Die wêreld skrop nes in my jaarts
Watwou Google, reisgidse en sommer die hele sosialemedia-boksemdaais. Ek leer deesdae die wêreld in my eie agterplaas ken.
Die afgelope nege maande het ek en my gesin ge-parlez Français, Finland leer ken, ’n draai in die Alpe gegooi, maagpyn gekry van vreemde Maleisiese kos en Amerika binnekant buite toe ervaar.
Ons het deel geword van die immergroeiende Airbnb-gemeenskap. En sodoende van die interessantste, liefste en soms ook vreemdste mense leer ken.
Stéphane, die Franse diplomaat, het ’n goeie drie maande in die kothuis gewoon en familie geword. Hy het my papierdun Franse crèpes leer bak en sy geheime broodresep met my gedeel. Die Franse haute cuisine-tantes, soos Julia Childs en Ginette Mathiot, kan maar gaan slaap!
Tydens die uitgerekte kuiers saans om die eetkamertafel het ons gehoor hoe hy op 15 verlief geraak het op ’n Brasiliaanse meisie wat ’n klavieruitvoering in Parys gegee het. Hulle het ewige trou gesweer en drie kinders, ’n stuk of vyftien pleegkinders en talle vastelande as beroepsdiplomaat later blom die liefde steeds.
Dan was daar die Finse advokaat (Joska, as ek reg onthou) wat ’n kenner is van internasionale waterregte en meen die oorloë van die toekoms gaan oor water gevoer word.
En hy’s reg. Gaan lees maar op oor die hoeveelheid damme wat Indië en China in die opvangsgebiede van die Himalaja’s beplan en die impak wat dit op die ekostelsel en hervulling van grondwaterbronne gaan hê.
Jon, die Alaskiër, was ’n ewe interessante gas. Hy is ’n deeltydse visserman wat in die salmseisoen sakke vol geld maak en die res van die jaar ander mense se logistieke en ander probleme fix.
Jon se ouers is fanatieke ondersteuners van die Minnesota Vikings. Sy ma het 39 jaar gelede met hom in kraam gegaan toe dié voetbalspan opgedraf het vir ’n maak-of-breek wedstryd teen die Chicago Bears. Sy pa het gevra sy ma moet grootseblieftog met die geboorte terughou, maar teen halftyd was hy daar.
Toe mense later wou weet hoeveel hy geweeg het, was haar antwoord: Ek weet nie, maar die telling tussen die Vikings en Bears was 20 – 10.
En dan was daar Helen, die antropoloog met ’n post-doktorale studiebeurs van Harvard, wat kom navorsing doen het onder die Twa-mense van Noord-Namibië en Suid-Angola. (Ja toemaar, ek het ook nie geweet wie die Twa is nie.)
Sy het op die grens van Mexiko in Las Cruses, Nieu-Mexiko, grootgeword in die tyd toe Pablo Escobar se dwelmkartel ’n skrikbewind in die gebied gevoer het. Én, vertel sy, buiten dwelmsmokkelary is daardie gebied ook bekend vir sy troppe gemsbokke.
As kind het sy gedog dit is inheems aan Nieu-Mexiko, maar het later vasgestel 93 gemsbokke is tussen 1969 en 1973 deur prof. Frank Hibben, ’n argeoloog, uit die Kalahari daar hervestig.
Vandag is daar glo digby die 5 000 gemsbokke in dié suidwestelike deelstaat.
Soos ek gesê het: ons reis goedkoop en moeiteloos sommer so in ons eie jaarts.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie