Die ligene van die Namib
Die ligene van die Namib

Die ligene van die Namib

Tielman van Lill
Dit is 05:20 toe ek teen my wil langs die pad gestrand staan. Ek was van Henties af na Swakop onderweg, maar my goose het beslis ander planne gehad en my reis wreed ondebreek toe sy viervoetig vassteek.

Soos almal weet wat dié wêreld ken, bevind ek myself in die Dorob Nasionale Park langs die weskus van Namibië. As ek reg verstaan, is dié nasionale park spesifiek geproklameer om bedreigde ligeenvelde van uitwissing te beskerm. Ligene is ‘n uiters sensitiewe simbiose tussen alge en fungusse, wat net op ‘n paar plekke in die wêreld aangetref word (dis nou vir die ouens wat nie weet nie).

By Wlotzkasbaken is selfs ‘n draad van 14 km gespan om die rampokkers daarvan te weerhou om met hul vervlakste “kwats” (vir kwaat) en “fô-baai-fô’s” daar rond te jaag en so dié sensitiewe gebied te beskerm.

Ek het eenkeer ‘n dokumentêr op TV gesien waar die kenner vertel die mens se vernietigingswerk sal vir etlike duisende jare steeds sigbaar wees – en die ligeenvelde sal dan deel van die geskiedenis wees.

Dus sal dié ligene deur die mens vernietig word.

Wit, groen of oranje ligene is die algemeenste kleure wat die andersins barre gebied ‘n spatsel kleur gee. Die plantjie wat tot fotosintese in staat is, groei op al wat ‘n klippie, rots en die kaal grond is, en kan in uiterste omstandighede floreer.

Die alg en die fungus kan nie sonder mekaar bestaan nie en vorm ‘n besonderse vennootskap, waar die fungus die water behou en die alg só ondersteun.

Ligene word ook in die uiterste toestande van die Arktiese toendra, die Atacama-woestyn in Suid-Amerika en Baja Kalifornïe (in Mexiko) en Kalifornïe langs die Stille Oseaan aangetref.

In 2005 is twee ligeenspesies glo met die Russisese Soyuz-vuurpyl die ruimte in gelanseer waar dit vir 15 dae aan ’n suurstoflose lugleegte en uiterste temperature van die ruimte blootgestel was.

Met hul terugkeer na die aarde is opgemerk dié twee ligeenspesies is glad nie beskadig nie!

Nou kyk, ek is nie ‘n kenner nie, maar ek stem saam met die meeste van die bewaringsbewustes wat lief daarvoor is om bome te druk (ek het ook al, maar net ‘n peper- en kameelboom), dat ons ligene beskerm moet word.

Wat my wel pla en ontstel het, is die volgende:

Toe dit daar langs die nuut geboude teerpad begin lig word, sien ek ongeveer 70 m van die pad af ‘n wit kol. As ek dit absolute verwoesting van die omgewing kan noem, is dit steeds ‘n stewige kompliment vir die maatskappy en sy siele wat die pad saamgeflans het.

(Maar wie het hul doen en late daar gepolisiëer?)

Die wit kol is sementwater wat daar oor die grondverskuiwingsmasjinerie se spore uitgetap is en ‘n harde, dik kors gevorm het. Dat dié masjinerie daar en nog verder van die padoppervlak af gery en die aarde omgedolwe het, is duidelik sigbaar.

Maar daar waar die monsters en hul menslike operateurs hul spore gelos het, het die eerste ligene reeds weer vastrapplek gekry en groei mildelik waar daar onlangs niks was nie! Ek was verstom deur die “plantjies” se harnekkigheid en hoewel ek net sewe verskillende soorte daar kon sien, word ‘n verstommende 125 spesies van hulle langs die Skedelkus aangetref.

Dit is weer Desember en mense vang goed aan wat hulle nie normaalweg as regdenkende lede van die Homo sapiens-spesie sou bewimpel nie.

Dink voor jy doen, pas asseblief jouself, ons land en sy fauna en flora op.

Geseënde Christusfees vir iedereen, en voorspoed vir 2019.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!