Die vrese van ma-wees
Die vrese van ma-wees

Die vrese van ma-wees

Tanja Bause
Tanja Bause – Zia het uiteindelik besluit om haar verskyning in die wêreld te maak ná sy ’n bietjie langer gevat het as wat die doktor en haar ma verwag het.

Ek dink sy het net gewag dat haar naels en hare gegroei het en dat sy mooi is, want ’n prinses kan nie net sommer só die wêreld binnekom nie.

Ouma was die rustigste, want sy’t geweet presies wanneer sy reg is om die wêreld aan te pak.

“Wees julle net rustig. Sy kom op die 16de, en klaar. Julle kan aangaan en hoop, maar sy kom dan eers,” het sy rustig gesê terwyl al die ander mense rondgehol het en asem opgehou het as Zia net ’n bietjie hard geskop het.

En so was dit ook.

Die vreugde van so ’n klein gesonde, perfekte ou dingetjie is groot, maar die opgewondenheid word vinnig met angs van wat die toekoms inhou, vervang.

Sal ek ’n goeie ma wees? Kan ek dit doen? Doen ek dit reg? Wat as ek ’n fout maak? Wat as ek nie goed genoeg is nie?

Ek het onlangs dié gesprek met my ma en Zia se ouma gehad en gehoor hulle het dieselfde vrese gehad.

So deur die jare en dekades heen het elke ma seker maar dieselfde bekommernisse oor hul kinders en hul toekoms.

Ek dink as jy jou kind met waardes en respek grootmaak – respek vir ander mense en hulself, vir diere, die natuur en omgewing, vir die wêreld en die lewe in sy geheel – is jy al op die regte pad.

As ons almal respek vir dié goed gehad het, sou ons baie minder probleme in die wêreld hê.

As ons almal die natuur, omgewing en diere gerespekteer het, sou die wêreld nie in so ’n tragiese toestand gewees het nie.

As ons nie al die vis wat ons oor ’n Desember vakansie vang, hou nie en net hou wat ons familie kan eet en gebruik, het ons nie jaar ná jaar gekla daar is nie meer vis nie.

Ek het by iemand gehoor, en ek is seker dis nie die enigste mense nie, wat met trots vertel hy het ’n hele vrieskas vol vis.

Hy gee die vis nou weg, want as dit nie binne ’n paar weke opgeëet is nie, is dit oud en hy gooi dit sommer weg.

Dís iets wat jy jou kind van kleins af kan leer: Moenie gulsig met die natuur omgaan net omdat dit nou vir jou iets gee het nie. Sit terug en hoop daar is vir môre nog iets oor.

Moenie jou vullis in die natuur gooi nie. Jy het dit soontoe gevat, so vat dit weer huis toe, waar jy ordentlik daarvan ontslae kan raak.

Ons almal wat gereeld in die mooi land van ons rondreis, sien dit amper daagliks meer en meer vervuil.

Ek praat nie net van Rundu, wat ek ná ’n lang tyd weer besoek het en verstom moes toekyk hoe mense deur vullis loop nie – daar’s vullis wat in berge langs hul huise en op straat lê.

Ek praat ook van ons hoofpaaie, waar met elke reis meer en meer bottels langs die pad lê. Baie daarvan is drankbottels wat eenvoudig uit voertuie gegooi word.

Ek dink elke kind moet van kleins af verantwoordelikheid, werksetiek en stiptelikheid leer.

Gee vir hulle ’n troeteldier waarvoor hulle verantwoordelik kan wees.

Ek sien te veel jongmense wat deur die lewe gaan asof die wêreld hulle iets skuld.

Jy is verkeerd. Niemand skuld jou iets nie, en die dag wat jy dit agterkom, is dit dalk al te laat.

Jy moet werk vir als wat jy wil hê, niks kom net na jou toe nie, niks in die lewe is verniet nie en niemand skuld jou iets omdat jy hier is nie.

Ek is nie self ’n ma nie, en dié basiese opvoedingsriglyne kom maar uit gesprekke met my ma en Zia se ouma, en dit maak sin.

Ek dink as ma het jy baie vrese, maar jy kan net vir jou kinders ’n goeie grondslag gee.

Wat hulle uiteindelik daarmee maak, is hul besluit en nie in jou hande nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!