Die Ingilse tante en die kambene
Dit was 1972 toe Pa besluit om sy boerderybedrywighede so ’n bietjie af te skaal en die een plaas te verkoop.
Soos die geluk by die ongeluk dit wil hê, is daar ’n Ingilsman wat Pa toe al ’n hele paar jaar lank oor dié plaas pes.
Die Ingilsman vertrek van Walvisbaai af om oor die koopprys te gaan onderhandel, en dié se gade, hoog met die rooitaal gewapen en boonop erg eksentriek, kom saam op die plaas aan.
Pa is alleen, want ons twee kinders en ma is op die dorp by die skool.
Met die aankomslag kom die gesels en vraery maar gebroke aan die gang met hulle wat die rooitaal gooi, en Pa antwoord op sy beste in sy Engels en Afrikaans. Vele vrae word gevra oor hoekom dit nou so is en waarom dit dan nou anders is. Gou snap Pa dat die twee mense so min van boer en plaas weet soos ’n kat van saffraan.
Pa het die storie later met smaak vertel van hoe die twee die aand toe daar vir ete aangesit was, na mekaar gekyk het en nie geweet het of hulle moet gaan slaap of in die kar moet spring en vlug nie. Ieder geval, die ding werk toe só.
Met die namiddagskaduwees wat toe al lank begin word, stuur hy die tweetjies om bietjie op die plaas te gaan rondry terwyl hy iets vir aandete voorberei.
Sy keuse val toe op kambene (vars geslag) met mieliepap. Vir dié wat nie weet nie, kambene is die rugstring van ’n skaap of bok wat op ’n sekere manier gesaag word, wat dan soos ’n kam lyk. Die vleis kook Pa met die gebruiklike uie en aartappels wat net sout en peper bykry. Die mieliepap maak hy sommer lekker styf.
Gasvry soos altyd het Pa natuurlik sy gaste eers op iets te drinke getrakteer, wat dan seker ook hul eetlus aangewakker het. Met die aansit het Pa die maal voorgesit en gebid. Pa sê nog voor dit het die kyke na mekaar al begin en ’n hoogtepunt bereik toe hy die bak kambene op die tafel sit.
Die gesprek kon min of meer só verloop het: Sy: “But Pony, what is that stuff?”
Pa: “Iris, dit is mieliepap.”
Sy: “O, but I am a vegeterian.”
Pa: “Ja, maar jy sal van die vleis hou, dis opgekookte kambene.”
Kyk, pa het nie die vaagste benul gehad wat ’n vegetarian is nie en onverstoord begin skep.
’n Lang grondpad, die vars plaaslug en honger is niemand se speelmaat nie. Die oom het glo redelik stil gebly en geëet en ná ’n ruk eers sy devieste knoppie gedruk en aan haar verduidelik sy moet eet wat op die tafel is, of dood van die honger gaan slaap.
Teensinnig, báie teensinnig het die Ingilse tante toe eers sous op die pap geskep en daaraan begin smul.
Toe volg daar nog skeppe van pap en sous, en toe later ’n happie van die geurige rugstring ook.
Sy: “Mmmmm, Pony, this is nice. What do you call it? I want the recipe as well.”
Pa het glo op sy beste verduidelik hoe die dis voorberei moet word en dit toe daar gelaat.
Later, sê Pa, het die twee mae trommeldik gevul steun-steun gang-af kamer toe verdwyn.
Die oom het die volgende dag vir pa verduidelik van wat ’n vegetarian is.
My pa het natuurlik gelag dat die trane loop vir sy onkunde en die tante wat op die einde van die dag so lekker aan die vleis geëet het.
Vir jare daarna het die twee mense gereeld by Pa vir raad aangekom op pad Saffier toe, maar nooit ooit weer vir enige vorm van ete oorgebly nie.
Pa vertel toe dat hy eendag per toeval net ná sononder op Saffier aankom waar hy terstond vir aandete genooi word.
Stom was sy verbasing toe hulle ’n rukkie later vir ’n kambene-en-mieliepapmaal aansit.
Net soos hy dit sou gemaak het, vertel Pa.
En ja, die antie was die vooreter.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie