Die ou garde gaan probeer vasklou in 2019
Die ou garde gaan probeer vasklou in 2019

Die ou garde gaan probeer vasklou in 2019

Verskeie verkiesings vind aanstaande jaar in Afrika plaas, maar dit lyk asof die ouer geslag leiers vasbeslote is om aan hul mag te probeer vasklou, skryf Liesl Louw-Vaudran.
Sanet de Waal
Liesl Louw-Vaudran

Minstens 11 presidentsverkiesings gaan in 2019 in Afrika plaasvind.

Dit sluit in verkiesings in Afrika se swaargewiglande Nigerië, Algerië en natuurlik Suid-Afrika.

Saam met Egipte (waar plaaslike verkiesings in Julie beplan word) en Marokko, is dit die vasteland se sterkste ekonomieë.

Tog is dit allesbehalwe bemoedigend om te sien dat leiers in verskeie Afrikalande beplan om aan mag vas te klou, al is hulle oud en sieklik.

’n Mens wonder wat motiveer hulle?

In Nigerië mik die 75-jarige Muhammadu Buhari na ’n tweede termyn van vier jaar as leier. Dit nadat hy reeds in die tagtigerjare as militêre leier aan bewind was.

Net deur na hom te kyk, kan ’n mens sien Buhari is nie gesond nie. Hy bring elke jaar etlike maande in Londen deur waar hy mediese behandeling ondergaan.

Onlangs het ’n video selfs die ronde gedoen waarin vertel word dat hy dood is en deur ’n Soedanse dubbelganger vervang is.

Hy het dit ontken en het in November teruggekeer na Nigerië om sy veldtog te loods vir die verkiesings op 16 Februarie.

’n Mens kan die Nigeriërs nie juis blameer dat hulle sulke vreemde stories glo nie. In 2009 het oudpres. Umaru Yar’Adoua skielik siek geword en gesterf nadat hy maande lank in groot geheimhouding in Saoedi-Arabië was.

ALGERIë EN NIGERIë

In Algerië is die situasie nog erger.

President Abdelaziz Bouteflika (81) is vir die laaste 19 jaar aan bewind, maar is al sedert 2005 in en uit die hospitaal, meestal in Frankryk. Sedert die begin van 2016 is hy in ’n rolstoel en verskyn hy omtrent nooit in die openbaar nie.

Hy word nou deur sy party en binnekring ondersteun as kandidaat vir ’n vyfde termyn in verkiesings in April 2019.

’n Mens het baie simpatie met hierdie leiers wat midde-in hul termyne ook nog teen siekte moet stry.

Die vraag is net, waarom erken hulle eenvoudig nie hul beperkinge en gee iemand anders ’n kans nie?

Buhari kom te staan teen ’n voormalige adjunkpresident Atiku Aboubakar. Daar is ook 76 ander kandidate.

As die verkiesings in Nigerië regverdig verloop en die speelveld is gelyk, kan Buhari dalk wel uitgestem word. Die laaste twee dekades het Nigerië, ondanks sy redelik chaotiese instellings en gebrek aan dienslewering, dit wel reggekry om relatief demokratiese verkiesings te hou. Met byna 200 miljoen inwoners is dit 'n prestasie wat nie te versmaai nie.

Algerië, die vasteland se ander groot olieprodusent, kan ’n mens nie werklik as ’n demokrasie beskryf nie aangesien die weermag tot ’n groot mate die septer swaai en Bouteflika aan bewind hou.

VASKLOU AAN MAG

Buhari en Bouteflika is ook nie uitsonderings wanneer dit kom by die vasklou aan mag ondanks siekte en ouderdom nie.

Die gemene deler onder hierdie Afrikaleiers is dat hul siekte altyd in groot geheimhouding gehul word.

Op die oomblik is Gaboen se president, Ali Bongo, byvoorbeeld al vir weke lank in Marokko aan die aansterk nadat hy glo einde Oktober ook ’n beroerte gehad het.

Groot geheimsinnigheid omhul Bongo se siekte en selfs die Afrika-unie het kommer uitgespreek rondom die leierskapsvakuum in Gaboen.

Hoe kan Afrika-regerings die lewensgehalte van hul inwoners verbeter as die man (ja daar is op die oomblik geen vrou aan bewind op die vasteland nie) aan die stuur bly selfs al lê hulle in die siekeboeg?

’n Hele nuwe geslag jong Afrikane staan reg om oor te neem as hulle net die kans gegun word.

* Liesl Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!