Dis soos om te toor
“Om te skryf is soos om te droom terwyl jy wakker is. Dis soos om te toor.”
Sy't vir my sin gemaak, sy wat Jeanne Goosen is. En so dikwels die sin in goed oopgeskryf wat donker en toe gebly het en waarvoor ek, wel, nie die woorde voor kon kry om dit self in sinne te verwoord nie. My woorddier.
“Wanneer ek die dag 'n gedig skryf, ís dit vir my 'n 'noodgeval'. Ek moet dit dán doen, anders word ek siek en onregeerbaar en bakleierig. Skryf laat my beter voel. Vir my is dit iets soos om sekere gevoelswaarhede bokant die intellektuele analise te stel, maar sonder om die rede te verwerp. Surrealisme is ook vir my 'n lekker wegkruipplek.”
Buiten 'n onverskrokke skrywer was Jeanne op haar dag ook 'n joernalis in die 1980's en was die koerant volgens haar “die enigste plek waar ek eintlik rêrig ingepas het”. Dinge wat vir haar in ander beroepe nie lekker uitgewerk het nie, was hier tot haar voordeel het sy gesê. In haar tyd in die joernalistiek het Jeanne vertel moes joernaliste betrokke raak by die onderwerp en nie by die mense oor wie jy skryf nie. Toe raak almal met almal bevriend, vertel sy in 'n onderhoud en is vandag se joernaliste hand om die blaas met elke storie wat hulle skryf.
In 'n resensie in Die Burger skryf EC Brits Jeanne se neiging om bisarre verhaalsituasies op te bou of om oor ontstellende sake soos lyke en begrafnisse te skryf, hou alles verband met haar 'gekwelde gees'. Agter die soms grappige verbeeldingsvlugte en die pront styl, skuil “verskriklike gevoelens” sê Brits.
Jeanne hou van mense wat “nie heeltemal kosher is nie,” erken sy teenoor Danie Marais (Die Burger, 15 Maart 2013), “en arm buurte”.
“Daai mense skep taal. Kierkegaard het gesê taal is situasie-gebonde, maar ons is al so normaal en ghrênd ons het nie eintlik meer 'n situasie nie. Daai mense hét en die taal wat daaruit voorkom, is absoluut wonderlik.”
In 'n stadium vertel sy in 'n onderhoud hoe baie sy as verslaggewer in Pretoria-Wes gekom het wanneer daar 'n moord of 'n “huisbaklei” was. Hier het sy “nogal baie tuis gevoel” en kon iets in haar hul situasie begryp.
“My stories skryf hulleself. Daar's geen mistieke proses nie. Al wat ek doen, is om mense dop te hou. En dis die sogenaamde 'laer klas' wat my van kleinsaf gefassineer het. Daar is 'n goudmyn van temas, verhale, volkskultuur, bygelowe, trots.”
Deel van haar biografie op Litnet onthou sy hoe sy op haar eerste skooldag negeuur die aand deur die polisie opgespoor is waar sy iewers in die onderdorp saam met “'n regte klomp fietas, 'n gesin van twaalf kinders”, in die straat gespeel het.
“Ek het sommer saam met hulle huis toe gegaan. Dit het so lekker gelyk.”
Daar's mense wat dink haar kragtoer Ons is nie almal so nie is snaaks, het Jeanne gemor. “Ek is glad nie f...n snaaks nie. Ek is doodernstig.”
Sy verstaan ook nie mense wat sê hulle wil met vakansie gaan om hulself te vind nie. Eintlik wil sy net haarself verloor het sy ook op 'n keer gesê.
In 'n onderhoud met Elmarie Rautenbach sê Jeanne sy is intens eerder as moeilik, 'n “baie intense, emosionele mens wat met al my gevoelens op my mou loop”. 'n Naïewe mens met 'n militante stem wat geweld haat. So sê sy.
En wanneer die Swart Hond aan haar hakke kom lek het soos wat haar familiegeskiedenis van endogene depressie vertel, dan sien sy geen siel nie. Lees niks en skryf niks. Maar kook en plant en luister musiek en skilder mure.
As sy veras word, moet iemand Mamy Blue sing, het sy gesê. En as die rokie opgaan 'I've got rhythm'.
Jeanne Goosen is op 3 Junie 2020 dood. Ons is so baie soos sy. (Bron: LitNet)

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie