Die seun in die blikskuitjie
Daniel Hugo - Ek huil selde – waarskynlik nie meer as tien keer in die afgelope vyf dekades van my volwasse lewe nie. Dit is een keer elke vyf jaar. Dit beteken nie ek is ’n gevoellose buffel nie, maar ek roem my wel daarop dat ek nie sentimenteel is nie. Ek raak ontroer, maar sonder trane, en om dieselfde redes as ander sensitiewe mense. ’n Sterk prikkel tot ’n emosionele opwelling kan ’n estetiese ervaring wees: ’n natuurtoneel, musiek, ’n skildery, ’n gedig.
Die rede waarom ek hier oor my gebrek aan tranerigheid bieg, is die bevrydende bloemlesing Poems that make grown men cry. Die samestellers het 100 mans gevra om ’n gedig te kies wat hulle tot trane dryf en om ook kortliks te verduidelik wáárom. Bekende skrywers, akteurs en akademici het bydraes gelewer. Een van die kortste uiteensettings kom van die filmmaker Mike Leigh. Hy het ’n gedig van Charles Bukowski gekies, met die volgende kommentaar daarby: “Near the bone. Strikes a chord. Takes me back. Hits a nerve. Brings a lump.”
Klaarblyklik nie ’n man wat graag oor sy gevoelens praat nie (daarom die verrassende aaneenryg van clichés) of ’n traan in die openbaar stort nie (dit bly by ’n knop in die keel).
Ek het nog net een keer in my lewe gesien hoe ’n gedig ’n volwasse man só ontroer dat hy begin huil. Dit was Nic de Jager wat in die radio-ateljee van Seepunt in Kaapstad Leipoldt se “Oom Gert vertel” vir my poësieprogram kom lees het. Dié gedig vertel die verhaal van die teregstelling van twee Kaapse rebelle tydens die Anglo-Boereoorlog.
Die vertellende Oom Gert raak self van tyd tot tyd bewoë en gee dan voor dis sy toehoorder se sterk tabakrook wat sy oë so laat traan. By die teregstellingstoneel kon Nic dit ook nie meer hou nie. Deur die glasgordyn tussen die opname-ateljee en die kontrolekamer, waar ek gesit het, kon ek sien hoe die trane oor sy wange rol. Maar as professionele stemkunstenaar het hy voortgelees, en die kraak in sy stem het ’n egtheid aan die gedig verleen, soos wat ek nog nooit weer gehoor het nie.
Het ek al oor ’n gedig gehuil? Nee. Maar ek het al ’n keer of wat, soos Mike Leigh, ’n knop in die keel gekry. En om dieselfde rede as hy: Die gedig maak ’n herinnering wakker, dit verwoord ’n gedeelde ervaring. “Near the bone. Takes me back.”
’n Gedig wat my telkens swaar laat sluk, is N.P. van Wyk Louw se “Die wind in die baai . . . ” En toevallig speel die versgebeure af in Clifton, baie naby aan Seepunt:
Die wind in die baai het gaan lê; en rondom
het dit oor Houtbaai, oor Kampsbaai
en by Seepunt wit koppe bly waai.
Maar, in die baai het die wind gaan lê:
alles wil toegesluit lyk – byna veilig –;
en ’n seun het in ’n blikskuitjie uit,
sakdoek vir seil
– sonder fletter – , plankies vir roeiers,
dit uit-gewaag
– want die wind oor die baai het gaan lê.
En ons bid na die berg, die wind, die planeet toe
om alles wat wind-berg-planeet se aard is
af te lê, en ’n oomblik (’n oomblik!)
net te broei, broei oor die vrees vir die vrees
en die ongewete roei van die seun
in hierdie kort stilte binne die baai.
Hierdie skerp visuele voorstelling van jeugdige kwesbaarheid, van bedreigde onskuld, tref my altyd diep. Veral die kosmiese perspektief op “die ongewete roei van die seun” slaan my asem weg. Gaan dit oor die digter se eie seun?
Dan is dit ook ’n vers oor ouerliefde. Die slotreël eggo inderdaad een van Louw se vroeë liefdesgedigte, waarin die vrou beskryf word as “’n laaste kuil van stilte tussen riet”. Die stil baai en die stil kuil is albei geborge ruimtes waarin die liefde kan bestaan. Maar vir hoe lank?
Watter persoonlike herinnering roep hierdie gedig op? As seuns het ek en my broers in Windhoek tydens die Namibiese reënseisoen ook met selfgemaakte blikkano’s op ’n kuil tussen riete in die Gammamsrivier gaan roei. Tydens ’n onlangse besoek aan Windhoek het ek ’n gedig daaroor geskryf – maar sonder Van Wyk Louw se verbluffende kosmiese dimensie.
Gammams
Vir Ma Marieta
tussen jou rietbegroeide oewers
het ons in kano’s geroei, vier broers
songeblaker, geborge, ongebodder
oor die beroerders van daardie land
ná vyftig jaar verlang ek, skoon van koers
na jou lou en moederlike modder
jou suiwer, nugter sand – Gammams,
rivier met toegeboude oewers
Windhoek, 18 April 2019
Net soos by Louw gaan dit oor ouerliefde, maar nie ’n pa s’n vir sy seun nie – wel oor die wedersydse liefde tussen ma en seun. Daarom is die gedig aan my ma opgedra op haar sewe-en-tagtigste verjaardag, daarom word daar ’n verband gelê tussen die “Ma” van die opdrag en die “mams” van die Gammamsrivier, en daarom ruis die “riet” in die naam Marieta voort op die “rietbegroeide oewers” van daardie herinneringstroom.
Dit is dan die insig wat Poems that make grown men cry by my tuisgebring het: Dit is makliker om in ’n gedig te huil as oor ’n gedig.
Bron: Anthony and Ben Holden (eds.): Poems that make grown men cry, Simon & Schuster, London, 2014.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie