat die personeel van ons aan haar voorgelees het, het baie gehelp. Maar die fisieke kontak is tog op die ou einde die belangrikste.”
'n Vrou wie se man 'n inwoner van die oord is, beskryf die grendeltydperk as “een van die moeilikste tye van my lewe”.
“Die eerste dag toe ek hom weer ná die 'lockdown' kon sien, was dit amper erger as ooit. Dit was asof ek hom van voor af moes leer ken.”
Gereelde foto's en videogrepe van hul geliefdes het wel baie gehelp om die verlange te temper.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie