Die Oshikotostreek

Gerine Hoff
Dis hier!
(Voeg kaart in)


In ’n neutedop
Die Oshikotostreek is die mees oostelike van die sogenaamde " vier O-streke" wat grens aan die Otjozondjupa- en Kavangostreek. In terme van landbou is die streek in twee gedeel: Die noordelike en suidelike streek. In die noorde is landbou ’n belangrike bron van inkomste, terwyl die suidelike streek baie op mynwese en beesboerdery fokus. Omuthiya Gwiipundi (oftewel Omuthiya) is sedert 2008 dié streek se administratiewe sentrum en is sowat 10 km van die Etosha Nasionale Park geleë. Tsumeb het tot 2008 as administratiewe sentrum gedien en dié dorp word vandag nog as die poort na die verre noorde van Namibië beskryf. Die streek se grootste besienswaardighede is die Etosha Nasionale Park en die Otjikoto- en Guinas-meer.


Sien dít!
Etosha
• Die Etosha Nasional Park is een van Suider-Afrika se belangrikste wildreservate. Dit is in 1907 as ’n nasionale park geproklameer en dek ’n grondgebied van bykans 23 000 km².
• Dit is die tuiste van 114 soogdierspesies, 340 voëlspesies, 110 reptielspesies, 16 amfibiese spesies en, snaaks genoeg, een visspesie.
• Die oostelike gedeelte van die park bestaan hoofsaaklik uit die pan - ’n vlak area waarvan die oppervlak in die son skitter, in só ’n mate dat dit jou laat dink daar is water wanneer daar eintlik net ’n lugspieëling is. Dit bestaan uit bykans 5 000 km² se droë, wit modder. Tog, in ’n swaar reënseisoen, kan die pan met water vul en word dit ’n belangrike broei-area vir flaminke.
• Etosha se plantegroei wissel van dwergstruiksavanna en grasveld tot bosveld.
• Toegang tot die park is deur drie hekke: Die Andersson-hek in die suide (vanaf Outjo); die Von Lindequist-hek vanaf die ooste; en die koning Nehale-hek (vanaf die O-streke). Oornaggeriewe is by Okaukeujo, Namutoni en Halali asook die Dolomite- en Onkoshi-kamp beskikbaar.
Otjikoto en Guinas
• Dié twee mere - wat al gesorg het vir baie legendes en mites - is buite Tsumeb geleë: Otjikoto sowat 24 km buite die dorp langs die hoofpad, en Guinas op ’n plaas 32 km verder wes. Laasgenoemde is minder toeganklik en kan net met die boer se toestemming besoek word.
Anders as wat baie mense dink, is die mere nie bodemloos nie. Dit is veral vir duikers ’n gewilde bestemming.
• Otjikoto is in 1851 deur die ontdekkingsreisigers Andersson en Galton ontdek. Hulle het die meer se diepte toe op 55 m gemeet, hoewel dit ook al op 30 m en 90 m gepeil is. Tog het die legende voortgeduur dat Otjikoto bodemloos is. Juis dié idee het waarskynlik daartoe gelei dat die Schutztruppe artillerie en ammunisie daarin gestort het eerder as om dit aan die Suid-Afrikaanse weermag oor te gee. Dekades later het duikers van dié toerusting ontdek en word dit vandag in Tsumeb se museum en ook die Alte Feste in Windhoek vertoon.
Besoekers is welkom en toegangsgeld is by die hek betaalbaar.
• Guinas is heelwat dieper - meer as 140 m - en die vermoede bestaan dat die twee mere met mekaar verbind is. As deel van 'n ondergrondse rivierstelsel, is die meer onthul toe die groot dolomietdak ineengestort het. Rare visspesies is hier ontdek, hoewel dit net baie diep voorkom.


Moet dit nie misloop nie!
Etosha
• Wes van Okaukeujo is die Sprokieswoud - die enigste plek in Namibië waar die Afrika moringa (Moringa ovalifolia) op plat grond groei.
• Wees op die uitkyk vir die swartrenosters, jagluiperds en impalas. Ander diere wat in groot getalle in Etosha voorkom, is kameelperde, olifante, blouwildebeeste, bergsebras, hiënas, luiperds en leeus. Die kleinste bokkie wat hier voorkom, is die Damara dik-dik, terwyl die eland die grootste is.
• Meer as 30 watergate voorsien besoekers van baie goeie geleenthede om wild te besigtig en pragfoto's te neem.
Tsumeb
• Op Tsumeb is die kuns- en kunsvlytsentrum beslis ’n besoek werd, aangesien daar ’n verskeidenheid kuns en aandenkings hier te koop is.
• Die kultuurdorp aan die suidelike ingang is ’n buitelugmuseum wat aan besoekers ’n indruk gee van die alledaagse lewens van die land se mense.
• Die dorp se museum, wat oorkant ’n park met wonderlike ou skadubome geleë is, huisves ’n indrukwekkende versameling minerale wat in Tsumeb se myne ontgin is.
• Die ou De Wet-skag wat bykans sinoniem met Tsumeb is, was eens die hoofingang tot die myn. Produksie hier het egter in 1996 tot ’n einde gekom.
• Die Boesman kulturele dorp op Tsintsabis is ’n besoek werd. Hier demonstreer die Hai||kom hul fassinerende tradisionele vaardighede.
• 'n Besoek aan die Kupferquelle-oord op die dorp word aanbeveel. Hier kan heerlik geswem en ontspan word. 'n Nuwe inkoopsentrum het ook onlangs sy deure geopen.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!