Die man met die das (||?b ge)
Die man met die das (||?b ge)

Die man met die das (||?b ge)

Maria Eiseb
Maria Eiseb - Nooit het ek gedink ‘n dier sal soveel respek by mense kry nie.

Die donkie is ‘n ander ding, en hy is net nie ‘n gewone dier soos al die ander nie, maar ’n geëerde man met ’n das.

In ons woonbuurte het ons hom genoem “die man met die das”.

Ek weet nie waar die idee vandaan gekom het dat ons so vinning van iets met soveel waarde ontslae moet raak nie.

Kyk, die donkie is ’n dier met baie goeie waarde. Dit is ’n stil, nederige dier en ek het baie erkenning, respek en ook ’n groot aptyt daarvoor. Dis nie sommer enige dier nie!

Tot dusver was donkievleis die beste en lekkerste vleis wat ek in my kinderdae geëet het.

As ek hoor daar word in die pad (||?b ge) geskree, dan het ons van daar waar ons speel, huis toe gehardloop om vir mammie en pappie te sê die donkiesmous is weer in die buurt.

Die verkopers het geweet hulle moet in die Damara-woonbuurte met die smous deurry, want ons het altyd gekoop, ons was gereelde ondersteuners.

Dit was ’n gewoonte om naweke altyd donkievleis eet. Die bure het mekaar ook altyd laat weet as hulle hoor daar kom weer ’n donkiesmous.

Ons het donkievleis gewoonlik buite op die vuur gaargemaak in ’n driebeenpot. Dit het lekker afgegaan met lekker stywe pap en sous.

Jy moes nie ekstra goed in die pot sit nie, net uie, swartpeper en sout, dis al.

Dit was geurig en daar is uitsonderlike skottels daarvoor uitgehou.

Selfs die vadoeke is vir die donkiepot alleen uitgehou - niks moes daarmee meng nie.

My ma was baie netjies en jy het ook nie, nadat jy donkie geëet het, sommer net so in die kooi geklim nie, jy moes bad, maar met warm water sodat alles van die donkie buite bly.

Dit moes nie in die huis ingebring word nie, want pa het nie daaraan geraak nie.

Tot vandag toe het ons groot respek vir ||?b ge.

Daar is ook biltong gemaak van die vleis en ons het dit ook oor die kole gebraai en daaraan gesmul.

Daar was nie jig-goeters en allerhande snaakse siektes wat rooivleis deesdae vir mense gee nie.

Ons ouers het regop geloop nadat hulle met donkievleis te doen gehad het.

Daar was niemand wat by die apteek of dokter ’n draai gaan maak het vir jigpilletjies nie. Jy het ook nie gehoor van hoë bloeddruk by die ouers nie.

Ek sal baie bly wees as ons dit in die slaghuise kan koop, en in polony-vorm kan kry.

Deesdae is dít net so moeilik om in die hande te kry.

Wat het die mense nou eers ontdek wat hulle nie destyds geken het nie? Hoekom is daar nou in die gemeenskap ’n oproer oor donkievleis? Kan ons nie vir ’n slag uitgelos word met ons rykdomme nie?

Ons kinders moet nog eet, hulle het nie genoeg geëet nie, hulle is maar slegs in die proe-proses.

As ons, wat ‘n tydjie gelede begin eet het, ook nog nie genoeg het nie, hoeveel te meer die nageslag?

“Hoewel daar ’n cultural bias aan donkievleis is, is dit lekker vleis, en ek wil lekker aan dié vleis smul,” sê my suster se seun.

Ons, die donkie-eters, het nog nie die dress code van die donkie gechange nie en ek glo nie dit sal ook so vinnig gebeur nie.

Gee ons tyd dat ons genoeg het en eendag self kan besluit hoe ons daarmee wil maak.

Kyk, die ouers het nie van die varieties geken nie en ons, die jongspan, ken hoe om die saak lekker te maak.

Daar is so baie moontlikhede vir die “man met die das”.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!