Die waterkrisis: Lekkasies
Die waterkrisis: Lekkasies

Die waterkrisis: Lekkasies

Dani Booysen
Waterlekkasies is altyd onverwags.
Lekkasies is duur. Deur lekkasies vroeg by die huis en werk te vind, kan jy geld en water bespaar.
Doen 'n lekkasietoets oor 'n tydperk van minstens ses ure. Maak seker alle krane is toe en geen water behoort gebruik te word nie. Baie klein lekkasies kan 'n tyd neem om te registreer. Lees die watermeter om te sien of enige water verlore gaan.
Op jou watermeter verteenwoordig die syfers met 'n wit agtergrond duisende liters, met ander woorde kubieke meter of kiloliter. Afhangende van die soort meter, verteenwoordig die syfers met 'n rooi agtergrond van links na regs honderde liters, tientalle liters, liters en tiendes van 'n liter.
Dit is goeie praktyk om minstens een keer per jaar 'n lekkasietoets uit te voer.

GROOT EIENDOMME
As die waterinfrastruktuur redelik groot is, is dit gepas om isolasiekleppe (met watermeters) by strategiese punte in takke van die pypwerk te installeer waar water byvoorbeeld na sekere geboue of eindpunte vloei. Dit is goed vir doeltreffende waterbestuur en lekkasies kan maklik gevind word. Wanneer jy weet waar 'n lekkasie is, vergemaklik dit herstelwerk en verminder ontwrigting.

PYPWERKE
Dit is die beste om ou, gegalvaniseerde yster- en staalpype te vervang, want sulke pype se leeftyd is beperk, veral nadat daar twee lekkasies binne 'n jaar plaasgevind het.
Wanneer lekkasies voortduur, is 'n behoorlike ondersoek nodig om die toevoer na en gebruik by sekere waterpunte te ontleed.
Indien jy steeds nie tevrede is nie, kan isolasiekleppe vir alle pype geïnstalleer word wat uit die hooflyn/sentrale waterpyp vertak. Die bestuur van lekkasies vind dan plaas deur alle die kleppe toe te maak en/of een vertakking op 'n slag oop te maak om vas te stel of enige water verlore gaan.
Sodra 'n lekkasie gevind is, herstel dit en voer nog 'n toets/e uit om seker te maak daar is geen meer lekkasies nie.
As daar steeds probleme is, kan 'n tydelike pyp aan die watermeter gekoppel word om bogronds die verbruik na die huis of ander punte te meet.
Eerder as om die hele pypstelsel op te grawe, kan herstelwerk by die korrekte en beste plekke plaasvind.

PROBLEME ELDERS
Wanneer jy geen lekkasies kan vind nie, maar verbruik bly baie hoog, moet verbruik vir spesifieke aktiwiteite noukeurig gemonitor word. Lees die meter/s drie keer per dag om verbruikspatrone vas te stel.
Sodra vasgestel is waarvoor te veel water gebruik word, kan oplossings gevind word om verbruik te verminder.
Alle waterpype moet van minstens klas 12-standaard wees en op 'n sandbedding rus. Klippe/rotse kan pype met tyd beskadig. Pype moet minstens 600 mm onder die grond loop. Opvulwerk en kompaktering is nodig om te verhoed dat pype sak. Ryp en roes kan bogrondse pypstelsels beskadig.
Onthou: Alle lekkasies aan die verbruikers se kant van die watermeter is vir die rekening van die eienaar.
• Bydrae verskaf deur die munisipaliteit van Windhoek se afdeling vir die bestuur van wateraanvraag. Lesers kan vrae oor waterbesparing aan Republikein stuur vir beantwoording deur die munisipaliteit.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!