• Tuisblad
  • Menings
  • Die sirkusvarkie, 'n suikerwaterbolla en 'n gereedskapkis
Die sirkusvarkie, 'n suikerwaterbolla en 'n gereedskapkis
Die sirkusvarkie, 'n suikerwaterbolla en 'n gereedskapkis

Die sirkusvarkie, 'n suikerwaterbolla en 'n gereedskapkis

Henriette Lamprecht
Die volgende is 'n gebaseer op ­elemente losweg te vind in die werklikheid, maar met 'n vrye omgang met alternatiewe feite gebaseer op elemente losweg te vind in fopnuus. Die aandik is bloot vir dramatiese effek en laat ek nou maar byvoorbaat bieg, om die verpligte aantal woorde op 'n Maandag ná 'n traumatiese ervaring met 'n polisiebakkie op papier en in 'n kolom te kry. Ook word gebruik gemaak van skuilname om die identiteit en ego van fiktiewe karakters te beskerm.

Kom ek begin by 'n dogtertjie met die naam Klaradyn. Oulike kind, lief vir dans, kuns en drama, 'n regte sirkusvarkie. Klaradyn se ma is net so oulik, ook lief vir dans en kuns en drama, maar met bitter weinig ervaring op die gebied van kompetisie. Klaradyn se ma is van die opinie dis genoeg as sy in die skuilte van haar huis 'n kompetisie op die kassie kan kyk. Klaradyn se dans, kuns en drama lei egter tot kompetisie.

'n A4-folio beduie wat is alles nodig vir Klaradyn se eerste dansbuiging op die verhoog. Met die klere vir die buiging gaan dit relatief klopdisselboom. 'n Bietjie van 'n hobbel in die pad toe die danshempie stywer sit as wat vir die item beplan is, maar bietjie rek en strek en dis nommerpas. Die opdrag vir die grimering en hare om by die klere te pas, is egter 'n ander storie. Dit ten spyte van 'n prentjie wat die opdrag vergesel en in grafiese besonderhede verduidelik waar moet jy watter deel van die gesig inkleur en waar jy watter bondel hare moet "tease".

Klaradyn se ma doen wat sy kan. Gaan koop 'n kam vir "tease" en haarsproei, klits die kind se bolla dat dit lyk asof sy van Windhoek tot Koës agterop 'n bakkie in 'n wille wind gestaan het. Om die geklitste bolla sinvol en danskompetisierig te laat lyk, vou sy dit in soos 'n meringue totdat dit soos die opdrag se prentjie soos 'n kropduifie se bors lyk. As 'n nagedagte en 'n onthou van 'n wenk vir 'n ontspanne gasvrou/ma, meng sy suiker met water, gooi dit in 'n leë toiletsproeibottel en sprits die kind se bolla met 'n goeie maat suikerwater. Klaradyn wip, haar hare nie. Regmerkie by dié deel van die opdrag.

Die grimering gaan ietwat moeiliker. Klaradyn se ma is wat 'n mens op diplomatieke wyse sal na verwys as 'n ongekunstelde skoonheid met 'n mooi persoonlikheid. Jip, jy verstaan wat ek bedoel. Haar grimering is 'n versameling oogpotlode in 'n blik wat vir haar mooi is. Iewers tussenin is 'n maskara en 'n houertjie oogskaduwee ook, maar dié het lank terug opgedroog en verbrokkel in klein korreltjies bruin. Darem 'n lipstiffie of twee ook.

By die kompetisiesaal staan motors in rye. In die saal sit mense in rye. In die kleedkamers ma's en dogters in rye. Klaradyn en haar ma versteen op hul eie. Omring deur alles behalwe ontspanne gasvroue/ma's. Gereedskapkissies wat met die knip van 'n knip in drie dekke uitskuif. Dek 1: grimering in alle kleure en vorms. Dek 2: haarbykomstighede, rekkies, strikkies, balletjies. Dek 3: Versnaperinge vir kompetisiekinders in die vorm van boksies, broodjies en B12.

Klaradyn en haar ma staan net. Doodstil. Klaradyn met haar suikerwaterbolla en haar ma met 'n sak van die Quickshop met 'n Huisgenoot, tjoklit en 'n sappie.

Klaradyn se ma sien hoe iemand haar dogter aan die arm nader trek voor 'n spieël en 'n boks grimering in.

“Kom my kind, dié tannie sal jou reghelp,” klik sy simpatiek met haar tong, gooi 'n "wat vir 'n tipe ma is jy"-kyk in Klaradyn se ma se rigting, trek die driedekkis nader en begin grimeer en stileer.

Klaradyn se ma is verneder-verlig, hap aan die tjoklit in die ­

Quickshop-sak en besluit om die Huisgenoot uit te haal, is nie nou 'n goeie ding nie.

Letterlik enkele minute later staan Klaradyn in haar volle glorie op die verhoog. Staande ovasie, medalje om die nek. Klaradyn se ma trots-verlig tot die volgende kompetisie . . .

*Geen ma's, kinders of honde is in die skryf van die kolom beseer nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!