Die goeie en die slegte
Die goeie en die slegte

Die goeie en die slegte

Leandrea Louw
Leandrea Louw - Dis die einde van die jaar en ek voel verplig om al die wysheid neer te pen wat my 25-jarige self tot nou toe bygekry het.

Of miskien moet ek 'n lys maak van al die Nuwejaarvoornemens. Ons is immers twee dae ver van 'n nuwe jaar en 'n nuwe dekade.

Al weet ek tog te goed dié lysie word verniet teen die yskas geplak: Ons belowe om fiks te raak, minder bier te drink, meer boeke te lees, maar vir wie probeer ons flous? Teen Februarie 2020 is Lysie lankal vergete.

Om oor die afgelope jaar te besin: Daar was 'n baie goeie tye, maar ook baie slegte tye. Ek is seker dat ons almal 'n paar goeie en slegte verhale het om te vertel, maar dit is nie die punt hiervan nie.

Die samelewing het 'n aantal sogenaamde reëls ingestel oor hoe ons moet leef.

Baie keer moet ek myself daaraan herinner dat dié reëls net bollie is.

Dit is moeilik om nie vasgevang te raak in die volgende ‘next best thing’ nie en al die Facebook-memes en -opinies vergemaklik dit nie.

Ek gaan tog 'n lys maak. Lyste laat my voel asof ek my lewe in orde het.

1. Sorg vir jouself

Die eerste ding wat in jou kop opduik as jy dit lees; doen dit. Die afgelope jaar het ek mal ure gewerk en ek het te min gedoen om myself kreatief uit te druk. Ek het ook 'n paar kilogramme opgetel, maar ek pas darem nog in my jeans. Ek hoop dat die nuwe jaar 'n paar veranderinge meebring sodat ek my liggaamlik, geestelik en emosioneel kan versorg. Maar ek kan ook nie wag vir “veranderinge” nie, ek moet begin dóén en glo alles sal uitwerk soos dit moet.

2. Kyk na jou verhoudings

Ek het grootgeword met die siening dat Kersfees gaan oor die gesin wat saam kuier en tyd saam spandeer, terugdink aan die afgelope jaar en uitsien na die volgende jaar. Ons is sosiale wesens, ons floreer deur kontak met ander mense. Ek weet ons raak soms te besig om gereeld 'n Hoe gaan dit-SMS te stuur, maar vind die tyd om te kyk na diegene vir wie jy regtig omgee. Dit wat jy gee, ontvang jy altyd terug.

3. Wees vriendelik

Baie van ons het seer, woede of bitterheid wat ons met ons saamdra. Elkeen dra 'n las, 'n eie kruis. Maar dit kos tog niks om beleefd en vriendelik te wees nie, nie waar nie? Ons leef in 'n wrede wêreld waarin ons elke dag van moord en chaos hoor, en al wie dit kan verander, is onsself. Wees vriendelik, al is die ander persoon so onvriendelik soos die Grinch.

4. Leef 'n doelgerigte lewe

Hieroor word gereeld gepreek, maar dit dra soveel gewig.

Ons is nie op hierdie aarde geplaas net om te werk, rekeninge te betaal en bekommerd te wees nie. Ons is hier vir soveel meer. God het gesien dat die wêreld een van jou nodig het. Elke dag word jy wakker met ‘n hartklop, en dit vir my is ‘purpose’. Verlede week het ek 'n paar goedjies gekoop, en oor ditjies en datjies met die dame by die betaalpunt gesels. Ek het met ‘n glimlag daar uitgestap ná die geselsie. Die volgende dag gaan ek op Facebook en sien sy is oorlede. Sy was 'n paar jaar jonger as ek, en dit het my baie swaar getref. Jy kan vandag hier wees en môre is jy weg, en wat het jy om te wys? Jou doel is miskien nie op dieselfde skaal as dié van Moeder Teresa nie, maar jy het rede om hier te wees. Onthou dit!

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!